So week of ‘n maand terug of wat wens die Monitorspan vir Cobus Bester geluk met ‘n langdiensmylpaal of so iets. Hulle loof hom vir sy toegewydheid aan suiwer Afrikaans (daarmee stem ek saam; hy’s van die min mense op RSG wat nog ordentlike Afrikaans praat) en vra hom of hy enige klippies in sy skoen het rakende taalgebruik.
Hy reken toe hy’t ‘n renons in die woord ‘huidiglik’. Dit is vir my eienaardig; nie dat ek dink daar’s niks met ‘huidiglik’ verkeerd nie maar, indien hy gesteld is op korrekte taalgebruik (soos Engelse en Franse op hulle onderskeie tale) dan behoort ‘huidiglik’ ‘n sandkorreltjie te wees tussen al die ander rotse in sy skoen, ook ten opsigte van mede-omroepers en -sters.
Al hoe meer mense gebruik deesdae al hoe meer die woordjie ‘doen’ as onoorganklike werkwoord, soos in Engels, en hier is van sy kollegas, sommer ‘n hele paar van hulle, ook skuldig.
Byvoorbeeld:
“Daar is mense wat dink Dr Victor kom van Jamaika af maar hy doen nie, hy kom van die Kaap af, hy doen regtig.”
“Ek hoop nie jy sit in die verkeer vas nie maar as jy doen ...”
Of die RSG Boeremusiek speel? “Ons doen!” het die omroeper geantwoord.
Daar is ook die omgekeerde; die gebruik van ‘groei’ as oorganklike werkwoord: In November moet almal ‘n snor groei, jy kan jou eie groente groei en dies meer.
Nog ‘n rots in sy skoen behoort die (toutologiese ?) gebruik van die oortreffende trap te wees, soos ‘mees bedagsaamste’, ‘mees uniekste’, ‘mees interessantste’ ens. Hierdie gogga kom by selfs mense met die titel Dr voor, weet nou nie of dit ‘doktor’ of ‘dokter’ is nie (maar darem nie so veel by die omroepers nie moet ek sê).
Dan is daar die ‘hardlopers’, mense wat ‘n program hardloop, ‘n besigheid hardloop, deur ‘n lysie hardloop, die soort van ding.
Verder is daar die irriterende gebruik van ‘in terme van’ in plaas van ‘rakende’, ‘aangaande’, ‘betreffende’ of ‘wat [ ] betref’. Hier is baie van die omroepers, veral die omroepsters, die skuldiges. Ook onder die dames is ‘wees op die uitkyk vir ...’ of ‘kyk uit vir ...’ baie gewild. Ek glo nie dis reg nie.
Nog redelike klippe behoort die ‘vir dit’, ‘met dit’, ‘by dit’ ens te wees in plaas van die beter klinkende (en korrekte sou ek sê) ‘daarvoor’, ‘daarmee’, ‘daarby’ ens. Hierdie storie kom ook al hoe meer voor.
‘n Groot klip behoort te wees die uiters UITERS irriterende gewoonte van mense en veral omroepers om die swak Engelse ‘r’ te gebruik wanneer ‘n Engelse woord, soos ‘n naam byvoorbeeld, in ‘n stuk Afrikaans voorkom. ‘Graham’ word ‘Gwaham’, ‘Red River Valley’ word ‘Wed Wivver Valley’en so aan. Een omroeper praat ou die dag van ‘Robbie Wessels’, val homself in die rede en sê “Ekskuus, ek bedoel Wobby Williams.” ‘Robbie’ word toe sommer ‘Wobby’ net omdat die naam aan ‘n Engelssprekende behoort.
Dit raak so erg dat selfs name wat vir die Afrikaansspreker as vreemd voorkom sou dit op Engels uitgespreek word, al is die woord Spaans, Italiaans, Grieks, Portugees of Russies (selfs Skots) waar die ‘r’ soos in Afrikaans uitgespreek word. ‘n KykNet-aanbieder nou die dag noem Italië se Kaptein ‘Pawisse’ in plaas van ‘Parisse’. Sergio Parisse is ‘n Argentyn waar hulle die ‘r’ soos ons uitspreek, net soos in Italië ook. Ek het op KykNet al gehoor dat ‘n aanbiedster praat van ‘papawazzi’ in plaas van ‘paparazzi’, belaglik.
Die Engelse doen dit nie; hulle sal nooit in ‘n stuk Engels Johannesburg, Pretoria of Klerksdorp op die Afrikaanse manier uitspreek nie. En reg so ook, dit pas nie by die ‘sleutel’, kan jy dit maar noem, waarin hulle praat nie. Nou hoekom doen so baie van ons mense dit, hoekom slaan ons oor na ‘n ander sleutel wanneer daar ‘n Engelse woord opduik? Dit klink boie kok soos Casper sal sê.
Van boie kok geprôt, daar is ‘n paar van Cobus se kollegas wat sal baat vind om vir ‘n paar elokusielesse in te skryf. Daar is een ou wat so oorrond, ek is seker as die dokter vir hom sê “sê AAAA” sal hy sê “ÔÔÔÔ”. Van die omroepsters oorplat weer, “aaitgebraaide aktiwitaaite” in plaas van “uitgebreide aktiwiteite” en dan nog nasaal ook.
Van die ergste moet sekerlik vir Cobus wees “ ... ek kan nou nie dink wat die Afrikaans hiervoor (of ‘vir dit’ soos die meeste sal sê) is nie maar ...” of “slaat my dood ek ken nie die Afrikaanse woord nie...” of “ ... in Engels sê hulle dit so mooi ...” of “ ... soos hulle in Engels sal sê ...” As gaste so praat behoort die omroeper/-ster dadelik die arme gas reg te help maar, gruwel der gruwels, omroepers is self skuldig hieraan so, in die meeste gevalle, weet hulle self ook nie wat die korrekte Afrikaans is nie. Wat ‘n four king skande; verskoon die Engels.
Ook kan ek my kwalik voorstel dat Cobus ongevoelig staan teenoor die gedienstigheid wat in advertensies teenoor Engels openbaar word. “Nissan” word “nissen”, “Mercedes” word “missydies”, “Toyota” word “toujouta” en so aan. Byna elke tweede advertensie eindig met ‘n Engelse slagspreuk. Dit dien GEEN reklamedoel nie, die enigste rede daarvoor kan net die bevordering van Engels wees en dit behoort Cobus dwars in die krop te steek.
Al hierdie taalgoggas is seker nog verskoonbaar wanneer dit deur die gewone alledaagse mens gepleeg word want die gewone alledaagse mens, met die nou dat in die NSA die amptelike taal Engels is, praat nie meer sy eie taal in die werks- en openbare omgewing nie. Afrikaans word VERBIED in sekere omgewings en dus, vir vakterme ens, word net die Engels gebruik. Wanneer mense egter, wie se werk in Afrikaans bedryf word soos omroepers en aanbieders, is swak taalgebruik onverskoonbaar.
Mens sou reken dat, met die agteruitgang van Afrikaans sedert “demokrasie”, instansies soos skole, radio en die TV hulself geroepe voel om Afrikaans te koester, ordentlike Afrikaans te handhaaf en selfs uit te bou. Die waarheid is ongelukkig die teendeel; radio-omroepers en TV-aanbieders (Cobus, Coenie en ‘n paar ander uitgesluit) praat swak Afrikaans en op allerhande onheilige wyses bevorder hulle Engels onder Afrikaanssprekendes.
Hierdie ondermyning van Afrikaans is so erg dat dit lyk of dit georkestreer is; bestuurslui KAN net nie só onbekwaam wees dat hierdie bose praktyk die gevolg van blote laksheid is nie. As dit die geval was, was Cobus op ‘n daaglikse basis by Magdaleen, en Coenie by Karen, om hierdie storie hok te slaan. (Ironies, Magdaleen is betrokke by ‘n RSG-program Die Tale wat ons Praat (Hoekom tale? Al die programme wat ek tot dusver geluister het gaan net oor Afrikaans.); mens sou mos nou dink sy sal juis die een wees wat sorg dat die omroepers nie Afrikaans verkrag nie of hoe?
Maar hulle is nie daagliks in hulle base se kantore nie want hierdie ondermyning gebeur al jare en gaan onverpoosd voort. Dalk is die twee here se verbintenis tot politieke korrektheid sterker as hulle liefde vir hulle eie taal.
Daar is nou natuurlik diegene wat my vir ‘n taalbul (wat dit ook al mag wees) gaan uitkryt. Dit is belaglik; noem mens iemand wat waarsku teen die agteruitgang van die omgewing ‘n omgewingsbul, of iemand wat bekommerd oor die uitsterf van aasvoëls of renosters ‘n aasvoëlbul of ‘n renosterbul?
Natuurlik nie; die omgewing, aasvoëls en renosters word werklik bedreig, niemand sal dit betwis nie. So ook word Afrikaans bedreig; benewens die openlike vyandigheid teenoor, en daadwerklike optrede teen, Afrikaans van owerheidskant, staan die sprekers van Afrikaans koud en onverskillig teenoor Afrikaans. Wanneer laas was daar byvoorbeeld ‘n doktorsverhandeling of ‘n proefskrif in Afrikaans, of bou-tekeninge en -spesifikasies in Afrikaans, die soort van ding?
Dis nie dat Afrikaanssprekers moedswillig is nie, hulle is net so absoluut besete met politiese korrektheid en is so gedienstig dat hulle bang is dat omgee vir Afrikaans gelykstaande aan die sing van Die Stem is (en O wee is dít tog nie die grootste sonde nie).
Jan Rap

