Beste Angus
Nee Angus, die 'basiese' probleem is taalvermenging, nie 'ontlening' nie soos jy beweer in jou brief van gister. Die sin "usually as ek vir my goals geset het, achieve ek hulle" is vermeng, dus besoedel, met Engels net soos die Engelse sin "gewoonlik, once I have stelled myself some doelwitte, I'll bereik them" besoedel is met Afrikaans.
Die woordeskat van enige taal bevat leenwoorde en meeste van ons, soos ek onder andere, weet nie eers watter woorde almal leenwoorde is nie want dit is 'n integrale deel van die woordeskat. Meeste van ons kan egter dadelik 'n vreemde woord uitken en die feit dat beide spreker en hoorder die betekenis van die vreemde woord ken maak dit nie teel van die taal (of 'n leenwoord) nie.
Laat ek jou brief paragraaf vir paragraaf behandel, voor jy sê ek systap sekere kwessies:
Jy sê volgens my moet 'n woord deel wees van 'n taal voor hy gebruik kan word. Nie heeltemal 'n korrekte siening van wat ek sê nie want volgens my moet 'n woord deel wees van 'n taal voor hy VERSTAAN kan word. Jy kan byvoorbeeld 'n Swahili-woord gebruik as jy met my praat maar ek sal dit nie verstaan nie want ek kan nie Swahili praat nie.
Jy plaas 'n vet opskrif waarin jy my vra om nie weg te skram nie maar die eerste vraagteken wat ek kry is agt paragrawe verder (behalwe nou vir die spesifieke vraag tussen hakies in paragraaf 7).
So, kom ek behandel maar daardie punte onder die vetskrif (selfde nommers as joune):
1 Jy sê, vir die Engelse enkele woord, is daar 'n hele omskrywing in Afrikaans wat betref wetenskap, regswese, landsbestuur, tegnologie ens. Onsin, vir al daardie Engelse terme bestaan daar in Duits, Russies, Afrikaans, Frans ens terme. Om die waarheid te sê, veral in filosofie en sielkunde is baie Engelse terme aan Duits ontleen.
Daar is wel terme en begrippe in Engels waarvoor daar in Afrikaans (en ander tale) 'n omskrywing nodig is maar net so is daar in Afrikaans (en ander tale natuurlik) weer terme en begrippe waarvoor daar in Engels 'n omskrywing nodig is. Dink maar aan die sinnetjie "doen moeite" of "jy is darem oulik" of "ek het my sommer vervies". Daar is duisende voorbeelde.
2 Jy sê die Engelse woord "... druk die gedagte noukeuriger uit as die Afrikaanse woord...". Onsin; die ou wat Russies, Afrikaans, Duits of Fins praat, enige taal, druk sy gedagtes net so goed uit. Wil jy nou vir my sê, omdat iemand Engels is, hy beter kan redeneer of filosofeer as iemand wat ,sê Russies of Duits of Frans, is?
3 Sien punt 1
Jy sê omdat Engels 'n wêreldtaal is, is sy invloed op Afrikaans groter. Dit is so dat sy invloed op Afrikaans groot is maar nie uit hoofde van die feit dat hy 'n wêreldtaal is nie maar omdat hy in ons kele afgedruk word. Dit is juis waarteen ons moet waak want Engels het byvoorbeeld al, onder andere, Iers en Wallies vernietig.
Wat Steve en Gert betref: Jy het al erken dat, wat geld vir Afrikaans, geld vir alle tale, en dit is dié dat ek van taal X en Taal Y gepraat het, die algemene geval. Op gevaar af dat dit jou deurmekaar gaan maak, lees maar stadig: As spreker van taal X sy taal met taal Y besoedel gaan 'n hoorder, wat slegs sy eie taal naamlik X magtig is, hom nie verstaan nie. Taal Y is gewoon nie in hoorder X se woordeskat nie omdat hy nie taal Y magtig is nie. Kyk maar na die Engelse sin in die eerste paragraaf hierbo wat met Afrikaans besoedel is; dink jy 'n Cockney gaan dit verstaan?
Jy sê volgens my kommunikeer mens nie in Afrikaans as jy Engelse woorde tussenin gebruik nie. Natuurlik nie, op dieselfde manier dat jy nie met blou verf as jy dit met geel meng nie, dis gewone logika.
Nou kom ons by die vraagteken in jou agste paragraaf na die vetskrif: Jy vra as 'bogenoemde' sinne nie Afrikaans is nie, wat is dit dan. Die antwoord is eenvoudig; dis slordige Afrikaans.
Jy beweer dit is duidelik dat die skeppingsverhaal vir my as model vir die ontwikkeling van taal dien. Onsin, ek glo nie die skeppingsverhaal praat van aardsvreemde wesens wat met ruimteskepe hier geland het nie. Jou verklaring, soos die meeste geleerdes s'n, naamlik dat taal, soos die organisme, evoleer het van eenvoudig tot ingewikkeld mag wel waar wees. Dit is waar my vraag aan jou vandaan gekom het naamlik hoe mens die latere vereenvoudiging verklaar.
Selfs al sê jy dialekte is 'n vereenvoudiging, daar moes tog 100 000 jaar gelede ook dialekte gewees het of hoe? Hoekom, en hoe, sal mense wat nie kan lees of skryf nie, 'n ingewikkelde grammatika ontwikkel het? Ek vra nie die vraag om te bewys dat Adam en Eva nie naeltjies het nie, ek vra dit as 'n, myns insiens, interessante vraag. Dit is iets wat ek wou bespreek en het niks te doen met die teenswoordige agteruitgang en besoedeling van Afrikaans nie, iets wat ons in elk geval al tot stof vertrap, en dus afgehandel, het.
Groetnis
Jan Rap
NS Rietha, wat betref jou vraag wat die verskil is tussen 'harder' en 'haring': Die HAT gee 'haring' aan as 'lekker eetvis (Clupea harengus) en 'harder' as 'enigeen van verskeie soorte eetbare seevisse, veral Mugil (Hiza) ramada ...en ... Mugil cephalus ..."


Kommentaar
(Glimlag)
Goed gestel Jan Rap
Jan Rap, dankie vir jou duidelike en logiese debat, ook rondom Afrikaans. Omdat ek nie vir Angus ken nie, kan ek nie besluit of hy nie KAN verstaan-, of nie WIL verstaan nie. Groete, Et1.
Beste Jan,
Et1, ek dink maar net hy MAAK of hy nie verstaan nie maar ek sal maar aanhou probeer, dis my morele plig.
Angus, brief volg.
Groetnis