As jou dae dikwels stomp begin en die nodige en onnodige hoogtepunte en daarmee saam laagtepunte die normale gang is, gebeur daar soms dinge wat jou eie dag ophelder al besef jy dit nie self nie.
So bel ek vanoggend die manne daar neffens die berg. Die vier broers, want jy weet hulle aartappels is altoos die beste en hulle pryse is nou wel nie aldag mededingend nie, maar wie gee om as die produk reg is? Buitendien, was dit nie JP Getty nie wat destyds al beduie het: "If you have to ask the price of something you probably do not have the money to pay for it in the first place."
Nietemin, dit raas en rumoer oor die doodgewone prys van 'n sak aartappels en ek hoor die dametjie is lankal nie meer lus vir moeilike klante nie en ek was nogal van vroegdag af sommer net lus om 'n moeilike klant te wees. Want die rykes vra my aldag uit oor pryse en ek probeer in my stilligheid JP Getty se woorde onthou en dit gee tog moed.
Aangekom by die Vier Broers se plaas sien ek die jonge dame, oorwerk, onderbetaal en baie moeg sit op die staal trap. Gatvol. Ek beduie haar dat ek gebel het en ek wil sien hoe die aartappels lyk. Geduldig staan sy op en tussen die geraas van die sorteertafels deur beduie sy my die grade en ek kan voel en bevoel en bekyk wat ek begeer maar die prys is oppie bord aangebring en "My Meneer het gesê dissie prys vandag ..."
Ek tel in my kop die note bymekaar want ek is so lief vir geld soos 'n vark vir modder en ek is jare al nie meer skaam daaroor nie. Sy trek die Joodse klavier nader om die som te maak en ek het die handvol note klaar reg.
En toe eers sien ek haar raak. Want ek’s dalk nog lief vir geld maar iets sagter as geld is, wel, sagter en tog ook mooier. En selfs keisers en koning het tog mos al geval voor baie meer as aardse skatte?
"Bliksem, maar jy lyk mooi vandag."
"Dink meneer so?"
"Ja, jy moet meer pienk dra, dit pas by jou oë." (Nevermind die gewone oneliners wat eintlik net soms in 'n vol kroeg werk.)
"Dankie meneer."
"Ek het jou annerdag gesê ek’s nie 'n meneer nie en sal nooit so aantrek nie."
"Ek weet meneer, maar ek moet meneer sê."
"Dis ok, moenie worry nie. Maar jy lyk regtig mooi vandag. Dis asof jy glow. Pienk pas jou.” (Ja-ja-ja, mens doen maar die oneliner ding en mens kan mos sien wat onder die hempie aangaan al kyk jy mossie regtig nie.
Sy glimlag en ek dink dis die eerste keer vandag wat sy regtig met haar oë ook geglimlag het. Sy beduie my na 'n stapel aartappels. Beduie dat iemand die goed klaar gekoop het maar dat sy kan beduie dat daar minder was as wat belowe is.
"Hoeveel?"
"R20 per sak"
Ek haal die bondel Madiba’s uit en ons doen weer die berekeninge en ek vra of sy nie innie kak gaan wees omdat sy die goed verkoop het nie. Sy lag dit weg met haar sagte hand en beduie dat dit in elk geval net 'n spul smouse is. Sy werk al lank met hulle.
Ek ry terug en by die gewone Stop-And-Go sit ek en dink aan die jonge dame en hoe maklik dit was om bloot net effens kleur aan haar dag te bring. Al het dit nou wel 'n pienk hemp wat effens punte wys gekos. Ek weet nie of dit haar bedoeling was nie, maar soms, net soms is die beste deel van jou dag die oomblik wat iemand jou raakgesien het. En dit is baie meer werd as die grootste salaris. Of loon as jy wil.
oester


Kommentaar
Oester ek het weer lekker geluister. Hoe sal ek nou sê: jou storie is nie juis "gepolish" nie maar dit is seker juis wat ons waardeer.