DKW

  • 8

Duitse Kakwa is die eerste woorde wat ek werklik herken het na Ra Mavenster met die blou gevaarte opgedaag het.

Auto Union. Staatmaker sonder weerga. Hierdie betrokke model was die luukse ene. Die sedan. Met die deure wat na mekaar toe oopgemaak het. Met die inklimslag het jy die ou muwwe reuk gekry van ou leerbekleedsel wat baie jare hul tyd verby is maar nog steeds kraakvars was. Met 'n kraak hier en daar weliswaar. Wit bakeliet (of iets soortgelyks) stuurwiel. Groot genoeg dat selfs die passasiers jou kon help bestuur. Aaneen sitplekke voor en agter wat veral in die destydse inrye handig te pas gekom het as julle meer as twee was ... Onder die stuurkolom die handvatsel wat die materiaal oor die radiator getrek het ingeval alles toegesneeu is en jy daardie ekstra hitte binne die binnebrand nodig had. As die hele wêreld toe is onner die sneeu.

Hierdie was, soos ek beduie, die luukse model so jy het elektriese rigtingwysers gehad en nie die flappe wat die gepeupel moes gebruik om aan te dui watter kant toe hulle wil draai nie. Of was dit bloot net die vorige model? Vertrou die Duitsers om 'n standvastige ryding aanmekaar te sit met die fynste details denkbaar. Selfs al is dit nou 'n model beter as die getroue allemanskar ,die Volla.

Ek onthou hierdie lelike blou (vertrou die Duitsers om altoos met die lelikste kleure ooit vorendag te kom ... wel destyds) met die wit teen die kante. Nie babablou nie. Baie meer as babablou. Amper donkergroenblou as jy verstaan wat ek bedoel.

Tog, die ding se motor het gedraai as jy die ou sleutel gedraai het. Getrou. Nie altyd gevat soos 'n Ford nie maar wel met die tyd saam gevat. Na 'n paar proesslae het die ou Duitser geput-put-put soos net 'n DKW kon. Ek onthou hoe ver mens kon ry met 'n vyf rand se petrol. Hoe die ou Duitser op "fumes" gery het. Lank voor die moderne tegnologie jou effens beter kilometers per liters kon gee. Maar die beste herinnering aan die ou DKW was nie sy brandstofverbruik of die muwwe reuk van die ou behoorlike leersitplekke (ek is redelik seker hulle het 'n bees per motor gebruik) of die gebrek aan elektriese vensters of lugreëling nie.

Al ooit gevry op enige voertuig of vaartuig se voorsitplek? Kannie gebeur nie. Tensy jy 'n akrobaat is, of tensy jy 'n DKW het. Want met die DKW het jy nooit nodig had om te koes vir rathefbome, handremme, en dergelike onnodighede as mens haastig is om van noodsaaklike goed ontslae te raak nie.

Groete uit Oesterland

oester

  • 8

Kommentaar

  • George Bekker

    Oester ek onthou die DKW waaroor jy skryf, maar wil die storie nog verder terug vat. Ek het nog nie in 1939 gelees nie, maar kan goed onthou dat ek iewers op 'n advertensie in Afrikaans afgekom het – moontlik was dit 'n ou Huisgenoot - wat ek 'n hele aantal jare later iewers raakgeloop het. Die skokkende deel van die advertensie was die prys van die nuwe motor – ek dink dit was net minder as 100 pond! Dit was selfs destyds 'n uitsonderlik lae prys. Die bak was van hout gemaak en vir beskerming was dit oorgetrek met “rubberoid”. Dis 'n materiaal wat bv op houtdakke geplaas word vir beskerming. Hierdie DKW het wel gewone metaal modderskerms gehad.

    Natuurlik het ons as klein seuntjies ook die lelike naam vir die DKW gegee – immers hy het ports-geluide gemaak sover hy gegaan het. Die oorspronklike naam was Deutsche Kleine Wunder. Beste wense.

  • In ou Suidwes het ek as jongman baie rondgerits in 'n DKW Jeep met sy skuins modderskerms. Daai ding met sy 3 spoed ratkas en "2 stroke" enjinkie het geklim waar die bobbejane al opgegee het.

     Jammer sulke speelgoeters verdwyn altyd.

  • Oester, die DKW was voor my tyd. In my dae was dit die VW kewer. As jy nog nie in 'n kewer 'n meisiekind omgedop het nie, het jy nog nie gimnastiek gedoen nie. 

  • Bietjie vergeet van die Franse se 404 Peugeot se voorste sitplek. Behalwe as jy per geleentheid jou pa se 404 stasiewa kon kry...

  • In die laat 1950's het my pa met sy Opel gery in die berge by Barkly-Oos. Toe die ratte vir die soveelste keer ingee, het hy hom net daar en dan verkoop en 'n DKW tweedehands op Barkly gekoop. In 1960 - ek was toe veertien - het ons verhuis na Oos-Londen en vir 'n paar maande buite die stad gewoon by Dawn. Elke oggend is ons met my pa saam skool toe in die karretjie. Ek, 'n ouer suster en twee jongeres. Dit was 'n baie lekker karretjie en ek hou meer van die naam "Deutsche Kleine Wunder". Hy het nooit moeilikheid gegee nie.

    Smiddae moes ons met die bus ry tot by die Southernwood Spoorwegstasie, waar ons die jongste twee kry. Die laerskool was net daar naby. Die jongste dogtertjie was toe pas in Sub A (Graad 1). Vandaar moes ons per trein na die Horsehoe Stasie naby Dawn, dan te voet tot by die huis.

    Eendag "vergeet" ons die jongste en kom by die huis aan sonder haar. Daar is toe paniek, sy is net ses jaar oud en alleen in die stad. Maar die buksie, pragtig in haar skooluniform, het dapper met Oxfordstraat aangestap en mense gevra waar is Sanlam, waar my pa gewerk het. Sy kry dit toe redelik maklik.

    My pa was natuurlik kwaad vir ons en het ons amper gefoeter, want hy was in 'n vergadering toe sy daar aankom.

    Ek het net goeie herinneringe (andersins) van die DKW en verlang na daardie tye.

    Ek dink die tweeslag enjins het ongewild geword oor die olie wat by die petrol moes kom, wat seker baie bygedra het tot lugebesoedeling, met 'n groot koolstofspoor.

    Groete,

    Varkspek

  • Ek het in 'n stadium, as student, 'n rooie gehad en hy het geloop soos die wind.  Om 'n DKW warm te maak het jy net "sy top geskim en sy ports gepolish" en hy was soos 'n perd wat daggablare gekou het; jy moet net keer.  Ek kan onthou hoe verbaas 'n vriend van my was toe ek hom met sy Triumph Spitfire weggery het.

    Na ek die rooie per ongeluk in 'n ongeluk afgeskryf het het ek 'n groene gekoop vir R150. Die ou by wie ek hom gekoop het, het gesê die radio in die kar kos R160 kan jy glo.  Ek het dus eintlik minus R10 vir daardie DKW betaal.  Die radio was wel goed want ek het die sokkereindstryd tussen Holland en Duitsland ('74)  in die kar gaan sit en luister.

    Ek kan nie onthou wat ek vir die rooie betaal het nie maar voor ek die groene gekoop het sou ek een koop vir R50 maar voor ek kon betaal was die ding in 'n ongeluk, die ou wat hom sou verkoop se tuinboukundige assistent het ook 'n oog op die kar gehad en toe dié hom vir 'n toetsrit vat beland hy in 'n ongeluk.  Nogal 'n eienaardige ongeluk want, behalwe vir 'n klein duikie, was al sy ligte stukkend en herstelwerk sou die prys ver verby dié van die groene stoot wat volgende op die lys was.

    Snaaks hoe die toeval werk.  Ek en 'n paar medestudente sit eendag in die kafeteria en die een ou vertel hy ry saam met 'n vriend in die se nuwe kar en hier vlieg 'n DKW van nêrens af in hulle vas.  Sy vriend was baie kwaad en toe hy sien die DKW se bestuurder is iemand wat volgens hom definitief nie versekering het nie word hy nog kwater, klim uit die kar en slaan al die ligte van die DKW met 'n moersleutel stukkend.

  • Wat is dit met die tuinboukundiges? 'n Vriend van my se pa was die burgemeester van 'n stad in die Oos-Kaap en het Jafta die oom se ampsmotor vir 'n pretrit geneem. Gelukkig het die polisie hom voorgekeer in 'n padblokkade. Geen skade gewees nie.

  • Daar is verskeie name vir die DKW. Ek ken nie almal nie maar het ook bietjie ge-Google en sien dat die naam as Dampf-Kraft Wagen aangegee word. Net 'n verlangse aangetroude familielid van my het so 'n motor gehad. Kan nie veel van die kar onthou nie, behalwe dat iemand dit aan my genoem het dat dit moontlik 'n voorloper van Audi was. As jy na die kenteken van die motor kyk is dit dalk 'n moontlikheid. Ek kan verkeerd wees, ek dink dit was in 1966/67 se koers toe die eerste Audi motors hier aangeland het. Dit was die Audi 90 as my geheue my nie in die steek laat nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top