Ek bevind my nie aldag in donker plekke nie. Nee, ek bly liewer weg van skaduwees af. “Wandel in die Lig” is wat ek my mee vereenselwig. Maar dit beteken nie dat 'n mens by tye jou in donker plekke bevind nie. “Al gaan ek deur 'n dal van doodskaduwee...”, lees ons.
Dit was tydens 'n week se werk weg van die huis af wat ek my op 'n kusdorpie bevind het. Dit was buite die vakansieseisoen, en alles was maar redelik stil.
Behalwe die plaaslike taphuis.
Die het teen 4 in die middag lewe begin toon, en teen 8 die aand kon dit luid raak. Self rumoerig. Maar nie te lastig nie. Teen 10 uur die aand het dit stiller geraak, en die eienaar het gewoonlik teen 11 die deure toegemaak.
Dis nie my gewoonte om in donker taphuise uit te hang nie, maar 'n stil plek kan nogal eensaam en vervelig raak. Ek moes in elk geval 'n aandete êrens kry, en het nie veel van 'n keuse gehad nie.
Dalk was dit omdat ek agter in die hoek gesit het waar ek een van my gunsteling tydverdrywe kon bedryf: Mense kyk. Dalk was dit omdat ek al grys is, en my leesbril op die punt van my neus gehad het om boodskappe op my foon te kon lees. Dalk was dit omdat ek ver van die meer rumoerige kroegtoonbank af gesit het. Ek weet nie hoekom hy my so geïdentifiseer het nie.
“Naand, Kolonel,” het hy gesê en teenoor my gaan sit. “Ek is jammer ek is laat, maar Kolonel weet hoe dit gaan.”
Ek het verras opgekyk na die man oorkant my. 'n Pet was laag oor sy moeë oë getrek. Sy gesig was afgerem en hy had ligbruin hare en donker oë. Die yl stoppelbaard en klein snorretjie het vir my gesê dat dit 'n man is wat nie soggens nog wil sukkel om netjies te maak as hy klaar opgestaan het nie. Sy strepieshemp het tekens getoon van te lank aan die lyf sit. Sy arms en gesig was bruin gebrand.
“Naand,” sê ek en wonder hoekom ek nou skielik 'n 'Kolonel' geword het. Maar dit klink interessant. Miskien moet ek saamspeel.
“Identifiseer jouself.”
Die man se oë rek effens, vernou weer en ek kan sien hy dink nou vinnig.
“Beesblaas 13, Kolonel. Ons het ses en 'n half jaar terug in Durban ontmoet. Kolonel het my tog hier verwag?”
My beurt om vinnig te dink.
“Natuurlik. Wat het jy vir my?”
In sy hand was 'n bruin koevert, en dit was nie moeilik om die afleiding te maak dat hy iets vir 'Kolonel' gehad het nie. Hy oorhandig die koevert en haal 'n geel Post-It blokkie en 'n pen uit sy hempsak uit. Hy griffel gou 'n nommer neer en gee die taai papiertjie vir my.
“Hier is my nommer, Kolonel. Skakel gerus indien Kolonel nog inligting benodig.”
“Dankie,” sê ek en kyk na die 081-nommer op 'n geel Post-It papiertjie.
Toe ek opkyk sien ek hoe sy rug wegraak agter 'n pilaar. Ek was weer alleen.
Langs my bord met die kaal been van 'n T-been biefstuk het sy bruin koevert gelê. Daar was niks op die koevert geskryf nie. Dit was toegeplak en as ek dit teenoor die dowwe lamp bo my tafel gehou het, kon ek net-net die vorm van 'n papier daarbinne uitmaak.
Oorlede Ma het my geleer dat jy nie ander mense se pos oopmaak nie, en ek het die koevert vir eers so gelos.
Wat op aarde het nou hier gebeur? Wie se pos het ek nou so pas per hand van Beesblaas 13 af ontvang? 'Kolonel' s'n ja, maar wie is 'Kolonel'?
Ek het die laaste bitter bier afgesluk, betaal en langsaan in die gastehuis gaan slaap. Die bruin koevert was op my bedkassie en nog steeds geseël. Ma het mos gesê.
Die volgende dag het ek my taak in die dorp afgehandel en die pad terug Pretoria toe aangedurf. Die bruin koevert het ek in die paneelkissie gelos, en later eenvoudig daarvan vergeet.
Dit was omtrent 'n week of so na die insident in die taphuis wat ek weer 'n verrassing gekry het. My motor was in 'n parkade geparkeer en toegesluit. Toe ek terugkom en dit oopsluit, was daar 'n pienk Post-It papiertjie op die paneel geplak.
“Dankie, ek het die koevert gekry. Jou betaling is nou daar. BB5”
In my paneelkissie was 'n pakkie in bruinpapier toegedraai. 'n Dik homp van 'n pakkie.
Hierdie keer het Ma se stem nêrens opgeklink nie, en ek het die pakkie oopgemaak. Ek het die R200-note afgetel. R30 000 in totaal.
'Kolonel' was tevrede.


Kommentaar
My genugtig. Dan het jy die pakkie waarvoor ek gewag het.
Sandvelder,
As dìt ons geheimediens se werkswyse is, o ... donner !
Raed-na-Gael (Kreef 1)