Boekebrief-kompetisie: Duiwelskloof deur André P Brink II

  • 0

’n Koddige grillige dwerg lei hom na sy bestemming – asof sy besoek afgewag is. Daar ontmoet hy die geheimsinnige inwoners elk met sy eie nering en geite. Soon Heilig, wat die Sondagpreke in Hooghollands lei, bepreek sy koolkoppe onophoudelik ter voorbereiding van die volgende preek. Smeed Smit wat elke dag ’n hoefyster van goud maak en dit weer smelt vir die volgende dag se hoefyster. Tant Poppie Vollemaan is die sieketrooster, kruiedokter, vroedvrou en toordokter. Haar huis stink van wortels, ou velle, dooie reptiele, kruie en dagga.

Joos Josef bou doodskiste, Jurg Water probeer water wys met sy wiggelstok in die ergste droogte wat Duiwelskloof nog gesien het. Henta Voorperske, wat haar eie naam gestand doen met haar swerm nimfies by haar. Hans Toordenaar, Petrus Lappe, Giel Oë, Gert Kwas, Isak Smous en Joop Droë. Dan is daar nog Lang Fransina met haar honderde katte wat ’n allemintige “aposteltjie” uit haar stookketel optower. Ouma Liesbet Pruim sit met haar trommeltjie op die nok van haar gehuggie se dak, sy wil haar Heiland leer ken. Ben Uil met die stemme in sy kop, slaap in die dag en bewandel die nag. Inteling het sy tol geëis, nie alleen deur gebrekke nie maar ook bygelowe.

Die joernalis kry ongewone nagbesoeke van wellustige vroulike gedaantes wat die werklikheid van versinsel verskans. Nagtelike jagtogte grens aan droombeelde. Bosnimfe betower hallusinasies.

Emma, ’n misterieuse jong vrou, omsingel Flip se hart en hy raak verlief op haar. Sy begeer uitkoms uit Duiwelskloof en die lewe daarbuite, en is anders as die ander vroue. Haar verwerping deur die gemeenskap as gevolg van die “merk” plaas haar eenkant. Flip neem haar probleme ter harte, hierdeur word goed bedekte geheime oopgekrap en blootgestel. Hy vroetel en krap waar hy nie moet nie, en waai ongevraagd stof in oë waar dit nie welkom is nie.

Die begraafplaas waar die oumensies daagliks skoonmaak en plant, word ’n doolhof van onheilspellende leuens en waarhede. Die Kerk ’n plek van vervloeking, vernedering en vertoorndheid, ’n bymekaarkomplek waar moord onder die dekmantel van regverdigheid gepleeg word.

Die Duiwelsklowers staan saam totdat die droë storms hul letterlik en figuurlik uitmekaar skeur. Die leser word geboei deur ironie, humor en hartseer. Volstruise wat in bome vasgewaai word, mense wat tussen bome na wolke gekatapult word om reën te bring. ’n Gemeenskap wat God maan om na hulle te luister, uit eerlike behoefte aan water, nie ander bybedoelings nie. ’n Snotneuskind wat hoop dat Flip die Here is om hom te kom verlos van sy pa se mishandeling en sy suster se molestering.

Hierdie verhaal gaan oor die dieper betekenis van opregtheid, dit is anders, verras, verbaas en vermaak in die oortreffendste trap.

Groete uit ’n snikhete bosveld,

Esmé von Reiche

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top