Jaco
Jou kommentaar onderaan my brief aan Angus van 19 deser verwys. Jy begin met jou antwoord oor hoekom jy wat Jaco is dink Afrikaans gaan uitsterf. Uit jou antwoord blyk dit ook duidelik dat jy van mening is dat Afrikaans reeds aan die uitsterf is.
Jy reken – seker as teëspraak op die feit dat Afrikaans in die verlede ten spyte van enorme druk gegroei het – dat daar in die verlede ‘n ander soort druk op Afrikaans was as wat daar teenswoordig is. Jaco, druk is druk, jy’s steeds dood as jy met ‘n skroewedraaier in plaas van ‘n mes doodgesteek is.
Al het ons, soos jy sê, nie meer direkte kontak met die ‘vorige Engelse heerser’ nie, het ons wel kontak met die huidige Engelse heerser en, alhoewel Engels nie die huidige heerser se eerste taal is nie, word dit nog steeds in ons kele afgedruk en Afrikaans is nog steeds onderhewig aan ‘n heksejag.
Jou tegnologie-storie hou nie water nie. Die Engelse het nie besluit om Duits te omhels toe hierdie nasie aan die voorpunt van ontwikkeling was nie (daar was wel Duits in skole en universiteite juis om hierdie rede aangebied). Gedurende die Hollandse Goue Eeu het die ander nasies ook nie besluit hulle gaan nou hulle eie tale versaak en Hollands aangryp nie (terloops, daar is die staaltjie dat, toe Galileo sy teleskoop ten toon stel en antwoord dat hy hom self gemaak het, was die kommentaar: “Twak man jy’t hom in Holland gaan koop”).
Dit is juis weens die vordering van die tegnologie en wetenskap (kennis in die algemeen) dat dit uiters noodsaaklik vir die behoud van Afrikaans is dat Afrikaanssprekende navorsers hulle bevindinge in Afrikaans publiseer. Daar is absoluut geen rede hoekom dit in Engels moet wees nie (behalwe nou vir die feit dat die heersers en sekere meelopers en agterryers dit so verkies).
Indien navorsers dink hulle werk sal in vergetelheid gedompel word as dit in Afrikaans is hoef hulle nie te vrees nie want, as dit so was, sou Afrikaanse spioene rustig in Afrikaans kon kommunikeer sonder dat enigiemand weet waaroor hulle praat. Buitendien, elke skripsie, verhandeling of referaat het ‘n opsomming in ‘n ander taal aan die begin.
Jy sê Afrikaners en Swede praat met mekaar Engels (Twitter en Facebook). Dis ‘n sotlikheid; die Swede doen dit om, reken ek, oulik te wees maar indien daar Afrikaners is wat so iets doen is dit weens gedienstigheid; hulle is al so verzombie en gebreinspoel dat hulle nie eers weet jy kan in jou eie taal kommunikeer nie. Goddank Almal Is Nie So Nie.
Jou veranderende “office block”-storie is ook sonder bodem. Dit is nie te betwyfel dat hoofsaaklik Engels in so ’n geval aangewend gaan word nie maar, in die geval van die Japanner en die Spanjaard wat jy in jou voorbeeld noem, hou hierdie praktyk geensins gevaar in vir Japannees of Spaans nie. In die geval van die Afrikaner geskied dit wel ten koste van Afrikaans. Buitendien, nie elke liewe Japanner of Spanjaard is Engels magtig nie; indien daar wel so ’n konferensie plaasvind sal die onderskeie konferensiekamers wemel van vertalers.
Gilomee is verkeerd as hy sê die voortbestaan van Afrikaans sal in die toekoms alleen berus op sterkte van lojaliteit (soos jy hom aanhaal). Wat wel waar is, is dat Afrikaans kan verdwyn weens ‘n afname in sprekers wat weer die gevolg is van, nie Afrikaners wat doodgaan nie, maar Afrikaners wat Engels omhels uit gedienstigheid, joinerisme en ‘n meelopersinslag – futloosheid dus, ‘n flapdrolhouding soos die Hollanders sê.
Buitendien, daar is ‘n bekommernis wat wêreldwyd kop uitsteek naamlik die verdwyning van verskeidenheid. Die manifestasie van hierdie kwynende verskeidenheid is die duidelikste in landbou. Kultivars word gekweek – onder andere deur middel van genetiese manipulasie – vir ‘n lang raklewe, gemak wat oes betref, kosmetika ens ens met rampspoedige gevolge. ‘n Plantsiekte byvoorbeeld wat ‘n oes tref vernietig alles en die diverse kultivars, waarvan sommige die siekte sou kon weerstaan, se saad is lankal verlore (in Viëtnam gebeur). Meer as 80% byvoorbeeld (dis reg, 80%, in sommige gevalle oor die 90%) van appel-, tamatie-, mielie- en slaaivariëteite het al verdwyn sedert 1900.
Dit is nie net landbou wat deur hierdie kommersialisasie en globalisering getref word nie, dieselfde gebeur met tale, soos Afrikaans byvoorbeeld, en om dit toe te skryf aan “... maar die beloop van die lewe ...” is onverantwoordelik, krimineel sou ek sê.
Wat Dan Roodt en Steve Hofmeyr betref: Ek het nooit gesê hulle is taalbulle nie; ek ondersteun hulle in hulle teenkanting wat betref die verguising van die Afrikaner en, ipso facto, Afrikaans. So, vir die hoeveelste maal, ek saal nie ‘n taalperd op nie, ek saal ‘n behoudingsperd op. Net so min as wat ek die Karoo geplunder wil sien vir wins vir vreemdes, so min wil ek Afrikaans sien verdwyn vir ander se gemak (en party van daardie ‘ander’ is nogal van ons eie mense).
Groetnis
Jan Rap


Kommentaar
Jan
My mening, soos joune, rakende Afrikaans se toekoms is suiwer spekulatief.
Ek is wel met jou eens waar jy sê: "Wat wel waar is, is dat Afrikaans kan verdwyn weens ‘n afname in sprekers wat weer die gevolg is van, nie Afrikaners wat doodgaan nie, maar Afrikaners wat Engels omhels."
Soos die Franse Hugenote van die Kaap mettertyd hul taal vir Kaaps Hollands prysgegee het, is dit my persoonlike mening dat dit geleidelik besig is om onder Afrikaners dieselfde te gebeur wat hulle taal mettertyd met Engels gaan vervang. Feitlik het tegnologie 'n groot aandeel daaraan, plus volgehoue emigrasie wat Afrikanergeledere veminder, asook die feit dat Afrikaners 'n negatiewe vervangingsgeboortegroei tans toon. Ek beskou die ANC se huidige aanslag op Afrikaans nie as 'n deurslaggewende faktor nie, want dit lok weerstand.
Nie soos jy nie, gaan ek nie my kop daaroor breek en slaaplose nagte deurmaak nie. Afrikaans sal nie in my leeftyd vergaan nie, dus soos Angus dit stel, dit bruis, daarom geniet ek die Afrikanerson terwyl dit vir my steeds skyn. Wat in die toekoms, na my afsterwe, daarvan gaan word, is vir my om 't ewe, want die taalkeuses van die volgende geslagte is hulle reg.
Jan se probleem met Afrikaans is hy wil dit laat kompeteer met Engels en dis heeltemal onmoontlik. My seun is bestuurder van 'n maatskappy met die hoofkantore in Duitsland. Sy korrespondensie met hulle is in Engels; selfs as hulle met mekaar oor die rekenaar gesels dan praat die Duitsers vlot Engels.
Angus, die donkie-storie is waar. 'n Ouma van my het ook van so 'n bord vertel. Daarop het gestaan: "I am a donkey". Die bord is om 'n kind se nek gehang as hy/sy 'n Afrikaanse woord gebruik het en moes gedra word totdat hy/sy dit aan 'n volgende oortreder kan oorhandigl. Die woord "Efrikens" in jou aanhaling moet "Dutch" wees.