? Antwoord op Jan Rap se skrywe van 23 deser

  • 3

As ons eendag 'n nuwe Afrikaanse universiteit sou stig, sal ek jou as professor in die politiek, of staatskunde, of so iets, aanbeveel. Jou lewensbeskouing is uitstekend. Ek sal terselfdertyd sommer ook aanbeveel dat jy baie ver wegbly van ander departemente, veral linguistiek en logika.

As jy sê: “Met William Bullokar (wie hy ook al mag wees) skiet jy jouself eintlik in die voet. Bullokar het nie struktuur aan Engels gegee nie; hy kon dit aan die hand van Latyn identifiseer, die struktuur was reeds daar.” Dan beteken dit baie duidelik dat dit ek is wat van mening was dat Bullokar struktuur gegee het aan Engels aan die hand van die Latynse grammatika.
Dis daardie "skiet jouself in die voet" wat aandui dat “Bullokar het nie struktuur aan Engels gegee nie ...” jou (Jan Rap) se stelling is, in teenstelling met wat ek (Angus) gesê het.
Andersins moet jy aan my verduidelik hoe ek myself in die voet geskiet het.

Jy sê jy het nog nooit van Bullokar gehoor nie. Van watter taalkundiges/ linguiste het jy al gehoor, en wie se werk het jy al bestudeer? Ek vra maar, want ek verstaan nie mooi jou siening van die grammatika nie. Op een plek beweer jy dat die taal (Afrikaans?) se grammatika verweer, nie die uitdrukkingsvermoë nie.

? Taal se grammatika kan nie verweer nie, want grammatika is slegs die beskrywing van ? taal. Wat wel gebeur is dat ? taal struktureel verander om een of ander rede. Dan moet die grammatika vir daardie taal oorgeskryf word. Afrikaans het baie, en ek bedoel baie, fleksievorme verloor. Manlik/vroulik het niks meer te make met grammatika, soos in Europese tale nie, behalwe miskien in die agtervoegsels om vroulik aan te dui. Linguiste moet maar net hulle storie ken en dit alles in die Afrikaanse grammatika inskryf. Grammatika, maw is deskriptief.
Jy verstaan nie my siening van taal nie, want jy weet nie eintlik waaroor ek praat nie. Kom ek verduidelik weer vir jou, en dan hoef jy my nog nie te glo nie. Gaan bestudeer die linguistiek, en veral Chomsky se taalsiening, maar ook linguiste na hom.

Die mens het ? ingebore taalvermoë. Dit het tot gevolg dat enige taal wat gepraat word, en waarmee gekommunikeer word, ? struktuur het. Niemand het dit doelbewus gemaak nie, niemand weet eers dat hierdie taal ? struktuur het nie, maar dit is daar. Mettertyd word die taal geskryf, en op ? dag verskyn daar ? taalkundige wat ander tale en hulle grammatika ken en hy bestudeer hierdie taal. Nou beskryf hy die struktuur van hierdie taal, en sy beskrywing publiseer hy dan in ? boekvorm, en dis die grammatika van die taal.

Duits het ? struktuur van vier naamvalle. Niemand, en ek bedoel niemand het doelbewus gaan sit en aan Duits hierdie struktuur gegee nie. Dis hoe die Duitsers praat, finish en klaar. Taalkundiges, met ? kennis van tale en hulle grammatika, het toe Duits se struktuur bestudeer en tot die ontdekking gekom dat Duits vier naamvalle het, en dit nogal in teenstelling met Latyn en sy sewe naamvalle. Hulle het hulle bevindinge ter boek gestel, en siedaar! ? Duitse grammatika. Hierdie grammatici het natuurlik hulle hande vol, want hoe nader aan die Nederlandse grens, hoe meer klink die Duits na Hollands. Aan die anderkant van die draad het Nederlandse grammatici ook ? probleem, want hoe nader aan die Duitse grens, hoe meer klink die Nederlands na Duits.

? Taal het dus ? struktuur, wat Chomsky “surface structure” noem, wat onbewustelik deur menslike taalvermoë, wat Chomsky “deep structure” noem, geskep is. Breinchirurge kan natuurlik hierdie taalvermoë van die mens bestudeer en navorsing doen, wat hulle dan ook gedoen het, maar Chomsky is ? filosoof, politikus en linguis. Hy ondersoek hierdie “deep structure” deur verband te lê tussen “deep structure” en “surface structure”. Gaan lees maar sy boeke oor linguistiek en jy sal sulke eienaardige, eenvoudige en ingewikkelde boomstrukture sien.

Saamgevat: ? taal het dus ? struktuur wat op natuurlike wyse ontstaan het agv die mens se ingebore taalvermoë. Taalgeleerdes bestudeer dan hierdie struktuur, beskryf dit (meestal aan die hand van hulle kennis van die Latynse en Duitse grammatika, dan publiseer hulle hul beskrywing in boekvorm, en dit is dan daardie taal se grammatika.

Chomsky se studie van die “deep structure” en die verband wat hy trek met die “surface structure” staan bekend as transformasionele grammatika, en in Afrikaans praat ons van dieptestruktuur en oppervlaktestruktuur van ? taal.

Dan skryf jy: “Jou probleem is, Angus, jy verwar grammatika met ? grammatikaboek, vandaar jou belaglike stelling dat dit “ ... eers in 1875 [was] dat die eerste Afrikaanse grammatika sy verskyning gemaak het.” Hoe dink jy het die Boere kommunikeer sonder grammatika? Net met los woorde? Jy praat ? taal deur woorde en grammatika (verbuigings, naamvalle, sintaksis ens) te gebruik, net soos jy ? motor kan bestuur sonder dat jy kennis van die binnebrandmotor of outomatiese transmissie hoef te hê.”

Ek weet nie wat jy bedoel met grammatika met grammatikaboek verwar nie, tensy dit jy is wat taalstruktuur met grammatika verwar. Laat ek tog vir jou verduidelik. Taalstruktuur kan met ? huis vergelyk word, en die planne wat die argitek of tekenaar geteken het, kan vergelyk word met grammatika. Die planne wys hoe die huis gebou moet word, of gebou is, soos wat die grammatika wys hoe die taal saamgestel is.

Die Boere kon onmoontlik met grammatika kommunikeer, netso min as wat jy die getekende planne as woonhuis kan gebruik. Die Boere het met ? gestruktureerde taal gekommunikeer, en ? gestruktureerde taal bestaan nie uit los woorde nie. So ? taal moet predikatiseer, maw ? naamwoord moet ? predikaat of dan gesegde bevat. As jy transformasionele grammatika bestudeer, sal jy baie te doene kry met sin wat uit naamwoordstuk en werkwoordstuk bestaan.

Die rede waarom ek dink jy meen Afrikaans is ? vervalle taal, is as gevolg van jou taalsiening. Jy beweer dat eenvoudig-wordende grammatika, vervalle grammatika is. Dit is juis Afrikaans wat so ? eenvoudige grammatika het. Hoe anders dan moet ek die volgende uit jou pen interpreteer?

Jy skryf: Wat ek sê is dat ek die verskynsel van eenvoudiger-wordende grammatika sien as verval en nie evolering nie. As mens ekstrapoleer (eintlik ‘tru’-poleer) vanuit hierdie beginsel dan lyk dit of taal op ? manier klaargemaak aan ons gegee is en ons besig is om dit te verwaarloos, byna soos wat met erfgoed gebeur.”

Neem jy my kwalik dat ek beweer dat jy Afrikaans as ? vervalle taal beskou? (Veral omdat jy taalstruktuur ook grammatika noem.)

Net so, terloops, as jy dink taal evolueer nie, moet jy bewyse daarvoor gee. Jy sal moet verklaar waarom tale verandering ondergaan sodra geografiese verskuiwing plaasvind. Waarom het Nederlands Afrikaans geword, Engels in Amerika is al Amerikaans, die Engels van Australië is duidelik kenbaar, en die Engels in Suid-Afrika klink baie na Afrikaans, en die uitspraak vervorm onder invloed van die swart tale?

Die rede is aanpassing by omstandighede, en dis evolusie. (Let asb. Op na die spelling: evolusie, evolueer, evoluering.)

Angus

Nota van Webvoet:
Ek het die spelling van evoluering na evolering verander in Jan Rap se brief, want my speltoetser reken dis hoe dit gespel moet word. Ek het nou ook in die HAT en Pharos nageslaan en kry nêrens evoluering of evolering nie.

Evoluering kom wel voor in Nederlands: Wanneer wij de gigantische evoluering van deze kosmos zien en ons afvragen wat dit alles te betekenen heeft, dan openbaart God ons iets van de zin daarvan.

Uit: Langs de mysterieuze grenzen van het leven

Groete
Webvoet

  • 3

Kommentaar

  • Beste Webvoet,

    In die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls kom die volgende woorde voor: evolusie, evolueer, geëvolueer. 
     
    Evoluering, en evolering kom wel nie voor in enige van die boeke nie, maar as die behoefte ontstaan om 'n afleiding van evolusie te maak wat op -ing eindig, dan sou ek evoluering as korrek aanvaar bo evolering. 
     
    Ek het gaan kyk op Pharos aanlyn, en evolueer en geëvolueer gekry. 
     
    Speltoetsers is snaakse goed. My speltoetser verbeter evolueering en evoleering met evoluering.
    Sodra ek evoluering en evolering tik, word albei aanvaar. 
    Groete,
    Angus

    Dankie Angus
    WV

  • George Bekker

    Angus, vele dank vir 'n lesenswaardige brief. As ek eendag diep in die moeilikheid is en dringend hulp nodig het, sal ek graag jou geduldige, nie-beterweterige leiding wil volg. Wonder wat Jan Rap se reaksie gaan wees?

  • Beste George,

    Ek help help waar ek kan en deel graag raad uit. Ek twyfel egter of 'n mens sommer so daarna moet luister.
    Groete,
    Angus
  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top