Bosbaadjie

  • 2

Foto: Canva

Die bosbaadjie

toe ek nog klein was
miskien agt jaar oud
het my pa in die nag
na weke of maande
se wegwees
teruggekom
van die grens

grootmensstemme
gedemp in die donker
my ma se “sjuut, hulle slaap”
en die klank
van my pa se stewels
op die houtvloer
soos in ’n droom

maar in die oggend
was hy daar
aan die slaap
op my ouers se dubbelbed
wange blou en ongeskeer
en sy hande bo-op die deken
sy vuiste gebal

in die spaarkamer was
sy R1 op die enkelbed
en sy hoed en bosbaadjie
en stewels grys van stof
Gustav wou die geweer optel
maar ek het dringend en saggies gesê
néé

ons het uitgeglip
en onder die wasgoedlyn
op die sementblad parade gehou
en in die oop erf
agter ons huis
patrollie geloop met houtgewere
en roepe van kontak! kontak!

later die middag het ek
in die spaarkamer
die bosbaadjie opgetel
deurtrek van sigaretrook
en my pa se sweet
en besonder swaar
en hom oor my smal skouers gehang

maar eers tien jaar later
of dalk elf
met my eie magsnommer
en my eie R1
en my eie stewels
het ek besef
hoe swaar die baadjie wérklik was

  • 2

Kommentaar

  • Nico M Ferreira

    Ek was maar net deel van die destydse nege-maande lotelingstelsel; maar het volle simpatie met die manne (en hul gesinne) wat nog steeds na al die jare ly as gevolg van kontak! kontak!

  • Ek dank die Here dat my kinders dit gespaar is - ek het eers na my grensdiens en kampe getrou. Tog spook die goed wat ons gesien en beleef het steeds by ons, en het dit ook maar 'n invloed op die vrou en kinders - sonder dat ons dit altyd besef!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top