Ek hoor vanoggend Jeremy Taylor se immergroen liedjie vir die eerste keer na baie jare op die radio. Soos net musiek kan doen, neem dit my onmiddellik terug na my kinderdae. Ek onthou goed hoe ek later as jong student hom die liedjie hoor sing het by die Grahamstadse Arts Festival. ‘n Hele klompie pa’s was daar met hul klein seuntjies en almal het vrolik saamgesing. Op die dieper denkendes in die groep se gesigte was die uitdrukkings bittersoet. Hulle het begryp dat die liedjie 'n tydsgees vergestalt van 'n tyd en onskuld wat saam met jou jeug verdwyn.
Jeremy sing oor “Popcorn, chewing gum, peanuts and bubble gum”. Herinneringe aan die tyd van “drive-ins” met Tarzan en die spaghetti westerns met Terence Hill. Hoe ons die hele week uitgesien het na Vrydagaand by die inry. Ons kleintjies het in 'n groep voor die karre gesit om selfs beter te kan sien.
My “deddie” is vroeër die jaar vir altyd weg. Tussen mense van my ouderdom is ek sekerlik nie alleen hierin nie. My “deddie” kon alle probleme uitsorteer, was altyd 'n skouer om op te leun en solank hy in die wêreld was, het die juk op my eie skouers nie so swaar gevoel nie. Ek is nou die “deddie” en ek voel die verantwoordelikheid loodswaar op my skouers. Kry ek dit reg om my kinders so veilig te laat voel in hierdie siek ou wêreld soos hy ons laat voel het? Was dinge werklik soveel veiliger as wat dit nou is, of het ons ouers en die beskermde wit apartheidswêreld dit kunsmatig so laat voel? Dalk dink alle kinders maar in elk geval dat hulle ouers alles kan doen en dat die wêreld 'n goeie plek is. Is dit nie miskien die kuns van ouerskap om kinders te laat glo dat die wrede wêreld essensieel goed is nie?
Om eerlik te wees raak ek bietjie moerig as ek oor die goed dink. “Drive-ins” bestaan nie meer nie, Tarzan sal waarskynlik nou se dae net as ‘n vampier kan terugkom, 'popcorn' het transvette wat ek nie mag eet nie. Weg is Canada Dry en Eskimo Pie. Om van die skandalig genaamde n***** balls nie eers te praat nie.
Ek verlang na die onskuldiger tye. Die tyd toe my pa nog vir my gesorg het en ons veiligheid kon verseker. Die tye toe kinders nog opgewonde geraak het oor die basiese goed. Toe 'verbruikersgenerasie' nog nie eers 'n term was nie. Die tye toe “drive-ins” nog veilig en lonend was en waar daar nie rekenaars en selfone was waarop kinders geboelie kon word nie. Toe kinders nog geborge en veilig kon voel.
Ek druk geleidelik die emosie eenkant toe. Ek besef die lekkergoed van daardie tyd was ook ongesond. Die “Pop corn” het toe al transvette ingehad, die lekkergoed te veel suiker. Terwyl ons veilig in die inry gesit het, het duisende ander kinders in die mooi land van ons alles behalwe veilig of geborge gevoel. Die veilige “drive-in” het teen ‘n koste vir ander gekom.
Die tye was nie onskuldiger nie. Ons het net nie geweet nie. Ons het nie geweet van die wrede werklikhede in ons stukkie Eerstewêreld aan die Suidpunt van Afrika nie. Later het ons die regte ding gedoen en in die proses het ons ons onskuld verloor.
Nou kan ek nie my kinders se veiligheid verseker nie. My kinders word in ‘n komplekse en geweldadige samelewing groot. Dis nie hulle skuld nie. Dit is die sondes van hulle vaders en die realiteite van ons land.
Ons kan nie die klok terugdraai nie. Ons sal altyd bewus wees van die bittersoet van ons onbevange jeug. Ek is nie meer lus om skuldig te voel nie. Ek wil weet dat ek my kinders kan beskerm. Ek wil weet hulle lewe is so eenvoudig moontlik in ‘n komplekse wêreld. Dalk moet ek hul maar “ag pleeze deddie” gaan leer in Perth. Dalk sal dit meer sin maak daar.
Die stukkie van die liedjie wat ons ignoreer is die pa wat op die ou end vir sy kinders “voertsek” sê en hul nie fliek toe vat nie. Dis nie wie ek is nie.
Groete
Levi

