Ras. Ek glo nie iemand weet werklik hoe groot hierdie blik wurms is wat Wouter staan en oopmaak het nie. Graag wil ek my beskeie mening daaroor uitspreek, want ek het nou enemale my kop daarin gesteek deur met Dawkins te loop saamstem. Ek vra om verskoning as ek heeltemal deurmekaar skryf, want ons het so pas deur die Marion Hill-tolhek gegaan. Ons is op pad Sanipas toe, dis nou ek, my Duitse vriend en die Engelsman, George. As ons Sondagaand laat weer tuiskom, sal ek probeer aanvul met naslaan waar my ou verstand nie meer kon onthou nie. Ek waarborg ook nie dat dit wat ek nou kwytraak, nie alreeds gesê is deur ander bydraes onderaan Wouter se brief nie. (Moet ook nie skroom om my daarop te wys as ek lieg nie.)
Dis natuurlik duidelik dat “ras” ’n belangrike komponent is van ons menslike ervaring. Die woord is in alle tale en daarom moet dit noodwendig in woordeboeke voorkom. Cornelius en Pieter het juis vir my sulke lang woordeboekverklarings gestuur. Al hierdie verklarings is egter gebaseer op uiterlike waarneming en hoe die woorde se verskillende betekenismomente gebruik word. Feit bly egter staan: die wetenskap worstel seker al twee eeue met die woord “ras” en tot dusver kon bioloë nie vorendag kom met ’n werkbare klassifikasie van die menslike verskeidenheid nie. Afbakening van die verskillende rasse bly maar uiters vaag. Wie kan bv die Afrikaner presies afbaken? Sekere antropoloë verkies om die onderwerp te vermy, of om te ontken dat ras bestaan.
Biologie het dus nie ’n werkbare definisie vir die woord “ras” nie, vir die woord “spesie” is dit anders. Wanneer twee diere van teenoorgestelde geslag, paar, behoort hulle tot dieselfde spesie; indien nie, dan behoort hulle tot verskillende spesies, alhoewel hulle eenders mag voorkom. Dink maar aan Charles Darwin se waarneming van Galapagos-vinkspesies. Dawkins beskryf ook eksperiment met die eenderse Chorthippus brunneus en C Biguttulus sprinkane, wat nie sal paar nie, tensy die wyfie deur manipulasie bedrieg word.
Die menslike brein is nou ten enemale so ingestel dat, om te kan verstaan, moet daar geklassifiseer word. My twee kollegas hier in die motor is die een ’n Duitser en die ander ’n Engelsman. As ek by die motorruit uitkyk, sien ek Angus-beeste. Die ongelooflike diversiteit van die mens het daartoe gelei dat baie bioloë al probeer het om die mens te verdeel in kategorieë. ’n Sweedse botanis, Carl von Linné (Linnaeus), het in die 18de eeu ’n klassifikasie vir al die spesies van die wêreld ontwerp, bekend as die “binomial system of nomenclature”. Hy’s die ou wat ons die naam Homo Sapiens gegee het. Hy het die mens geklassifiseer volgens hulle voorkoms: Afer, Americanus, Asiatus, Europaeus en Monstrosus. Dis ’n heel rassistiese verdeling veral as in ag geneem word dat laasgenoemde ingesluit het almal van wie hy nie gehou het nie en ook fiktiewe volke soos die Platkoppe, die Dwergies en die Grotbewoners. Linnaeus het die Bybel letterlik vertolk en vas geglo dat die verskillende groepe so apart deur God geskape is. En moet asseblief nou nie hiervoor lag nie, want tot onlangs het hierdie verdeling en siening nog as model gedien.
In 1960 het ’n boek, Origin of Races, verskyn geskryf deur Carleton Coon. Hy het min of meer dieselfde verdeling van rassegroepe gehad, met net ander benaminge: Kaukasiërs, Negroïede, Mongole, Capoid (Khoisan), en Australoïede. Coon gee ook ’n evolusionêre verduideliking van hoe die mensdom verenig was in ’n klein groepie, maar later afsonderlike groepe gevorm het, wat verder geëvolueer het in die verskeidenheid wat ons vandag sien.
Die indelings het nie veel bygedra nie: antropoloë was dus maar aangewese op die studie van voorkoms. Tevergeefs het hulle gemeet en gepas en data versamel, want die onderliggende rede vir voorkoms het hulle geen benul van gehad nie. Tot ongeveer 1960 was wetenskaplikes toegegooi onder data wat versamel is, maar hulle het nie geweet wat om daarmee te maak nie. Soos Darwin, was bioloë se ondersoek beperk tot waarneming bv van voëls en gedrag van diere, ens.
Met die opkoms van die Genetika, het ’n nuwe manier van dataprosessering ontstaan. Een van die genetici, Richard Lewontin, was ’n opgeleide statistikus en hy het gefokus op genetiese veranderinge. Aanvanklik het hy die vrugtevlieg, Drosophila, bestudeer, maar weldra op die mens begin konsentreer. Spoedig kon hy Linnaeus en Coon se teorieë toets. Bestaan daar werklik sulke menssubspesies? As daar verskillende rasse is, dan sal die proteïenvariasies by elkeen uniek wees. Dit sou hulle mos duidelik van mekaar laat verskil. Lewontin was nogal merkbaar verbaas toe die uitslag van sy navorsing bekend is: 85 % variasie is gevind by individue binne ’n bevolkingsgroep, en dit was ook die variasie wat in ander bevolkingsgroepe gevind is. Soos Lewontin dit verduidelik het, as iemand ’n atoombom laat val en alle menslike lewe uitwis, behalwe ’n klein groepie Engelse, dan sal 85 % van die mens se genetiese variasie nog behoue bly. Linnaeus en Coon was dus verkeerd. Homo Sapiens is dus een groot familie, nie ’n klomp subspesies nie.
Dit is so dat enige twee mense op aarde se genetiese samestelling baie min van mekaar verskil. Dit dui aan dat ons afstam van ’n klein groepie mense. Heel waarskynlik is ’n groot ramp verantwoordelik hiervoor. Daar is bewyse van vulkaniese uitbarstings, soos bv Toba, so 73500 jaar gelede wat so ’n bottelnek kon veroorsaak het.
Vir baie mense sal die bewyse van biochemiese genetika onaanvaarbaar wees, want kyk net rondom jou. Mense verskil van mekaar, Engelse lyk nie soos Japannese nie, lyk nie soos Eskimo’s nie, lyk nie soos Zulus nie om nie eens te praat van Khoisan en Aborigenes nie. Natuurlik is dit ’n uiters sensitiewe onderwerp met ’n politieke kleur, maar aan die anderkant, wie wil dan soos Hitler dink?
Natuurlik is Lewontin ook al verkeerd bewys: “ras” is nie betekenislose konsep nie, soos Edwards in sy verhandeling Human genetic diversity: Lewontin’s fallacy aantoon.
Hier sit ek nou voor my lessenaar by die huis. Dis Sondagaand half twaalf. Oor Lewontin’s fallacy kan hier http://en.wikipedia.org/wiki/Human_Genetic_Diversity:_Lewontin's_Fallacy gelees word.
Groete
Angus


Kommentaar
Angus net iets oor 'n mindere punt. Jy skryf: "Wanneer twee diere van teenoorgestelde geslag, paar, behoort hulle tot dieselfde spesie; indien nie, dan behoort hulle tot verskillende spesies, alhoewel hulle eenders mag voorkom." Ek dink jy moet die woord "paar" met "voortplant" vervang. 'n Perd en 'n donkie paar en die resultaat is 'n esel wat nie kan voortplant nie. 'n Perd en 'n donkie is dan seker twee verskillende spesies? George
Beste Angus,
Baie dankie vir die opoffer van jou vryetyd, en vir die moeite wat jy gedoen het om ons in te lig oor die kwessie van "ras". Nou verwys ek jou graag na die seksie van SêNet, "meeste kommentaar" ( Richard Dawkins atwitter) en lees gerus my laaste kommentaar oor Henn se oorpsronklike vraag: of "ras" 'n deel van 'n mens se IDENTITEIT kan wees". Die vraag is nie of "ras" n biologiese grondslag het nie.
Dit is 'n verdriet wat Hitler aan die mensdom gedoen het weens die feit dat "ras" 'n vraagstuk geword het wat mense soos die pes vermy, en enige objektiewe gesprek daaroor is bykans onmoontlik: aan die woord "ras" kleef die stank van die gaskamers.
Beste groete,
Pieter Redelinghuys
Hello Angus,
Hello Pieter,
Hello Angus et al,
Beste Wouter,
Dankie vir jou "erudite" kritiek aangaande my opvattings omtrent "ras". Ek erken dat my stelling oor "new speak" 'n ongelukkige uitdrukking was in die konteks van hierdie debat, en gun my asb die geleentheid om dit nederig te onttrek. Ongelukkig het jy versuim om daarby te voeg dat ek tydens 'n later kommunikasie aan Angus gesê het dat ek oop was vir oortuiging. En daarby het ek nooit ontken dat "ras" geen grond het in biologie nie. Ook die feit dat daar min genetiese verskille is tussen die verskeidenheid kleure nie.
Staan julle (jy en Angus) nou aan die "cutting edge" van nuwe begrippe/konsepte wat ons gewone leke sal moet leer en verteer, na 500 jaar se "social construct", oor wat "ras" is, of nie is nie?
Vergeet die hele woord "ras", jou velkleur, afkoms, voorouers, edm, en vebeel jou dat jy kleurblind is, en aanhorig is aan die menslike ras, Homo Sapiens. Dalk dit sal die hele probleem oplos.
Beste groete,
Pieter Redelinghuys
Beste Angus,
Jy het reeds en elders ook 'n hele paar aanvegbare redes oor die onderwerp aangevoer.
Ek hoop jy vind dit om die volgende vrae te beantwoord, ten einde sin aan jou gedagtes omtrent "ras" te maak.
Eerstens: Beskou jy die mens, as verhewe bo die res van die "bio" op aarde?
Tweedens: Aanvaar jy die woord "ras", as 'n noukeurige omskrywing aan die verskil tussen 'n dorper en merino, fries en 'n Uysbees, Rottweiler en Maltees, Putterie en Stassard, Akhel Teke en 'n mustang, ... om slegs enkele lewe op aarde aan "ras" beskryf te noem?
Derdens: Dra jy enige kennis omtrent die fisieke en genetiese onderskeid, behalwe velkleur aan byvoorbeeld die Khoisan?
Vierdens: Hoekom sou die aanname van "ras", en spesifiek aan die mensdom, hoegenaamd buite die evolusieleer val?
Ten vyfde: is jy bewus van "rassediskriminasie" en die Sami?
Ek distansieer myself gewis en in geheel, van enige gesprek wat bloot velkleur, as 'n maatstaf vir ras beskou.
Opregte groete,
Cornelius Henn
Korreksie op die volgende:
Beste Pieter,
Beste Angus,
Ter ere van jou wetenskaplike agtergrond het ek die moeite gedoen om my eksemplaar van Harrison´s "Principles of Internal Medicine ( 12th Edition) van my boekrak afgehaal en begin naslaan oor genetiese siektes meer teenwoordig in sekere rasse, en minder by andere.
Neem bv die hexose-monophosphate shunt: This variant if found in about 15 percent of black males in the United States. A second relatively common G6PD variant is encountered among peoples of the eastern Mediterranean area, particularly Sephardic Jews. A third relatively common variant occurs in the Chinese.
The diagnosis of G6PD deficiency should be considered in any individual, particularly a black male, who experiences an acute hemolytic episode. n Sensitiewe politieke- korrekte, of kleurblinde, geneesheer sal dalk die diagnose mis as hy nie agslaan op die uiterse kliniese tekens nie, oa., die kleurvel van die pasient.
My argument kan natuurlik teen my gedraai word, nl dit bewys juis dat alle "rasse" basis dieselfde gene bevat met variasie en verspreiding tussen rasse, ook tussen individue.
Maar probeer asb weer vir my oortuig dat die hele konsep van "ras" skoon oëverblindery is, en in die finale analise nog een onheilige Westerse sameswering is om inheemse volkere se lande, en rykdom, te steel.
Beste groete,
Pieter Redelinghuys
Hello Angus et al,
Beste Wouter en Angus,
Gun my asb die geleentheid om Wouter se instelling oor die konsep van "ras", as bloot 'n "social construct", tot sy logiese gevolge te neem. Dit is seker, vanuit die historiese perspektief, geen toevalligheid dat die konsep tydens die vyftiende eeu ontstaan het, hand-in-hand met die ontstaan van Imperialisme en die Europiër se eerste grootskaalse ontmoeting van vreemde weses ( homo sapiens) oorkant die see wat nie soos hulle gelyk het nie. Die feit dat hierdie wesens 'n ander kultuur verteenwoordelik het, tegnologies (wat altans gewere betref) agteraf was, en "heidene" daarby, was genoeg rede om hulle as minderwaardig te stempel, en nie in staat om hulle "Godgegewe tuin" te benut nie. Hulle lande is ontneem, en hulle rykdom op skepe gelaai om die kerke en kastele in Spanje en Portugal te bou.
In die laaste eeu is daar baie literatuur oor die Britse Imperium waar die term "lesser breeds" gebruik word. Die Britte was die kroon van die skepping en die res van die mensdom as minderwaardig beskou. Britse idealisme en evangelisme het dan gelei tot die gedagte dat die Britte byna 'n Godgegewe reg het om ander "rasse" oor die wêreld te regeer en lei. Hierdie "mindset" word vandag deur Amerika verteenwoordig.
Dus kan ek begin verstaan dat die hele kwessie van ras, soos gesien uit die perspektief van die geskiedenis, wel 'n "social construct" kan wees, 'n idee en ideologie van Westerse oorsprong waarvan die funksie was om ander "rasse" te verkleineer en uit te buit.
Volgens Gore Vidal in sy essay, "Japanese Intensions in the Second World War", was die oorlog tussen Japan en die VSA ( 1941 - 1945) 'n rasseoorlog wanneer mens die uitsprake lees van daardie tyd. In die retoriek gebruik tussen die twee lande was daar uitdrukkings soos skeel-oë, Mongole edm. van VSA- kant, en "mongrel nation" van Japanese kant. Die VSA het dit oorweeg om die atoombom te gebruik oor Duitsland om 'n einde te bring aan die oorlog, maar daarna is besluit om dit teen Japan te gebruik omdat die Japanese minder mens was in die oë van die Anglo-Amerikaners.
Die brutaliteit van die Amerikaanse weermag teen die Vietnamese kan ook toegekryf word aan hulle haat vir die die "skeel-oë.
Om af te sluit, as "ras" bloot 'n "social construct" is om ander te wil domineer en uitbuit, so is afkeur en haat vir homoseksueles en praktyke ook 'n "social construct" ,en nie inherent aan die natuur van die mens nie, maar 'n kwessie van breinspoeling, 'n faktor wat Biskop Tutu intuitief verstaan. Die veg vir wedersydse respek en menseregte van die hierdie twee groepe het baie in gemeen met mekaar.
Beste groete,
Pieter Redelinghuys
Beste Cornelius,
Beste Angus,
Dankie vir jou simpatieke antwoorde.
My grootste blydskap is egter die hoflikheid wat jy daarmee saamvoer. Persoonlik voel ek dis genoeg kwalifikasie om aan ENIGE gesprek op aarde deel te neem.
My vrae had ten doel om eerstens gemeenskaplike gronde te bepaal, en sou daar skeel; sodanige verskil met die nodige respek verder te neem.
Self is ek, nes jy, erg nuuskierig betreffende hierdie onderwerp, en leer ek met oorgawe by enigeen wat jou vlak van redevoer kan handhaaf - juis, omdat soveel van my bestaan en oorlewing aan die Suidpunt van Afrika vandag, nes joune, hoofsaaklik omtrent "ras" gevoer word.
Die korpokrasie en geldmag se agenda, voer egter maar soos altyd steeds die botoon in die gebreinspoelde slimjanne se vergiftigde meninge - ja, ook hier op die werf!
Daarom, dankie vir jou besonderse mening (en selfs jou onbeskaamde bereidwilligheid om te Google wat jy nie weet nie).
Ek het reeds oorwegend ooreenstemming met jou.
Wat steeds volgens my aan kritiek blootstaan, is die feit dat die woord "ras" enersyds genoegsaam is vir die doel om selfs die biologiese verskil tussen Rottweiler en Maltees, ensovoorts (met jou kwalifikasie daarby naamlik as die hoorder weet wat ? dorper en ? merino is) aan te dui, maar dat iets soos ekogradiënt (pragtige woord) nodig raak om die rasseverskil in uitsondering by mense aan te toon.
Hoekom dan die grondslag in "ras" by mense, anders as die res van die "bio" op aarde benader?
Hoe kan Dawkins aanvoer dat die Biologie, nog geen definisie vir “ras” het nie; dit, wyl "ras" juis die grondslag in iets baie spesifiek soos byvoorbeeld die teling daarvan is nie?
Waarom sou daar 'n algemene definisie vir "ras", buite 'n woordeboek verklaring nodig wees?
Ek vra verskoning dat ek jou vrae met vrae beantwoord, maar dit is bloot omdat ek sukkel om die logika in joune te bepaal.
Ek is egter meer as bereid om my gedagtes te begaan indien jy 'n wetenskaplike nodigheid kan aanvoer; hoekom "ras" by die mens, van die res van die "bio" (soos in biologie), op aarde onderskei moet word, veral as jyself (nes Richard Dawkins) ook nie die mens as die kroon van die skepping ag nie.
Ek is ook dankbaar dat almal hier minstens ooreenkom dat "ras", niet ten doel het om diskriminasie of meewarigheid aan te voer nie.
Miskien moet ons dalk net eers ooreenstemming omtrent die bedoeling met die woord "biologie" bereik - laat weet my as jy dink dis dalk waar die kwessie is.
Ek hoop ons vind verder gronde en dat ek met oortuiging, dalk ook my siening omtrent die redes ter ondersteuning van ras in die oorlewing van die mens later kan aanvoer.
Opregte groete,
Cornelius Henn