Dit is nou al amper twintig jaar sedert oud-president Thabo Mbeki sy bekende "I am an African"-toespraak gelewer het. En hoewel dit ‘n interessante voordrag was, het dit geensins duidelikheid gegee oor wat ‘n Afrikaan nou presies is nie.
Oud-president Thabo Mbeki het die volgende woorde in sy toespraak gebruik:
The constitution whose adoption we celebrate constitutes and unequivocal statement that we refuse to accept that our Africanness shall be defined by our race, colour, gender of (sic) historical origins.
Uit die uitspraak – ofskoon van sy ander stellings in die toespraak aanvegbaar is – is dit duidelik dat alle rassegroepe tans in Suid-Afrika Afrikane is. Maar skaars twee jaar later word die Wet op Billike Indiensneming uitgevaardig.
Sommer in die definisies van die wet al word die volgende stelling gemaak:
..."black people" is a generic term which means Africans, Coloureds and Indians.
In een sin is net swartmense tot Africans verklaar en die res, wel, ek kan nie uit die definisie uitmaak wat hulle is nie.
As jy na die beleidsdokumente van menigte (meestal swart) politieke partye kyk, kan jy sien hoe die konsep van Afrikaan-wees vanaf die edele aanvang vergestalt in oud-president Mbeki se toespraak om dit ‘n inklusiewe term vir alle groepe in Suid-Afrika te maak wat tot sy huidige eksklusiewe (en myns insiens rassistiese) betekenis gemuteer het.
In my gesprekke met swart mense oor Afrikaanskap is die Pavloviaanse refleks-beweging op die vraag oor wat ‘n African is, altyd dat dit net na swartmense verwys. En as ek verder uitvra na die identiteit van wit-, bruin- en Indiërmense, dan is die antwoord soos klokslag weer dat hulle (dis nou mense soos ek) "Suid-Afrikaners" is. En die Grondwet waarborg mos dat Suid-Afrika aan almal behoort wat daarin bly. Met ander woorde, dit waarborg burgerskap. Op die oog af lyk dit na ‘n goeie argument en baie minderhede val daarvoor.
Maar ek neem ernstige eksepsie daarteen. Ek sien my verhouding met (Suid-)Afrika nie as een van burgerskap nie, maar as inheemsheid soos die wildebees ‘n inheemse dier is wat vrylik in hierdie deel van die wêreld voorkom.
Hy is nie ‘n "burger" van Afrika nie. Om hom elders anders te hervestig sal tot ontberinge vir hom lei. In menslike terme sal hervestiging dalk nie tot fisieke lyding aanleiding gee nie, maar wel ‘n pynlike sielkundige effek, ‘n verlies aan behóórt, hê.
Burgerskap, daarenteen, is bloot ‘n administratiewe regskonsep, wat bepaal wie belasting moet betaal, wie pensioen moet kry en wie mag stem.
Dit bevat bloot ‘n katalogus van burgerlike regte en verpligtinge. Burgerskap word deur ‘n wet bepaal, waaroor ‘n parlement kan stem en dit kan gevolglik ook deur een verander word. Dink maar hoe die ou Nasionale Party eensydig "burgerskap" van tuislande aan swartmense toegeken het.
Die een dag was hulle nog Suid-Afrikaners en die volgende dag was hulle skielik Transkeiers.
Daarteenoor is Afrikaanskap ‘n erkenning van historiese en menslike werklikhede. Dit is die onmiskenbare feit dat jou identiteit, jou lewe, jou geskiedenis bepaal word deur die omgewing waarin jy woon.
‘n Mens kan dit amper-amper sien as ‘n psigo-biologiese waarheid.
Om voort te bou op my metafoor van die wildebees: jy is natuurlik tot die omgewing, aangepas om in die omgewing te oorleef en daarin te floreer. Ek word gereeld aan hierdie werklikheid herinner as Suid-Afrikaanse emigrante na Suid-Afrika terugkeer omdat hulle nie in hul aangenome lande kon aanpas nie. Hetsy nou die aanpassingsprobleme as gevolg van die weer, die mense, die omgewing is.
Dan is daar ook persoonlike, intieme geskiedenis wat my aan hierdie land verbind.
My eie familie het in 2011 ons driehonderdjarige teenwoordigheid in (Suid-)Afrika gevier. Ons het geen band meer met ons sogenaamde "moederland" nie; hierdie stuk aarde is waar ons al vir driehonderd jaar op leef en in begrawe word.
Om die land te verlaat sal beteken dat ek hierdie waardevolle herinneringe moet versaak. Dit pynig my tot in my diepste wese om net daaraan te dink.
Sommige mense mag wonder wat my bohaai oor Afrikaanskap is. Behalwe vir die feit dat ek dink dit ‘n wanbeskrywing van myself en ander Afrika-minderhede is, hou dit ook gevare vir Afrika-minderhede in.
Loer maar gerus na die wetgewing van lande soos Zimbabwe en sien hoe die definisie van Afrikaan gemanipuleer word om wreedhede teen minderhede te regverdig. Hierdie ideologiese vuilspel is natuurlik nie net eie aan Afrika nie, dit is deur die geskiedenis heen al gedoen.
Meestal met moorddadige gevolge.
Dink maar hoe die tipering van Jode as vreemdelinge ‘n invloed gehad het op die Joodse volksmood. Hitler het van ‘n ervaring in München vertel toe hy een aand ‘n ortodokse Jood raakgeloop het en by homself gedink het "Hierdie ding is nie ‘n Duitser nie". Hierdie beskrywing van Jode as Others was die begin van die einde vir ses miljoen Joodse Duitsers.
Om Afrika-minderhede uit Afrikaanskap te sluit kan net sowel die aanloop tot toekomstige onderdrukking wees. Nee, ek oordryf nie. Wat in Zambabwe gebeur het begin met klein veranderings in wetgewing, diskoers, kultuur en toe almal hulle oë uitveë is hulle mooi land ‘n nagmerrie.
Daarenteen, om Afrika-minderhede deel te maak van die definisie Afrikaan het ‘n heilsame effek op ons almal – wit en swart.
Insluiting breek grense af. Jy is nie meer van doer en ek van daar ver nie.
Ons is almal deel van dieselfde identiteit alhoewel ons kultureel verskillende uitdrukking daaraan gee. (Laasgenoemde is nie ‘n vreemde idee nie: die Sweedse-minderheid in Finland beskou hulself in die eerste instansie nie as Swede nie, maar as Finne wat hulle "Finskap" deur hul Sweedse kultuur uitdruk.)
Al druk ons Afrikaan-heid anders uit, is ons dieselfde kategorie mense.
Ek het begrip daarvoor dat swart Afrikane ‘n weersin mag hê aan die idee van wit, bruin en Indiër- Afrikaanskap, omdat dit hul pogings om die ongelykhede reg te stel ideologies ondermyn.
Daar is nie rede om te vrees nie. Misdaad, soos byvoorbeeld verkragting, tussen landgenote, ontneem die daad nie van sy gruwelikheid nie. Die verontmensliking van een groep deur ‘n ander groep volksgenote maak die oortreding nie minder nie en die noodsaaklikheid van regstelling is nog steeds daar.
Om almal in te sluit by Afrikaanskap mag dalk juis die oortreding verswaar: ons wit Afrikane het aan ons eie mense gedoen wat gedoen is. Deur die wêreld heen word oortredings teenoor jou eie mense in ‘n ernstiger lig bejeën omdat dit ook ‘n element van verraad insluit.
Bowenal, net uit "verligte selfsugtig", maak dit sin om al my genote te help floreer, want ek het ‘n wesentlike belang daaraan dat my kontinent vooruitgaan. Ons word almal geaffekteer deur mekaar se lot.
Ek wil afsluit deur agterstevoor te wees om nou eers my definisie van Afrikaansskap te verduidelik.
Myns insiens het prof. Wole Soyinka, Nigeriese Nobel-pryswenner die beste beskrywing ooit gegee: “Who is an African? For me, it is whoever calls themselves an African... Africa is a landmass – geography; it is the people within who define themselves.”
Nou stel ek kategories: ek wil deel wees van Afrika, ek is deel van Afrika.
Ongeag wat regerings en wette sê.
M Labuschagne


Kommentaar
M Labuschagne, geluk met 'n uitstekende brief. Vir 'n hele tyd is die probleem op hierdie werf die min gehaltebriewe wat ontvang word. Dit beteken nie 'n brief wat almal onderskryf nie. Inteendeel, verskille maak juis 'n debat lewendig. Mag ons nog dikwels van jou hoor.
M. Labuschagne
Ek het nog nooit gehoor dat 'n swarte wat in Europa gebore is, as Europeer beskou, selfs nie deur beide die Europeers asook die "Africans" daar nie. Die benaming daar bly "African". Indiërs, al was hulle hoeveel geslagte lank in Engeland, word steeds Pakistani's of Pakki's genoem. Die Sigeuners (Roma), wat vir meer as twee duisend jare in Europa woon, word nie as Europees uitgeken nie, maar as "Roma" (Engelse Gypsies).
Swartes in Amerika word nie als Amerikaners geken nie, maar wel as "African American", en dit is hulle eie keuse om so genoem te wil wees. Rooihuide word as "Indigeneous Americans" genoem.
Die Arabiere van Noord-Afrika word beslis nie as "African" uitgeken nie en sal aanstoot neem indien hulle so getipieer word, maar wel als Arabiere.
Nou hoekom wil die witman hier in SA ongenooid en onwelkom daarby, homself as "African of te wel Afrikaan" wil noem? Non-Afrikaanssprekendes word as "European", en Afrikaansprekendes as "Afrikaner" uitgeken. Bruinmense word as "Afrikaan" uitgeken, Indiërs as "Asiate", swartes as "Afrikane oftewel Africans". Selfs die San en Khoi, die oudste inwoners van hierdie land, sien hulself nie as "African" nie.
Die enigste manier wat ons 'n enkel-identiteit in hierdie land sal kan bekom, is die dag wat die verskillende rasse tot so 'n mate geslagte lank ondermekaar ingetrou het, soos in Brasilië, dat daar dan selfs, nie meer van "African" gepraat kan word nie, maar as "Kreools".
'n Mens is nie trots op 'n geografiese vasteland nie. Jy is trots op die kultuurgroep waaraan jy behoort, en die naam van daardie kultuurgroep is waarop jy trots is. Ek en die Arabier bly albei in Afrika, maar daar is niks in gemeen tussen ons twee om oor trots te wees nie. Selfs ek en die Zoeloe, al het ons meer in gemeen met mekaar as die Arabier, tog sal ek myself nie as Zoeloe en hy homself as Afrikaner aansien nie.
Goed gestel Jaco. Hier is die Blankes Australians, die ander is die Indigenous community, die Viëtnamese community, die Chinese community, die African community en so karring dit aan. Terselfdertyd word ons die mees "tolerant" en mees "multicultural" genoem.
Die geheim is om almal se verskillende kulture te beskerm en aan te moedig, dit verseker dat die Australians Australian bly en die res nie Australians word nie, ongeag wat tot vervelens toe verkondig word.
Of so reken ek op die oomblik.
Gegroet
Duitswester
Duitswester
Dankie vir jou respons asook jou verdere uitbreiding om die argument te staaf.
Baie dankie, George. Ek waardeer jou kompliment opreg.
Dit is opvallend dat M. Labuschagne nie blyk bereid te wees om 'n teevoeter of instemming op my argument te wil aanbied nie, maar eerder daarvan hou om op die skouer geklop te wees.
Jaco
Ek stem nie met jou saam nie. In iedergeval, ek glo 'n mens het 'n reg op self-identifikasie, maw ek het 'n reg om myself the definieer en ek definieer myself as 'n Kaukasier en Afrikaan. So eenvoudig soos dit. Die issues van ander nasies ten opsigte van identiteit is nie my issues. Dit behoort ook nie ons issues te wees nie. As 'n swart Amerikaner verkies om haarself 'n African-American te noem en daardeur 'n skisofreniese identiteit skep, dan is dit hulle saak. Rasseverhoudings sal veel beter daaraan toe wees as almal in die VSA na hulself as net Amerikaners verwys.
En ja, daar is swartmense in Europa wat na hulself as Europeers verwys.
M. Labuschagne
Bly om te sien ek het 'n respons van jou uitgelok.
Ek het geen beswaar dat jy jouself Afrikaan of enigiets anders wil noem nie. Regsgesinde Afrikaners verkies om hulself as Boere te noem wat ek ook geen beswaar oor het nie. Daar is selfs Afrikaners wat hulself as "Anglo-Afrikaners" beskou wat ek ook geen beswaar oor het nie. 'n Sekere groep Afrikaners wil hulself eerder as "burgers van die wêreld" bekend staan, ook geen beswaar van myself nie. Inteendeel sou ek sê laasgenoemde sou meer juis wees as "Afrikaan".
Jou brief was sodanig opgestel dat jy die konsep van "Afrikaan" hier op SêNet probeer bevorder, ook geen beswaar van myself nie, maar ten minste probeer logies redeneer hoekom, pleks van jou emosionele stelling daaromtrent asook om die werklike "Africans" te verkwalik omrede hulle jou nie sodanige as sulks wil aanvaar nie. Ek is ook 'n man van Afrika wat aan 'n sekere kultuurgroep behoort, dus is ek 'n "Afrika"-ner.
Die term "Afrikaan" het die bruinmense van die land vir hulself geëien , net soos die swartes die term "African" vir hulself geëien.
African is nie 'n politieke term nie, suiwer 'n geografies, asook die term vir die uitken van 'n spesifieke ras, nl die swart ras van Afrika. Die pigmeë (pygmys') van Sentraal-Afrika, word ook nie as African uitgeken nie.
'n Bekende Engelse sanger (kan nie nou op sy naam afkom nie), noem homself die wit-Zulu, praat Zulu vlot en dans saam met die Zulu die "warrior" dans. Nieteenstaande sy wit vel nie, het die Zulus hom volkome aanvaar as een van hulle. Die wit "African" word nie als sulks, en tereg, deur die werklike Afrikans aanvaar nie, en dit het jyself gesê. Dit is my vrye reg om te reken jy is vermetel om jouself by hulle onwelkom te probeer op te dring.