Dis al baie jare wat ek oorweeg om die verhaal van Boet en die Bom te vertel. Ek het altyd nog gehuiwer om dit te vertel omdat ... wel, dit is 'n moeilike een. Ek huiwer nou nog. Boet se verhaal is beide komies en tragies, omdat 'n lieflike, humoristiese mens op die ou end ten gronde gegaan het. En ek vertel dit nie as 'n hoorsê verhaal nie. Nee, dis 'n verhaal wat ek aan my eie lyf ervaar het.
Deel van my huiwering is ook omdat dit moeilik is om geloofwaardig oor te dra. Jy sal hiervan lees en dalk vir jouself sê: "Nee wat, dis nou weer 'n wolhaarstorie!" So hoe moet ek jou oortuig dat dit alles die waarheid is? Kan ek my hand hier in die kuberruim op die Bybel sit? Nee, maar met my muis op die e-Sword ikoon sê ek vandag vir jou: Boet se verhaal is die waarheid soos ek dit self ervaar het.
Die hoogtepunte van sy verhaal het hier tussen 2000 en 2008 afgespeel. Maar die begin daarvan is veel vroeër. Seker toe hy 'n jongman in die 1970's was.
Boet was 'n kerkmens.
En dis ook waar ek hom in die begin van die 1990's ontmoet het. Ons grootkerk het besluit dat die stad plek het vir 'n kleinkerk, en ons was deel van die pioniers wat hierdie projek moes laat werk. En harde werk was dit.
Geografies was ons aan die oostekant van die gebied wat ons gedien het. Boet het 'n selgroep begin, en soos hulle gegroei het, het nuwe selleiers ingekom en nuwe selle begin. My selgroep was seker die derde of vierde een wat onder Boet se leiding ontstaan het. Tussen 1994 en 1998 het my selgroep seker drie keer opgedeel, en dit het beteken dat Boet en Mevrou Boet ons areaherders geword het. Soos ek sê: Boet was 'n kerkmens.
Sy nering was die van 'n ontwerptekenaar. Hy het in die 1970's geleer om op groot tekenborde te teken, en toe die Computer Aided Design programme in die 1980's ontwikkel het, het hy dit ook leer doen. As hoogs intelligente ontwerper en tekenaar kon hy meganiese- sowel as siviele planne teken.
Die kans is goed dat jy al met sy werk in aanraking gekom het. In die laat 1990's het ek langs hom gesit en kyk hoe hy die Toyota-dubbelkajuit bakkie se dak teken, sodat 'n CNC-masjien 'n vorm daarvoor kon maak vir die Toyota se bakwerk-aanleg. Dalk het jy al in so 'n bakkie gery?
Boet het vir 'n sakeman in ons kerk gewerk. Hierdie man se besigheid het vinnig gegroei, en hy het later drie CNC-masjiene gehad. My besigheid het destyds die patroondrup-rekenaars voorsien wat die XYZ-koördinate deurgevoer het aan die CNC-masjiene. Boet het sy CAD-tekeninge op 'n IBM RISC6000 gedoen. As hooftekenaar het Boet die grootste salaris in die besigheid verdien, want die eienaar het probeer om markverwante salarisse te betaal.
Op 'n persoonlike vlak het beide Boet en Mevrou Boet aan 'n confetti-allergie gely. Wie die meeste daaraan gely het, is moeilik om te sê. Die sewejaarjeuk het hulle erg getref. Ek is nie regtig seker hoeveel keer hulle oor die jare mekaar gelos en weer gevat het nie, maar ek dink dit moes die derde keer gewees hier teen 1999. Teen daardie tyd was hulle twee oulike kinders al uit die huis uit. Dié allergie was maar net een van die bydraende faktore wat op die ou end vir Boet ten gronde laat gaan het.
Maar kom ons gaan terug kerk toe.
Enige vinnig groeiende organisasie het sy eie stel groeipyne. Glo my, 'n kerk is niks anders in dié verband nie. Daar word mos gesê dat indien jy 'n perfekte kerk vind, jy asseblief tog net nie moet aansluit nie, want dan gaan dit nie meer perfek wees nie.
Mense maak 'n kerk. Mense met hulle probleme, swak selfbeelde en manipulerende persoonlikhede. Pedofiele, belastingontduikers en rowers gaan ook kerk toe. Psigopate en narcissiste ook. Swingers en gays, die met skuldgevoelens asook die gewetenloses ken die binnekant van 'n kerk.
So as jy nou Boet se verhaal hier lees, en jy dit durf waag om 'n sweempie van oordeel jeens hom te toon, wil ek jou na jou badkamerspieël toe stuur en vir jou sê: "Zwijg, je hobbelige dikke darm! Je bent net zo slecht een zondaar als ieder ander."
Een Sondag het iemand 'n waarskuwende profesie in die kerk gebring. Die kern daarvan was: "Die kerk gaan geskud word." Beide ironies en tragies was dat die kerk se leiers later die aardbewing en orkaan wat hulle gelyktydig getref het nie herken het as die uitkoms van hierdie profesie nie. Nou wat jy ook al mag dink van kerke en profesieë, of jy nou gemaklik of ongemaklik is daarmee, die kort en lank van hierdie verhaal is dat die aardbewing se een node by Boet, ons kerkmens, gesit het.
Die wêreldwye ekonomiese insinking van 1998 het my besigheid swaar getref. Boet se werkgewer het dit ook gevoel. By ons kerk se sake-forum het ons die moeilike tye bespreek en mekaar probeer ondersteun. Baie besighede moes hulle personeel herstruktureer. Boet se junior kollegas het veel kleiner salarisse getrek, en sy werkgewer het met 'n paar swak verskonings hom net summier afgedank. Sou Boet hierdie onregmatige afdanking arbeidshof toe geneem het, sou hy sekerlik sy saak gewen het. Maar heilige kerkmense laat mekaar mos met moord wegkom.
Gedurende 1999 het Boet vir mense huisplanne geteken, aanbouings gedoen as hy die soort werk kon kry, en finansieel baie swaar getrek. Boet en Mevrou Boet se allergie het onder hierdie omstandighede weer kwaai opgevlam. Die gejeuk was erg en hulle kon eenvoudig nie bymekaar bly nie. Die kerk se leierskap het besluit hierdie gejeuk en gekrap lei tot gangreen, en in plaas daarvan om die seer ledemate nader aan die liggaam te trek en te verbind, amputeer hulle vir Boet en Mevrou Boet, en verbied enige ander lidmaat om met hulle kontak te hê.
Maar dit was nog net die ligte trillings wat deur die kerk gegaan het. Donkerblou stormwolke het op die horison saamgepak, en die kerk was onbewus van wat oppad was.
Dit was Januarie 2000 toe ek die telefoonoproep gekry het: "Boet sit in Lyttelton Polisiestasie se selle. Hy het 'n bank probeer roof!"
Jy kon my met 'n veer omslaan. Sekerlik het ek nou nie reg gehoor nie. Daar moet 'n fout wees. Ek het dadelik soontoe gery om hom te gaan sien. "Boetie", het hy vir my gesê, "ek het kak aangejaag!"
My grootste kliënt was daar in Lyttelton gewees, so ek kon hom gereeld by die Polisiestasie besoek. Besoektyd was tussen 17h00 en 18h00, en toe ek een Vrydagmiddag vassit in die verkeer van Johannesburg af, kon ek dit nie betyds maak nie. Ek het die polisiebeampte mooi gevra om net 'n Coke en 'n pak aartappelskyfies vir Boet te vat, toe hy my saamneem selle toe. Gewoonlik het ons in die binnehof gekuier, maar die beampte het my daardie dag saam met Boet in sy sel toegesluit. My selfoon se battery was aan die pap raak, en Boet het lekker gelag. "Nou gaan jy die naweek saam met my varktjops in die selle eet!"
Terwyl Boet verhoorafwagtend was, was hierdie sy woning. Dit het bestaan uit drie vertrekke. Die middelste vertrek het tralies en 'n traliehek aan die gang se kant gehad. Teen die oorkantste muur was twee storte. Geen privaatheid nie. Links en regs was twee kamers wat elkeen twee prisioniers gehuisves het. Elke kamer het 'n vlekvryestaal toilet sonder 'n deksel gehad. Boet het sy kamer gedeel met 'n jong student wat sy hele gesin vermoor het. "Hy slaap nie in die nag nie", het Boet my vertel. Nie dat slaap maklik was nie. Die polisiebeamptes het deur die nag elke uur kom kyk of almal nog daar is, en nie dalk intussen selfmoord gepleeg het nie.
Voor 2000 het ek niemand agter tralies geken nie. Maar skielik, binne ses kort maande het ek nie minder as vyf mense geken wat hulself in verskillende fases binne die draadwerk van die Korrektiewe Dienste bevind het. Een pierewaaier van Melville was reeds op parool. Willie, ook in die rekenaarbedryf, was in Baviaanspoort, en Boet en twee ander van onse heilige kerk was verhoorafwagtend. Een van hulle het belasting ontduik, die ander het 'n minderjarige meisie in sy bed ontdek ... Nee, nou sê ek dit verkeerd. Hy het haar toe gedek. En Boet was ons bankrower.
Boet se rowery het in 1999 begin. Later, toe hy in Maksimum in Baviaanspoort gesit het, het hy vir my en 'n pastoorsvriend daarvan vertel. Sy eerste roof was Sinoville se poskantoor. Die bebaarde Boet het met 'n mus op sy kaalkop en 'n pleister op sy neus die poskantoor binnegeloop en gevra om die posmeester te sien. Boet het aan die posmeester erken dat hy nog nie die soort ding gedoen het nie, maar dat dit 'n gewapende roof was. Hy het hom gewys dat hy 'n 9mm pistool agter in sy broek ingedruk het. "Hoe stel jy voor kry ons die geld in hierdie Checkers-sakke?" het Boet hom gevra. "Kom ons sê vir die personeel jy is van Hoofkantoor af,” het die posmeester sy samewerking gegee. Hulle het by elke teller die kontant gaan haal, in die sakke gedruk en Boet het buitentoe geloop. Hy het in sy Toyota TUV bakkie geklim en huis toe gery met ongeveer R50,000.00.
Die Sinoville Polisie het van dag een af vermoed dat Boet die rower was, want daar was net een so TUV-bakkie in die omgewing gewees. Hy het eendag die speurders in sy asblik sien krap. Hulle was besig om hom te ondersoek. Maar sy omstandighede sonder vrou, sonder werk, en binnekort sonder huis het hom aangedryf om anderkant die berg die Villeria Poskantoor ook te gaan beroof.
Intussen het hy aangegaan om aanbouings te doen, maar kon partymaal nie die lone betaal nie. Hy het een oggend by 'n manne-byeenkoms tussen 07h00 en 08h00 by Thomas se huis nog die kitaar gespeel, en 09h00 toe Saamboubank se een tak oopmaak, roof hy hulle.
"Wat het jy met die geld gemaak?" wou ek weet.
"Ek het dit alles geblaas!" was sy eenvoudige antwoord.
Teen Januarie 2000, nog voor ek gehoor het van sy laaste roof wat skeefgeloop het, het Boet 'n drieknoppie-muis vir sy rekenaar by my kom koop. Dit moes 'n Logitek-muis wees, want dit is al wat met sy AutoCAD program gewerk het. Ek het spesiaal een vir hom in Sandton gekry, en het die alkohol in sy asem geruik toe hy dit kom afhaal het.
"Ek hoor Boet dobbel by die casinos noord van die stad," het iemand die straatstories aan my kom vertel.
"Dit verbaas my nie," het ek geantwoord. "As hy kan drink kan hy seker dobbel ook?" Min het ek op daardie stadium geweet dat ek roof by die lys van drank en dobbel kon voeg.
'n Week of wat later het Boet sy meesterplan reggehad vir ABSA Lyttelton. Met sy gewone vermomming het hy ABSA binnegestap en kalm vir die teller vertel dat hy 'n bom in die winkelsak het. Die sekuriteit was toe alreeds bewus van sy vermomming, en binne drie minute het die Polisie hom oorrompel. Hy het daar op die vloer alles uitgeblaker en erken. Hy is mos 'n kerkmens.
Later, tydens die ondersoek, wou die speurders by hom weet hoe hy so vinnig tussen die Oos-rand en Pretoria met 'n TUV-bakkie kon pendel om sy rowe te pleeg. "Ek het julle reeds gesê," was sy antwoord, "ek het niks op die Oos-rand geroof nie!"
Tot hulle verbasing het dit uitgekom dat die bebaarde rower op die Oos-rand met 'n mus op sy kop en 'n pleister op sy neus NIKS te doen het met die bebaarde Boet wat toevallig dieselfde vermomming gebruik het nie. In 'n Huisgenoot-artikel was Boet die "Rower met die Sagte Stem" genoem.
Boet het die personeel van die twee poskantore, vyf Saamboubanke en een ABSA getraumatiseer en geld gevat wat nie aan hom behoort het nie. Hy was verkeerd en het dit ruiterlik erken. Ek kon die hofstukke gaan navors het voordat ek hierdie verhaal begin vertel het. Maar ek is bewus daarvan dat ek op 'n moddergooiery sou afkom tydens die verhoor wat vandag niks vir enige een sou beteken nie. Hy en sy prokureur het met leuens en waarheid geveg net om sy vonnis ligter te kry. Die uiteinde was dat 'n hoogs intelligente man 'n vals bomdreigement gemaak het, en 'n 22-jaar vonnis was hom opgelê.
Wat Boet baie gepla het, was dat hy sy mede-kerkmense teleurgestel en seergemaak het. Hy wou almal om verskoning vra, en het ten einde vir my 'n brief gegee wat ek aan die kerkkantoor moes stuur. Sy versoek was dat dit aan almal voorgelees moes word. Die kerk was egter nie ontvanklik vir hierdie aksie nie. "Alle pos/e-pos en fakse van Sandvelder af smoor jy hier in die kiem!" was Grootpastoor se woorde aan die kerkkantoor se dame. Hy wou alle vuilis uit sy kerk uitvee en Sandvelder het saam met die tronkvoëls voor die besem beland. Maar ek was toe al klaar weg gewees. Na 26 jaar in gesamentlik die grootkerk en die kleinkerk het ek 'n "mission completed" gevoel soos min gehad. 'n Ander kerk het my en my gesin verwelkom.
Ek sou graag hier wil vertel dat ek die edel ding gedoen het en elke week vir Boet in die tronk gaan kuier het, maar tot my spyt moet ek erken dan ek dit nie so gereeld gedoen het nie. Dis baie maklik om vir 'n verhoorafwagtende in die Polisieselle te kuier. Ek het gou uitgevind dat dit baie moeiliker is om vir iemand in Diepkloof of Sentraal of Baviaanspoort te gaan kuier. Besoekers word ook onderwerp aan 'n deurvoelery, en as jy eers daar uit is, sit die tronk nog in jou klere.
Aanvanklik is hulle besoektyd baie beperk, en ek wou nie sy familie die geleentheid ontneem het om te gaan kuier nie. Ons het vir mekaar geskryf, en ek het al sy briewe gebêre. Dit was sy intensie om ook vir die Saamboubank se destydse hoof, Johan Myburgh, 'n brief te skryf en om verskoning te vra. Ek sou dit persoonlik aan Johan kon oorhandig, omdat ons familiebande deel. Maar Saambou se ondergang was ook reeds teen daardie tyd bewerk gewees en Johan Myburgh is daarna oorlede.
Later, nadat Boet na die Mediumgevangenis oorgeplaas was, kon ek en ander vriende hom meer gereeld besoek. In die tronk het hy dienste gelei en gepreek. Met sy kitaar het hy die aanbidding ook gelei, en hy was vir die Korrektiewe Dienste personeel 'n aanwins gewees. Baie mede-gevangenes het onder Boet se prediking tot bekering gekom. Hy was Sesotho magtig en was baie gewild gewees.
Na agt jaar in die tronk het ons die nuus gekry dat Boet op parool vrygelaat was en dat hy by sy dogter en haar man tuisgaan. Ek het uitgesien daarna om hom as 'n vry man te sien en 'n vleisie saam met hom te braai. Dit is wat hy die meeste gemis het. 'n Braaivleis. Sy gesin het my vertel dat hy die eerste week na sy vrylating omtrent elke dag net wou braai. Hulle het hom dit gegun, en hy het die sappige lamskotelette geniet. Te veel daarvan, het ons later uitgevind. Agtien dae na sy vrylating het hy aan 'n hartaanval beswyk. Hy was ongeveer sestig jaar oud.
Sy begrafnis in Centurion was aangrypend. 'n Predikant van Boet se dogter se kerk het begin deur te sê: "We are here today to celebrate forgiveness!" Later het Boet se dinamiese seun 'n huldeblyk gebring wat ons laat skater en laat huil het.
Interessant vir my was die ander mense wat die begrafnis bygewoon het. Boet se dogter en haar gesin en hulle hele selgroep was daar. Die selgroep mense het hom in die agtien dae na sy vrylating seker net tweekeer gesien, maar hulle was daar. Dan was een van Korrektiewe Dienste se opleidingsoffisiere ook daar. Ek ken die man toevallig, en hy het my vertel van Boet se beduidende invloed wat hy op sy mede-gevangenes gehad het. Die Skynheiliges wat Boet en Mevrou Boet destyds geamputeer het was ook daar. Hulle het nooit in die polisieselle of die tronk hom besoek nie, maar toe hy sterf was hulle daar. Soos aasvoëls.
Boet se lewe en sy dood het ons almal aangeraak. Wat hom vir my van die ander onderskei het, was dat hy nooit homself teenoor my probeer regverdig het nie. Hy het sy skuld erken, en wou regstel wat hy verbrou het. Hy was net nooit die tyd gegun nie.
Daar word gesê dat jy nie praat oor jou broer in die tronk nie. Nou ons was nie bloedbroers nie, maar ek gee nie om om van Boet te praat nie. Wat ek in die proses geleer het was dat die lyn tussen "binne" en "buite" maar baie dun is. Ek het geleer dat die tronk 'n gelykmaker is tussen ras en stand. Ek het geleer dat ek my eie vryheid baie moet waardeer. Meeste van ons roof nie banke nie, maar niemand kan sê dat een persoon meer of minder skuldig is as 'n ander nie.
Op een of ander manier dra ons almal skuld, en as jy die Genade van die Kruis van Jesus Christus nie ken nie, gaan jou skuld jou laat swaarkry. Boet was nie net uit Sentraal Gevangenis vrygelaat nie, hy was ook op die ou end uit die aardse gevangenis vrygelaat.


Kommentaar
Beste Sandvelder, jou brief het my nogal getref. Een van die heel beste ervarings wat 'n mens volgens my kan kry is kwytskelding/vergifnis. Dit is bevrydend. Ongelukkig is dit nie almal beskore nie. Party mense vergewe en vergeet nooit nie. Jy sal altyd iemand kry wat 'n misstap wat jy begaan het oproep en jou daaraan herinner. As jy nie iemand kan vergewe nie, hoe kan jy vra vir vergifnis. Gelukkig word ek elke dag agv my sondigheid en veilbaarheid vergewe.
Sandvelder, dankie dat jy wel die verhaal op skrif gestel het en (baie?) mense iets gee om oor te dink.
Weet jy wat was die skokkendste vir my? Dat lidmate verbied is om kontak met Boet en Mevrou Boet te maak en dat lidmate toelaat dat kerke met hierdie soort ding wegkom! Dis skandalig. Dankie dat jy vir Boet in die tronk besoek het. Ek vermoed dat dit iets is waarvan die meeste kerkmense sal wegskram.
Edgar Cayce was daardie merkwaardige, heldersiende Amerikaanse gelowige wat elke Woensdag tronkbesoek afgelê het. Oor só 'n man sal ek juig. Ek oordeel nou maar moet dit sê: is materialistiese beheptheid saam met 'n gebrek aan nederigheid van sogenaamde christene (klein c) nie maar die groot probleem nie?
Jy sal geseën word.
Beste wense
George B
Sandvelder, treffend geskryf. Dankie.