Bloedlemoen, o bloedlemoen ...

  • 0

Prent: https://pixabay.com/photos/blood-orange-fruit-citrus-fruits-3418376/

Bloedlemoen, o bloedlemoen ...

Ek weet nie wanneer my obsessie met bloedlemoene begin het nie. Ek dink dit was toe ek dit jare gelede iewers in ’n resep raakgelees het. En dit is mos hoe dit is – as dit eers iewers vasgehaak het, sien jy meteens dié ontwykende bestanddeel in feitlik elke resep.

Ek het in my verbeelding boorde onder ’n Spaanse son opgetower. Uys Krige se gedigte en Bizet se Carmen het in my kop bly maal en in my mymeringe het ek die sonskynland met sy bloeddorstige bulgevegte die land van herkoms gemaak.

Die bloedlemoen het jare lank by my bly spook voordat ek dit die eerste keer kon proe ...

Toe ek nog Saterdae my koektafel by Bella se mark by The Palms in Woodstock gehad het, het my “buurvrou” by die tafel langs myne die wonderlikste marmelade gemaak. Een daarvan was van bloedlemoene. Sy het my vertel waar sy haar bloedlemoene vandaan kry, maar dit was ’n hopeloos te omslagtige storie vir my. Selfs ’n obsessie ken sy perke.

Ek het dié lemoene eindelik half per ongeluk by Giovanni’s, daardie wonderlike ou deli in Groenpunt, raakgeloop en ’n paar gekoop. Eers net vir die proe, het ek myself belowe, want dis nogal duur en my plat beursie het luidkeels geprotesteer.

Die ou lemoentjie lyk maar doodgewoon, nes sy boeties en sussies. Maar as jy hom oopsny, is dit ’n heel ander storie. Binne-in is die oranje segmente plek-plek met ’n byna persrooi gevlek en die sap is soos bloed. Die smaak is sitrus en tipies lemoen, maar effe soeter met ’n byna framboserige ondertoon.

...........
Die ou lemoentjie lyk maar doodgewoon, nes sy boeties en sussies. Maar as jy hom oopsny, is dit ’n heel ander storie. Binne-in is die oranje segmente plek-plek met ’n byna persrooi gevlek en die sap is soos bloed. Die smaak is sitrus en tipies lemoen, maar effe soeter met ’n byna framboserige ondertoon.
...........

Die persrooi “ink” wat die lemoen sy bloederige voorkoms gee, is afkomstig van die antosianiene, “'n familie van polifenolpigmente wat algemeen voorkom in baie blomme en vrugte, maar ongewoon is in sitrusvrugte” (aldus Wikipedia).

Ek steur my nie te veel aan dinge soos voedingswaarde en gesondheidstories nie. Dis belangrik, ja, maar by my kom smaak en die genot daarvan eerste. Maar hulle beweer glo die gesondheidsvoordele van een bloedlemoen met al daardie vitamiene, antioksidante en minerale is gelykstaande aan dié van twee kilogram gewone lemoene.

Toe ek ’n paar dae later my spaarvarkie leegmaak en teruggaan om nog te koop, was die rakke leeg en het ek ’n enkele botteltjie van die varsuitgedrukte sap in die koelkas opgespoor.

Die probleem met dié ou lemoentjie is dat sy seisoen baie kort is en dat hy baie puntenerig is oor waar hy groei. Net hier en daar is daar ’n Mediterreense lappie grond wat aan al sy vereistes voldoen. Hy soek warm dae en koue nagte. Bedags word hy deur die son gesoen en snags help die koue om daardie byna persrooi ink deur sy oranje segmente te weef.

Ná die gelukkie by Giovanni’s het ek nooit weer die bloedlemoene op die rakke gesien nie. Ek was altyd óf te vroeg óf te laat vir die seisoen en het dit elke keer misgeloop. Ek wou net opgewonde raak toe ek verlede jaar die Cara Cara lemoene in die supermarkte sien. Miskien is dit ’n spesifieke variëteit van bloedlemoene, het ek in my onkunde gedink.

Die prys moes al vir my ’n aanduiding gewees het. ’n Winskoop, het ek gedink.Maar toe ek by die huis kom en daardie eerste lemoen oopsny, was die teleurstelling bitter groot. Die Cara Cara’s is pragtig met hul blosende vlees, maar bloedlemoene is hulle beslis nie. En die smaak is maar doodgewoon lemoen. Lekker, maar lemoen.

En toe kry ek die groot verrassing. Nou die oggend, met my eerste koppie koffie in die hand, maak ek Facebook op my rekenaar oop. Die eerste wat my oog vang, is Babylonstoren se advertensie – bloedlemoene te koop!

Ek het aan die begin van die jaar die heerlikste adamsvye vir my ma van hulle af bestel en nou kry ek gereeld hul advertensies op my profiel. Ek huiwer nie eens nie en bestel dadelik. En die volgende oggend staan die afleweringswa voor my hekkie.

Die meeste mense sal seker dink dié vrou is niks gewoond nie. Om so tekere te gaan oor ’n ou lemoen!  Min sal seker verstaan hoe ek gevoel het toe ek die lemoene uit die kartondoos haal en sorgvuldig uitpak. En toe ek daardie eerste lemoen oopsny . . .

Toe my groenteman my bestelling kom aflewer, vertel ek hom van my lemoene. Cara Cara, vra hy. Nooit gesien nie, help ek hom gou reg en ek trek een van my kosbare lemoene en ’n mes nader. Nee, sê hy met sy oë bottoe van lekkerte, beslis nie Cara Cara nie.

Die lekkerste is om die bloedlemoen in segmente op te sny en net so te eet. Die sap, so vars uitgedruk, is bloedrooi en hemels. Ek maak slaai met vars slaai-eruca ("rocket") uit my tuin, bottergeel avokado en bloedbevlekte lemoensegmente, bedruip met my ou skoolmaat se pryswenner-suurlemoengeurolyfolie. Ek maak roomys met die sap en die skil. En my potte en skottels kry ’n heel nuwe smaakprofiel.

............
Die lekkerste is om die bloedlemoen in segmente op te sny en net so te eet. Die sap, so vars uitgedruk, is bloedrooi en hemels. Ek maak slaai met vars slaai-eruca ("rocket") uit my tuin, bottergeel avokado en bloedbevlekte lemoensegmente, bedruip met my ou skoolmaat se pryswenner-suurlemoengeurolyfolie. Ek maak roomys met die sap en die skil. En my potte en skottels kry ’n heel nuwe smaakprofiel.
............

Ek is maar versigtig wanneer dit by die bakslag kom, want ek wil nie die wonderlike smaak in koekmeel en suiker laat verlore gaan nie. Maar hierdie koek is suiwer verheerliking en plaas bloedlemoen op sy troontjie. Waar hy hoort.

Karen se bloedlemoenkoek

Lewer een lekker groot Bundt-koek

Vir die koek
1½ koppies strooisuiker
5 eiers
gerasperde skil en sap van 3 bloedlemoene (ongeveer 150 ml sap)
150 ml olyfolie
2 opgehoopte koppies bruismeel

Vir die versiersel
140 g witsjokolade
sap van 1½ bloedlemoene (ongeveer 75 ml sap)
gerasperde skil van 1 bloedlemoen

Plaas die strooisuiker, eiers en lemoenskil in ’n mengbak en klits vir ongeveer 10 minute totdat die mengsel baie dik en liggeel is. Giet die sap en olie geleidelik by terwyl jy heeltyd klits. Sorg dat dit goed gemeng is. Sif die bruismeel by en roer tot net-net gemeng. Giet die deegmengsel in ’n gesmeerde Bundt-pan (met ’n kapasiteit van ongeveer 2,5 liter) en bak in ’n voorverhitte oond van 180 ºC vir ongeveer 30–35 minute of totdat ’n tandestokkie skoon uitkom wanneer jy dit in die koek steek. Laat staan die koek 5 minute lank in die pan voordat jy dit op ’n draadrak uitkeer om heeltemal af te koel. Maak die versiersel: Smelt die witsjokolade in ’n dubbelkastrol of in die mikrogolf en roer die sap by.  Laat dit afkoel en plaas dit dan ’n rukkie in die yskas totdat dit effens dikker maar steeds vloeibaar is. Giet dit oor die koek sodat dit langs die kante afloop en sprinkel die gerasperde lemoenskil bo-oor.

Wenk: Plaas jou Bundt-pan op ’n bakplaat wanneer jy dit in die oond sit. Dit is makliker om te hanteer en keer ook dat deeg wat dalk oor die rand stort, in die oond mors.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top