Luister al 'n paar dae na twee manne se slim skemas. Luister na hul lang stories want jy ken dit al van lankal af: As manne met lang ompaaie kom dan wil hy of geld leen, kos hê, by jou vrou aanlê of sommer net iets doen wat hy hoop jy nie sal agterkom nie.
Die een man is 'n bekende onner die manne wat smokkel, die anner? Wel, hy ook maar. Beduie in die beste detail hoe die hout al klaar reg lê en dit moet net gelaai word. Vragte, my maat, vragte!
"Hoe lyk dit, is daar nie 'n kans vir 'n voorskot oppie houtie?"
"Jy moet jou sommer heeltemal kom mal hou!"
"Oukei, maar kan ek solank sigarette, brood, koeldrank en 'n paar anner goete vat tot onsie hout gelaai het dan trek jy sommer alles af?"
"So jy wil nou nie geld hê nie maar eerder ... en daar’s 'n verskil?"
"Ja maar eks honger man, kyk hoe lyk my skouers vannie dra aan die lang houte. Dis dikke stompe wat ek al die pad spoorlangs moet dra. Ek tel die tree af en dis sommer baie ver."
Ek weet ek is besig om vir een van die oudste truuks in hierdie land te val maar die man is tog honger en ek sien hy soek iets om te rook en ons gee nie meer iemand die voordeel van die twyfel nie, want die meeste mense het klaar daardie geleentheid verspeel. En toe word ek waaragtig weer gevang ...
Ry vanoggend maar om te loop kyk waar die dik stompe hout is want die manne is tog hier weg met 'n spul rande en mens tel mos nie rande orals oppie. Wat eendag, nie baie lank terug nie nog 'n inryteater was is nou 'n vervalle plek waar allpayers, staatspensioeners en 'n paar ander rond en bont bly. Waar die projektorkamer was is nou opgedeel in 'n tweevertrek plek met aan die een kant 'n ou man en sy eenbeenvrou. Die Ford Cortina bakkie se verf blinkgepoets maar die roes is oral en ek wonder waarom iemand sy enigste ryding sommer so tussen die gras sal laat en dan nog die moeite doen om hom te was maar dis sy saak en sy ryding.
Ek vra waar die ander man is en hulle beduie om die hoek want hulle deel die gebou maar hulle het nie dieselle deur nie. Ons ry om en my klong snak na sy asem.
"Bly hier mense hier, Pa?" beduie hy en ek sien die hartseer in sy oë want ek ken hom al. Ek weet hy gaan wil hê ons moet hier ook kom red.
"Ja." Ek beduie hom hoe vrugbaar die aarde hier is en dat jy net nodig het om 'n stok in die grond te druk en hy sal groei. Maar die gras groei die sofa en die flenter driesitplek Russels-materiaal rusbank wat uitgegooi is en net so laat lê is toe. Waar jy kyk lê blikke en leë bottels en ou skoene en klere en genadiglik vreet die voëls en honne die kos wat gegooi word op. Nie dat hier eens meer honger honne oor is nie.
"Maar nie eens 'n dier leef so nie." Wys hy my toe die jong, gesonde Afrikaanse man dik gerook uitstap.
"Kyk, Pa hulle maak dan vuur op die stoep." Ek het nie antwoorde nie en beduie maar die ou cliché dat mens nie moet skyt waar jy vreet nie en hy beduie my "ja, maar dis in vele ander opsigte ook waar." Wyse jong man hierdie klong van my.
Ek beduie my klong hoe arm ons self was. Arm tot die punt waar daar nie geld was vir brood nie. Maar dat daar tog gebedelde bone-saad, uie en ander goete geplant is. En tientalle gesinne van die oorvloedigheid kos voorsien is. Want as die grond braak is en smeek om bewerk te word moet jy luister na die aarde.
Ons ry later terug en ek sien my klong het 'n hartseer uitdrukking. En ek het nie antwoorde nie. Want om arm te wees is nie lekker nie. En beslis ook nie so romanties soos wat die politici en filosowe probeer beduie nie. En hy karring aan my want ek weet hy wil weer kom uitdeel waarvoor ons ons gatte af moet werk.
Om arm te wees terwyl die rykdom voor jou lê en vergaan is nie jou lot nie, dit is jou eie skuld.
oester

