Reeds twee dae besig bloot net om die laaste jaar se groei terug te snoei aan die bome. Sodat hulle weer kan dra. En dit laat mens wonder, veral oor die mensdom: As ons die mens wegneem uit hierdie wêreld sal daar in minder as een slim geleerde se leeftyd weinig van sy werke oor wees. Die duur matte in die sitkamer sal met gras oorgroei wees, die wortels van die kleinste boom sal binne 'n kort tyd die duur beton van die fondamente binnedring en dit verkrummel tot blote sand. Die mooiste werke van sy hande sal verrot en sy duur skilderye sal nie eens deur vee gevreet word nie, die skimmel sal dit stuk vir stuk vermurwe tot niks. Die dikste staal verkrummel tot blote roes en die miere dra dit stukkie vir stukkie weg tot daar later net vol miershope oorbly.
Sit noudie dag, terwyl ons 'n duur beton graf moet uitbou vir een van ons belangrike burgers en kyk na die miere: Hulle loop in gelid uit wat noudie dag 'n vars graf was. Ons bêre ons medemense diep genoeg weg sodat hulle ver genoeg buite sig en reuk is maar die miere delf dieper. Hulle dra jou stukkie vir stukkie weg. Moes dit tot my skok besef die dag wat ons 'n effens vars graf moes oopmaak omdat daar iemand bo-op die arme oorledene gebere moes word.
Dit laat my wonder oor hierdie ding van ons mense en hoe ons dink en doen. Want ons dink en doen asof ons die enigste spesie is wat hier is. Die een wonder oor die god en die ander oor die gebod en dan wonder meeste saam oor sin en dan is daar nog die ideale en filosofieë en dogmas en die vae goed tussenin. Veral as jy 'n vae spesmaas gehad het van effense kennis is jy juis nog meer verhef.
Ek beduie vir Top dat ons die graf behoorlik moet uitpleister want die man was 'n professor en sy vrou is 'n vername vrou in die gemeenskap. Hy bag die stene met dieselle rou aangemaakte sement want ons moet darem geld maak ook uit die dood en hy beduie na sy pa se graf net neffens en dat dit maar dieselle miere is wat beide wegdra.
Ek vra hom of hy dalk weet wat die sin agter alles is en hy beduie nee, hy het geen idee nie, maar as hy nie die stene behoorlik gaan klaarkry nie kan hy nie vanaand draw nie en dan kan sy kinders nie eet nie. Hy beduie dat ons moet klaarmaak want die liggaam in die yskas lê yskoud en hy moet in hierdie gat in voor hy verder verrot.
Ek vra hom of hy weet wie die man is wie se graf ons nou bou en hy beduie my nee, hy het geen idee nie maar hy neem aan dat dit 'n vername man was want ons doen ekstra moeite.
"Maar in hierdie gat moet hy in. Soos jou pa net 'n paar erwe ondertoe en my pa net hier boontoe. Jou huis is groot en hierdie professor se huis nog groter. My huis is 'n plankehuis. Ons moet almal onder die grond in. Daardie grond is lankal gekoop."
"Gee aan die water laat ek kan klaar bag, ons kannie iemand weglê in 'n vars gepleisterde graf nie."
oester


Kommentaar
Ja - so ironies. Oulik geskryf oester.