Bloed en rose

  • 0

“Die liefde is meer as net emosies. Dit is om iets daadwerkliks te doen,” kondig sy vrolik aan en staar by die venster uit. Niemand hoor haar nie, maar dit maak nie saak nie. Die simpel kamer met die ongemaklike bed, karige dekor en ongemaklike naalde sal net tydelik wees. Haar vel sal weer kleur hê. Die kringe onder haar oë sal verdwyn. Haar lewe sal lente word.

“Hei. Wat lê jy so alleen?” vra Marthinus terwyl hy by haar voete gaan sit. Ingedagte vryf hy oor die deken.

“Ag, jy weet mos. Liefde se dade strek verder as om fisies daar te wees,” sê sy met ’n flou glimlag terwyl sy orent kom.

Hy staan op en sug diep. “Francis, jy en die liefde tog. Jy weet dis alles net fake en ’n mens kry net seer. Die liefde is om daar te wees. Dis ’n oomblik. ’n Fraksie van ewigheid wat jy miskien sien.” Hy wens dat sy kan verstaan dat haar lewe nie net om liefde kan draai nie. Dat haar uurglas byna leeg is. Maar hoe verduidelik iemand dit aan haar?

“Jy dink te veel en doen te min,” antwoord sy bot en staar weer by die venster uit. “Hy sal wel opdaag. My Ridder. Hy hoef nie ryk of slim of aantreklik te wees nie. My ridder gaan my red. Van alles ...”

“Francis, verstaan jy nie? Jy het nie tyd nie!” Hy haal vinniger asem terwyl hy teenaan haar bed staan.

“Nee, Marthinus, jy verstaan nie. Ek het ’n ewigheid voor my. My ridder gaan opdaag. Met bloed en rose. Dan sal ek blom.” Sy trek die deken oor haar benerige lyf en wens dat sy nie meer hoef te wens nie. Dat wense sal waar word. Dat haar lewe net ’n fraksie meer rooskleurig kan wees.

Lees ’n onderhoud met Charl Bezuidenhout hier.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top