Hoe meer ek daaroor dink, hoe meer besef ek Facebook is bloot 'n groot lat vir jou eie gat.
Facebook dien eerstens nie veel van 'n doel in terme van ware, mens-tot-mens vriendskappe nie. Ek ken mense met honderde of duisende sogenaamde Facebook-vriende, waarvan hy of sy slegs 'n handjievol al ooit in die vlees gesien het, en waarvan 'n nog kleiner deel regtig bestempel kan word as familie of vriende.
Nou goed, jy het miskien 'n swetterjoel Facebook-vriende, maar wat doen jy nou eintlik wanneer jy foto's van jouself, sê maar voor die Eiffeltoring, op Facebook laai, en jou vriende virtueel daarvan hou? Is dit nie maar net 'n vorm van grootpratery: "Whê, ek kon tog 'n vliegkaartjie Parys toe bekostig!" nie?
Voorts kan enige onbesonne inskrywing op Facebook jou later bitter spyt maak.Daar is talle voorbeelde van mense wat iets op Facebook gepos het, en toe gevolglik geviktimiseer is daaroor.
Vat byvoorbeeld die leerling aan Johannesburg se voorste Joodse skool, King David. Hy het die vermetelheid gehad om Israel te kritiseer op 'n Facebook-groep, en is toe na bewering gedreig en geboelie oor sy uitlatings by die skool, omdat hy so gemaak het onder sy eie naam.
So ook word dit toenemend algemene praktyk vir werkgewers om na kandidate vir 'n aanstelling se Facebook-inskrywings te kyk. As meneer Jan Kandidaat op Facebook laat glip het dat hy lekker hoog geraak het op papegaaislaai anderdag, kan hy maar vergeet van die pos waarvoor hy aansoek doen.
Deesdae lyk dit my dat heelwat joernaliste nie eens meer die moeite doen om die persoon te gaan opsoek vir 'n onderhoud of 'n foto nie - hulle spoeg en plak maar bloot elke tweede ou op straat se Facebook, en dan verkwansel hulle dit as sogenaamde nuus.
Dit het te make met die publieke aard van die internet, en mense se drang om te spog. In die ou dae was dit slegs bekendes of berugtes wie se elke woord in die openbare domein was, en toe selfs nie eens altyd nie - iemand moes dit aan die pers gaan uitlap het, vir omstrede uitlatings om die koerante te haal. Facebook het dit heeltemal verander; elke Facebook-lid is as't ware 'n publieke figuur.
Dus, nee, wat, Facebook is 'n onding. Ek weet nie regtig waarom dit bestaan nie, behalwe as 'n handige verwysingsbron vir lui joernaliste nie.
JP


Kommentaar
Joe ek kan nie aan woorde dink om my siening oor Bakkiesboek te weergee nie. Ek stem saam met jou. Ek het al hewige argumente oor die ding gehad. Ek het familie wat die bakkiesboek ding se slaaf is. Ek het my familie verbied om enige foto van my daarop te plaas. Ek sit ook nie eers in 'n groepfoto waar sekere famlielede is nie. Ek verpes die uitvindsel. As ek wil weet wat my pelle doen, bel ek hulle. Hulle bel my ook van tot tyd. Almal weet ek hou hul name op my foon. As ek in drie maande nie van een van hulle hoor nie, haal ek sy naam van my foon af. As jy weet wat jy doen kan jy enige iets van iemand kry, profiele saamstel en selfs krake in die persoon se mondering kry. So bakkiesboek en ek is nie maatjies nie. Moenie vir twitter, whatsapp en BBM vergeet nie. Ek was al by mense waar hulle op hul fone sit en vroetel het. Ek het net vir my vrou gese, kom jy want ek ry. Ek sal weer kom kuier wanneer die mense klaar is om met die ander mense te kuier. Dit is flippen ongeskik.
Ek verskil van die skrywer wat beweer dat Facebook 'n onding is. In die konteks wat hy beskryf waar iemand duisende vriende het wat onbekende mense is, mag die stelling sekerlik waar wees. Ek het egter van die begin af jaloers gekyk na my vriendskapsversoeke. Ek is nie lus om my diepste gedagtes en doen en late te deel met enige jan rap en sy maat nie.