Denke en taal

  • 17

Daar is seker nog duisende tale in die wêreld wat nie ? grammatika het nie. Taalkundiges stel egter nie meer in die enkele taal belang nie. Die moderne linguistiek konsentreer nou op die universele taal. Waar kom taal vandaan? Hoe is dit dat net die mens ? taal het? Is taal sommer maar ? toevallige produk van evolusie, of is dit die produk van natuurlike seleksie?

Die meeste linguiste is dit nou eens dat taalvermoë saam met die spraakorgane van die mens: die longe, die strottehoof, die mond- en keelholte, die tandwortels en die lippe geëvolueer het sodat spraak moontlik geword het. Daarom is dit voor-die-hand-liggend dat diere, en veral die sjimpansee, met wie die mens se genoom 98% ooreenkom, bestudeer sal word. Sue Savage-Rumbaugh is ? navorser wat dit reggekry het om ? sjimp te leer om ? taal te verstaan, en selfs volgens sy vermoë te gebruik.

In die dierkunde-departement van die Oxford-universiteit is daar ? hok met ? hele klomp kraaie. Een van hulle, Betty, is besonder intelligent. Die navorser, Alex Weir, het ? apparaat gemaak wat bestaan uit ? buis waarin daar ? emmertjie kos is. Hy het stokkies voor die apparaat neergesit, en gekyk wat Betty daarmee sou maak. Sy het sommer gou gesien ? reguit stokkie sal nie werk om die emmertjie uit te haal nie – die punt moet gebuig wees. Hier is ? Utube-video daarvan.

So is daar al met allerhande diere, soos olifante en dolfyne geëksperimenteer. ? Dier kan dink, hy het nie taal soos die mens nie.

Die mense het ? denke, maar daarby het hy ook ? taalvermoë. ? Nuwe generasie eksperimenteerders het nou begin om die interaksie tussen denke, idees en taal vas te stel. Taal is so deel van menswees dat dit uiters moeilik is om abstrak te dink. Jy gesels maar gedurig met jouself. Chomsky het eenkeer in ? lesing, onder groot gelag van die studente, gesê ? mens is gedurig besig om jouself te martel. Hy stel hierdie interne taal-aksie van die mens vas op 99%, terwyl die eksterne taal-aksie (spraak, skryf, ens.) maar 1% bedra. ‘n Mens kan, as jy jouself daartoe inspan, abstrak dink, maar as jy jou weer kom kry, vorm jy maar weer woorde en sinsdele in jou gedagtes. Met hierdie geselsery (jy moet net seker maak jy weet wie praat en wie luister) orden en versterk jy jou denke.

Vorige taalkundiges het ook al navorsing gedoen om die effek van taal op die denke te bepaal. Edward Sapir het gemeen dat die denke op verskillende maniere deur verskillende tale beïnvloed word. Die Engelsman dink anders as die Boer en die Eskimo. Met die verskyning van Chomsky, met sy gestruktureerde taal, het hierdie teorie onpopulêr geraak.

Hoe dit ook al sy, deesdae ondersoek linguiste tale en eksperimenteer met die invloed wat elkeen op die menslike denke het. ? Professor in sielkunde aan die Stanfordse universiteit, Lera Boroditsky, (? mooi meisie van Belarus) het die Indonesiese taal ondersoek, en gevind dat dit nie verlede, teenwoordige en toekomende tye het nie. Sy het prentjies van mense wat iets gaan doen, dit doen, en gedoen het, vir die Indonesiërs gewys. Almal het die mense in die prente onthou en beskryf as jonk, oud, mooi, lelik, lank, kort, ens. Engelssprekendes, aan wie sy die prentjies gewys het, het weer gesien dat iets gaan gebeur, iets gebeur en iets het gebeur.

Taal en denke is moeilik om van mekaar te skei, daarom meen verskeie linguiste dat ons dit as ? eenheid, ? sisteem moet sien.

Angus

  • 17

Kommentaar

  • Daar's hy nou Angus; dit lyk of jy stadig maar seker besig is om agter te kom dat mens nie in 'n taal dink nie.  Ek het doer in die verre veskiet vir julle genoem dat diere en baba's ook dink en hulle het nie taal nie (dis mos logies).  Ek hoop Dirk kom ook nou by.

    Jan Rap

  • George Bekker

    Beste Angus, jy skryf: "Sue Savage-Rumbaugh is ? navorser wat dit reggekry het om ? sjimp te leer om ? taal te verstaan, en selfs volgens sy vermoë te gebruik." Die laaste deel is nie vir my duidelik nie. Reageer hy bloot op woorde of maak die sjimp geluide wat 'n mens as woorde kan beskryf?

    Sonder om te voortvarend te wees wil ek daarop wys dat ons wag op Noam Chomsky (4). Dit word ook as 'n kompliment bedoel.

  • Louis du Plessis

    Angus en Jan ~ 

     
    Boeiende gedagtes!
     
    Friedrich Nietzsche (met soort van die geloofwaardigheid van filoloog) het natuurlik welsprekend aangevoer hoe sinsbou ons almal se denke op onbewuste wyses rig.  Dit maak Pulitzerwenner Jared Diamond se hartstog so betekenisvol:  dat meertaligheid noodwendig nuwe wêrelde ontsluit.
     
    Louis du Plessis
  • Jan, waarom lees jy nie wat ek geskryf het nie. Moenie net na die prentjies kyk nie. Of is dit nog steeds begrip wat by jou die probleem is?

  • Beste George,

    Lees gerus haar boeke, Kanzi the Ape at the brink of Human Mind, en Apes Language and Human Mind. 
    Sue was gedurig besig om haar bonobos doelbewus taal te leer. Kanzi was maar 'n aangenome weeskind wat toevallig by was by die leerdery. Ewe skielik het hy eendag, tot Sue se verbasing, met prentjies verduidelik wat hy wil hê. Hy het dus indirek taal aangeleer deur net daaraan blootgestel te wees, presies soos 'n mensebaba. Die ape het geleer om dmv die rekenaarsleutelbord wat prentjies skep te kommunikeer. 
     
    Groete,
    Angus
  • Beste Louis,

    Op skool het ek 'n onderwyser gehad wat versot was op idiome (ek het ongelukkig toe Afrikaans as tweede taal geleer). Hier in my agterkop dwaal daar 'n idioom rond, iets soos: Soveel tale soveel man. Iemand sal moet help, want my idioomboek het voete gekry. 
     
    Groete,
    Angus
  • Beste Angus

    Die uitdrukking is 'soveel tale jy kan, soveel male is jy man.'

    Dit geld natuurlik net by uitsondering, mense wat lief is vir tale, wat nie 'n taal HOEF te leer nie maar dit leer uit belangstelling.

    In 'n multikulturele opset, soos hier, werk dit andersom:  Hoe meer tale jy ken hoe laer af in die spreekwoordelike voedselketting is jy.  Die ou heel onder leer 10 tale buiten sy eie, die ou heelbo leer geen ander taal nie want hy hoef nie; sy ondergeskiktes ken sy taa,l want hy is bo-aan die leer.

    Groetnis
    Jan Rap

  • Plesier Angus.
    Terloops, hier in Suid-Afrika is daar talle Afrikaanssprekendes wat uitstekend Engels praat, NIE omdat hulle lief is vir tale nie maar omdat:
    1) hulle minderwaardig voel as hulle swak Engels praat; hulle sterf tien dode
    2) hulle ouers hulle in Engelse skole gesit het
    3) Engels by die werk  en in die openbare lewe in hulle kele afgedruk word
    4) Engels deur die radio en TV in hulle kele afgedruk word, selfs ook KykNet en RSG
    5) hulle moet; hulle eie taal 'werk' nie meer nie (hulle is laer as die Engelssprekendes op die voedselketting) en
    6) hulle gebreinspoel is en glo jy kan net besigheid in Engels doen, selfs al is jou verskaffers en klante Afrikaanssprekend.

    Daar is ook talle, die meerderheid, Engelssprekendes wat nie uitstekende Afrikaans praat nie omdat
    1) hulle nie hoef nie; ons lek hulle gatte genoegsaam dat hulle GEEN Afrikaans hoef te praat nie, selfs al is ons in 'n besigheidstransaksie nie die verleë party nie.

    'n Engelssprekende wat nie Afrikaans kan praat nie sê dit met 'n mate van trots.
     'n Afrikaanssprekende wat nie Engels kan praat nie is erg in die verleentheid en dit is die gevolg (die verleentheid nou) van jare se breinspoeling, sedert die Engelse oorlog al, DEUR ONS EIE MENSE kan jy glo.

    Jan Rap

  • Beste Jan, 

    Ek stem saam met wat jy skryf, maar dit help my niks met die denke en taal nie. 
     
    Stem jy saam dat taal 'n mens se denke vorm? Gesels jy met jouself sonder dat jy die woorde hardop uitspreek, of gaan jy deur die dag sonder dat enige taal deur jou brein flits? Dink jy 'n huis kan sonder enige taal gebou word?

     
    Groete,
    Angus
  • Beste Angus

    Ek stem nie saam dat taal 'n mens se denke vorm nie.

    Ek stem wel saam dat, soos mens deur die dag gaan, jy nou en dan goed prewel in taal, soos wanneer jy verbaas is of jou duim met 'n hamer raakslaan (dan prewel jy hard).  Jy is egter nie besig om met jouself te kommunikeer nie, jy gee nie vir jouself inligting nie; jy gryp net hier en daar 'n geskikte woord, maw 'n woord wat die begrip in jou brein die beste 'pas'.  Soos jy self sê " ... enige taal deur jou brein FLITS'; daardie flits is baie vinniger as wat jy die woorde kan sê.

    Dit is dan ook hierdie rede hoekom taal verswak wat jy nie gebruik nie.  Afrikaanssprekendes praat heeldag en aldag Engels (want dis mos nou die amptelike taal van 94 af)  en naderhand is jy so gewoond aan die Engelse woorde dat dit die eerste woorde is wat jy gryp om die begrippe in jou kop aan iemand anders oor te dra.

    Ja jy kan 'n huis sonder enige taal bou; 'n goedgedetailleerde tekening verteenwoordig duisende der duisende woorde.  Daar is egter spesifikasies en beskrywings op tekeninge wat weer baie prentjies kan verteenwoordig wat die lees van die tekening makliker maak.  Dit dui egter geensins daarop dat jy in 'n taal dink nie.

    Groetnis
    Jan Rap

  • Beste Jan Rap,

    Natuurlik vorm taal jou denke, want dit gee vorm aan jou denke. Daarsonder is jou denke abstrak en vormloos. As jy dink oor die politieke situasie in SA kan jy dit onmoontlik doen sonder taal. Jy moet gebeure situeer, maw gebeure in ruimte en tyd plaas. Jy kan nie dink aan mense, politieke partye, plekke, sonder taal nie. 
     
     As ek my duim raakslaan, vloek en skel ek dat die bure my kan hoor, ek prewel nie, nie eens hardop nie. Nee, Jan, ? mens loop gedurig met homself en gesels, sodat Chomsky hierdie innerlike taal op 98% stel van alle taalgebruik.
     
     Jan, jy kan nie ? huis sonder taal bou nie. Ek en my seun bou hier onder in die vallei so ? afdak waar ons op reënerige dae ons intrek neem, en braai. Eerstens het ons ? plan geteken, en sou dit nie sonder taal kon doen nie. Ons het potlood, papier en uitveër nodig, wat ons nie sou kon kry as daar nie taal was nie. Ons moes beplan watter materiaal ons benodig, wat sonder taal onmoontlik is. Ons moes die mate aandui op die plan, wat sonder taal onmoontlik is. Ons moes die materiaal bestel van drie plekke, wat onmoontlik sou wees sonder Engels by twee plekke, en Afrikaans by een plek. Ek en hy bou dit sonder hulp, en moet met mekaar kommunikeer oor waar gate gegrawe, spykers ingeslaan, waterpas gehou moes word, ens. 
     
     Sonder taal kan niemand ? huis bou nie. Hoe op aarde gaan jy die perseel koop sonder taal? As jy dan wel ? grondbesitter is, sal jy seker ? argitek wil kry om die huis te beplan. Hoe lei jy ? argitek op sonder taal? Jy kan tog nie self met ? stokkie in die sand jou huisplan teken nie? Hoe gaan jy beplan watter materiaal om te gebruik? Hoe gaan jy dit aandui op jou plan? Hoe en vanwaar bestel jy dit? (Tensy jy natuurlik sommer ? klipskeur in gedagte het, met droë bossies as deur.)
     
     Ons dink almal deur middel van taal. Ek dink dmv taal voordat ek enigiets hier op SêNet skryf.  Taal beïnvloed jou denke, en denke beïnvloed jou taal, omdat jy in ? bepaalde milieu beweeg.
     
     Groete 
     Angus
  • Beste Angus

    Taal vorm nie denke nie, want jy moet dink om gedagtes in taal om te sit.  Eers dink hoe jy dit gaan sê en dan gebruik jy die selfstandige naamwoorde, werkwoorde en dies meer tot jou beskikking en dan, met die regte grammatika, stel jy die groep woorde saam om 'n sin te vorm wat jy dan in klank omsit om jou denke aan die ander oor te dra.  Dus dink, kompileer of saamstel (in taal) dan praat. Jy moet dink om te praat, jou gepraat vorm nie jou denke nie.

    As Chomsky sê 98% van taalgebruik is innerlike taal is hy miskien reg maar innerlike taalgebruik, alhoewel 98% van taalgebruik (volgens Chomsky), is 'n breukdeel van denke.

    As jy helpers het met jou huisboustorie kan jy dit nie doen sonder kommunikasie nie waarvan taal maar een van die kommunikasiemiddele is.  As jou helpers almal; sê Portugees is, gaan jy nie taal inspan nie maar gebare.

    Jy vra hoe op aarde gaan mens klaarkom sonder taal.  Baie moeilik, miskien glad nie maar dit is nie 'n bewys dat mens in taal dink nie.  Jy sê mens dink deur middel van taal?  Glad nie, jy dink deur middel van elektriese of chemiese aktiwiteit in jou brein wat jy dan deur middel van taal oordra aan met wie ook al jy wil kommunikeer.

    Groetnis
    Jan  Rap

  • Beste Jan,

    Dit lyk my jy snap weer eens nie wat ek vir jou probeer verduidelik nie. Denke en taal is nie dieselfde nie, maar jou denke is niks werd as jy dit nie omskep in taal nie. So nou is die twee aan mekaar verbonde dat dit moeilik is om hulle van mekaar te skei. Terwyl jy dink, is jy gedurig besig om met jouself te gesels.
     
    As ek hier praat van taal dan bedoel ek nie noodwendig Duits, of Engels of Afrikaans nie; ek bedoel "language". Hierdie taal het draers, en die gesproke taal is maar een van die draers. Gebare, gebaretaal,  vingertaal, mimiek en skryftaal is ander draers van taal, elk met sy eie struktuur. Ek het dit al voorheen aan jou verduidelik.
     
    Groete,
    Angus
  • Beste Angus

    Jy reken, hierbo (10 Maart) ek snap nie wat jy verduidelik nie en gaan voort deur te sê denke en taal is nie dieselfde nie maar dat denke niks werd is as dit nie in taal omskep word nie.  Dis nou weer 'n nuwe rigting wat jy inslaan.

    Ek het reageer op jou stelling dat 'taal jou denke vorm'.  Op 3 Maart hierbo vra jy my of ek saamstem dat taal mens se denke vorm.  Ek het gesê nee; mens dink nie in 'n taal nie.

    Op 8 Maart hierbo sê jy "Natuurlik vorm taal jou denke."  Ek het gesê nee dit is nie so nie en redes vir my stelling gegee wat maar weer eens daarop neerkom dat mens nie in taal dink nie.

    Hierdie nuwe ding van jou nou, waar jy reken denke is niks werd as dit nie in taal omskep word nie is gedeeltelik waar.  Die volle waarheid is denke is niks werd as dit nie vergestalt word deur kommunikasie nie en een van die kommunikasiemiddele is taal.

    Groetnis
    Jan Rap

  • Beste Jan,

    Ek kan amper nie glo wat ek lees nie; ons is amper daar! Nog net so 'n klein regstellinkie.
    Dit wil my voorkom of jy met taal bedoel die hoorbare en sigbare daarvan, want jy praat van kommunikasie. 
    Met taal bedoel ek taal in sy volle omvang: innerlike, en uiterlike taal-aktiwiteit. Die uiterlike taal-aktiwiteit het verskillende draers van taal: gesproke, geskrewe, gebare-, vingertaal, ens., wat gebruik word vir kommunikasie.
     
    Groete,
    Angus
  • Dagsê Angus,

    Nee Angus, jy bedoel seker draers (of middele) van kommunikasie.  Taal is een daarvan, daar is nog ander soos diagramme, lyftaal, rookseine, telepatie, grom en blaf byvoorbeeld.  Geskrewe taal en vingertaal (ook morse kode) is nog steeds taal naamlik woordeskat en 'n grammatika.

    Wat jy en Chomsky-hulle ook al mag dink innerlike taal is, dit is nie wat jy gebruik om in, of mee, te dink nie. Jy dink nie in taal nie; soos 'n rekenaar dink jy deur middel van impulse in jou brein (by mens en dier is ook chemies-gedrewe impulse teenwoordig) en die uitset is kommunikasie in wat vir sintuie herkenbaar is, soos hoofsaaklik taal.

    Groetnis
    Jan Rap

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top