Biologie sans evolusieteorie is sinloos

  • 9

Evolusie gee sin aan die studie van Biologie. Kobus beweer die teenoorgestelde. Hy meen: “Die biologie, sans die onbewysbare darwinistiese evolusie teorieë, verklaar soogdiere en die darwinistiese teorieë doen die empiriese biologie skade aan.”

Evolusie is ’n aanpassingsproses oor miljoene jare, wat nie telkens nuwe organismes kan skep nie. Dit moet so goed of so sleg gebruik maak van wat daar is, want dit kan nie in die toekoms “sien” nie. Daarom word ’n komplekse struktuur dikwels gemodifiseer tot iets anders. Heel dikwels sou iets heeltemal nuuts beter gewerk het, maar natuurlike seleksie werk met uiters klein modifikasies, soos bv. ’n huis wat gedurig verander, verbreek, en aangebou word, soos wat die bewoners dit benodig, eerder as om dit telkens heeltemal weg te stoot met stootskrapers en van vooraf te begin. Dit sou beter gewees het om telkens van vooraf te begin, maar die ekonomie laat dit nie toe nie. Daar is dus tallose strukture en vorms wat oor miljoene jare geëvolueer het in verskillende spesies om aan te pas by verskillende habitats. Hierdie ooreenkomste is goeie bewys van evolusie.

Een so ’n voorbeeld is die ooreenkoms tussen die mens se hande en voete met die ledemate van ander soogdiere. Die ooreenkoms tussen die sjimpansee, die orangoetang en ander primate is ooglopend, maar dis nie so ooglopend met ander soogdiere soos die hond, die vlermuis en die muis nie. Wanneer ons hierdie spesies vergelyk, sou ’n mens verwag dat daar by elkeen ’n totaal nuwe beenstruktuur sal wees. Wat ons met ons hande doen verskil tog geheel en al met wat die vlermuis met sy vlerke doen. By nadere ondersoek blyk dit dat dieselfde beenkonfigurasie by die menshande en die vlerke van die vlermuis slegs gemodifiseer is vir verskillende doeleindes. By al die diere is daar vyf vingers of tone wat in litte verdeel is. By vlermuise is die litte verleng om die raam van die vlerk te vorm, by muise is hulle  korter en nader aan mekaar en aangepas vir loop. By mense is hulle weer aangepas om komplekse take te verrig soos om te vat. Daar is hoegenaamd geen bonatuurlikheid aan die getal vyf nie, tog het hierdie diere dieselfde getal “vingers”. In baie gevalle sou dit beter gewees het as daar meer vingers was, en soms sou minder meer doeltreffend gewees het soos bv. by loop.

Slegs evolusie gee ’n verklaring vir hierdie vyfvingerverskynsel by soogdiere van ’n gemeenskaplike voorouer wat hierdie eienskap aangegee het van geslag tot geslag aan verskillende spesies.  Natuurlike seleksie is verantwoordelik vir die verkillende variasies van aanpassing soos ons dit vandag sien.

Ek is bewus daarvan dat Christen-kreasioniste beweer dat die ooreenkoms Bybels verklaar kan word, maar terselfdertyd skerm hulle darem dat die Bybel nie ’n wetenskap handboek is nie. Die Bybelse verklaring is dus nie geldig nie, want dit is sans wetenskaplike bewyse.

Nog ’n voorbeeld om hierdie proses te demonstreer, is die wyse waarop die soogdier se kakebeen geëvolueer het van sy reptiliese voorouer. Die soogdier se kakebeen bestaan uit slegs een been; die reptiel s'n bestaan uit ’n hele aantal bene. Die evolusie van die reptiliese kakebeen tot die soogdier se kakebeen is goed gedokumenteer in die fossielrekord. Die orige bene in die reptiel se kakebeen het geleidelik agtertoe geskuif by die soogdier om die hamer, stiebeuel aambeeld in die soogdier se oor te vorm.

Biologie alleenlik verklaar nie en gee nie antwoorde nie. Slegs die evolusieteorie verskaf hierdie antwoorde. Slegs die evolusieteorie gee sin aan Biologie.

Vir diegene wat graag google, hier is dit (so bietjie ekstra leesstof by) en dit.

Naskrif. Alhoewel wat ek hierbo gesê het gebaseer is op jarelange navorsing en reg oor die wêreld goed gedokumenteer is, beteken dit nie dat dit nie ondersoek, nagevors, getoets en indien moontlik verkeerd bewys te kan word nie. In die wetenskap is daar nie heilige koeie nie.

Evolusie kan ook nie weggepraat word deur dit ’n foefie te noem nie, dit bly nog steeds die model waarvolgens die wetenskaplikes werk. Tafelberg sal nie sommer net in die niet verdwyn omdat dit ontken word nie.

Groete,

Angus

  • 9

Kommentaar

  • Angus

    Dis ’n baie mooi kompakte en op die man af redenasie. Om jou storie egter te kan begryp moet mens bietjie verder as een swart boek gelees het en moet jy darem verstaan hoe die wetenskaplike metode werk. 

    Ek is bevrees sinvolle debatvoering met anti-evolusioniste is onmoontlik as gevolg van hule nie-bestaande algemene kennis. George Claassen sê in die voorwoord van sy boekie "Goed om te Weet" dat sinvolle bestaan op aarde sekere minimum kennis en insig vereis – anders leef jy net en gaan al die interessante goed, wat die lewe interessant maak, gewoon by jou verby in jou onkunde.

    Groetnis

    Thomas

  • Kobus de Klerk

    Angus,

    Dit is so dat die opgeskrywe Woord, die Bybel, nie ’n natuurwetenskaplike verhandeling is, nie, maar daar is inderdaad natuurwetenskaplike inligting ook in, wat, soos in die geval van die skeppingsgebeure, baie rigtinggewend, is, en die evolusieleer, weerspreek. Die geskrewe Woord soos in die Bybel opgeteken, is inderdaad die primêre bron van Geesteswetenskaplike studie.  Dus, die natuurwetenskaplike feite wat in die Woord voorkom, is as sulks nie verwerplik bloot omdat die lokaliteit waar die vermelding van die feit aangetref word, nie in hoofsaak beoog om ’n natuurwetenskaplike verhandeling te wees, nie.

    Net so kan jy nie die natuurwetenskaplike feit dat die aarde nie plat is, nie, verwerp omdat ek dit elders in n brief, wat nie ’n natuurwetenskaplike  verhandeling is, noem, nie. Die feit staan mos op eie bene.

    Dus, die natuurwetenskaplike feite van die Woord soos in die Bybel opgeteken, is net so relevant soos feite wat in ’n natuurwetenskaplike verhandeling geboekstaaf, is. Dit is n kwessie van oorvleuelende, ingeskakelde wetenskappe. wat by mekaar leen.

    Trouens, die  Woord is die enigste Bron waar daardie besondere wetenskaplike feite bekend gemaak word. Dit is dus nie vir jou of enigeen om die Woord daaromtrent te verwerp nie, maar om daardie Woord aan te neem en daarmee te handel soos die wetenskap sou vereis – op die regte plek soek vir die regte antwoorde. Daardie Woord is immers eersteklas primêre Ooggetuie verklaring van die Skepper Self.

    As jy die korrektheid van die Woord daaromtrent sou betwyfel, sou jy ingevolge die wetenskaplike metode wat jy self aanhang, daardie Woord moes weerlê met feite. Dit kan julle tog nie doen, nie.

    God is die Skepper, en HY is geen leuenaar, nie. As jy die Woord nie verstaan nie, moet jy die regte Weg volg sodat jy die Woord kan verstaan, want dit is immers onwetenskaplik om ’n saak sommer te verwerp wat jy nie verstaan, of erger nog, ken, nie.

    Kobus de Klerk

  • Angus,

    Ek weet dit is ’n lang skrywe maar doen moeite en lees gerus.

    Ek lees werklik met interessantheid hoe jy poog om die evolusieteorie te probeer sin gee as die “basis” vir/van die vak Biologie – waarsonder, só beweer jy, biologie sinloos is. Jy sê byvoorbeeld “Daar is dus tallose strukture en vorms wat oor miljoene jare geëvolueer het in verskillende spesies om aan te pas by verskillende habitats. Hierdie ooreenkomste is goeie bewys van evolusie”. Nee-nee, “hold on to your horses” – jy kan mos nie nou die essensie van jou evolusieteorie eenvoudig “bypass” en sommer spring na die “tallose strukture en vorms wat oor miljoene jare geëvolueer het” nie! (“by the way” selfs dít is nog nie bewys nie) . Jy lees jou eie evolusieteorie verkeerd. Die punt is dat julle daarop roem en aandring dat ALLE strukture en vorms van lewe sy oorsprong te danke het aan een enkele “by chance” gevorme mikroskopiese klein partikel wat natuurlik geselekteer het om te verbind met sodanige ander verskillende partikels en wat dit dan massa gegee het en laat natuurlik selekteer het om te begin “lewe”. Dit is ook dan uit hierdie een enkele partikel waaruit ALLE lewensvorme wat ons vandag beleef, uit geëvolueer het oor miljoene der miljoene jare – Dít is die fabel (Darwin se boom) wat die evolusieteorie verkondig! Jy sien, julle sogenaamde “wetenskaplikes” hou hulle self besig met allerhande ander dinge (wat hulle ook nie kan bewys nie) maar “bypass”, net soos jy, die kern “issue” wat hulle na bykans 200 jaar nog nie kon bewys nie en dit nou net eenvoudig as  “aanname” (as sodanig “bewys”) aanvaar om uiteindelik te trek waar jy nou al is, by jou “tallose strukture en vorme”.  Hoekom begin jy nie by die begin en verduidelik vir ons hoekom die een enkele “lewende”en “by chance” gevormde partikel of dan selletjie (as jy wil), nadat dit skynbaar natuurlik geselekteer om te vermeerder, elkeen van die identiese verdeelde selletjies, natuurlik geselkteer het om elkeen in iets totaal anders en verskillend van mekaar (Ja-ja, na miljoene-der-miljoene jare) te evolueer? Wat presies het veroorsaak dat een van die identiese verdeelde selletjies natuurlik geselekteer (volgens die evolusie teorie) het om eerder uiteindelik te evolueer in ’n akasia boom en sy identiese broer in ’n molslang en hulle identiese sussie in ’n beetplant en hulle identiese nefie in ’n mot en hulle identiese niggie in ’n gorilla, en so voorts en dies meer? Hoekom het een natuurlik geselekteer om te kan vlieg en ’n ander om eerder blind te wees, terwyl hulle pêlle weer natuurlik geselekteer the om uiteindelik oë te evolueer? Ek meen: Kan jy nog nie die belaglikheid van die evolusieteorie illusie insien nie!?

     As ek dit nie mis het nie (en ek dink nie ek het nie) blyk dit uit jou skrywes dat jy ’n amperse deperate poging aanwend om oortuigend te probeer klink ten opsigte van juis dít – die evolusieleer – wat jy self wéét (of defnitief twyfel oor) is fabelagtig en wankelend van nature (“no punt intended”)? Om die waarheid te sê, sou ’n opskrif van ”Darwin sans evolusieteorie is sinloos” baie beter by jou skrywes gepas het.  Jy sien, die evolusie teorie hoef nie verkeerd bewys te word nie – dit is nog nie bewys nie! – en dít is waar julle hele probleem lê! Julle sit met ’n onbewysde spul saamgeflansde teorieë en hipotese – wat (soos jy self al voorheen opgemerk het) ook gedurig “evolueer” in nuwe teorieë en hipotese – maar net om aan te pas ten tye van die “aannames” wat die sogenaamde “wetenskaplikes” maak wanneer hulle nie met bewyse vorendag kan kom nie en 'n vinnige uitweg soek. Weereens herinner ek jou daaraan dat die evolusieleer nie wetenskap is nie!

    Verder moet ek jou ook sê dat dit redelik arrogant is van jou om biologie en al die vordering wat op dié vlak gemaak is eenvoudig te koppel aan die evolusieteorie as dryfveer. Daarmee saam onderskat jy die werklike toegewysde bioloë se pogings en navorsing wat allermins enigiets met evolusie uit te waai het! Soos  ek ook reeds voorheen gesê het – daar is menigte bioloë en wetenskaplikes wat hul sout werd is en reuse tree in hul navorsing gee sonder om enigsins dit aan die evolusieteorie te koppel – en dit is hulle wat jy laagvat met só ’n ondeurdenkte stelling . Jy sien, jy misgis ook aanpassing (“adaptation”) met jou evolusieteorie net soos wat “Perdebytjie” dikwels ook doen. Jy kan nie aanpassing as voorbeeld van evolusie gebruik nie. Kom ek verduidelik. Ek ken ’n engelsman wat in Suid Afrika begin werk het. Hy het aanvanklik gesukkel met die hitte – bloot omdat hy nie gewoond was daaraan nie – maar het uiteindelik aangepas by die hitte – sonder om te evolueer in ’n Afrikaner. Ander engelsmanne sukkel steeds en het eerder terug gegaan Engeland toe as om te vergaan van hitte uitputting! Ek weet dit is ’n eenvoudige verduideliking hoe aanpassing werk, maar die punt is die engels man en sy pêlle wat teruggegaan het na Engeland het toe nie geëvolueer in iets anders nie. Hy het ook nie natuurlik geselekteer om ’n reflektiewe vel te evolueer nie. Nee-nee, hy het eenvoudig gekies om te bly en het uiteindelik (nie na miljoene-der-miljoene jare nie) aangepas en niks anders nie!

    Dit is ook ooglopend hoe jy die spreekwoordelike “agterdeur” ook oophou met jou “Naskrif”. Dít nou nadat jy drifting met jou skrywe begin en dit en dat van litte en vingers kwytraak en dan oorspring na kakebene. Maar dit is jou opmerking van “Biologie alleenlik verklaar nie en gee nie antwoorde nie. Slegs die evolusieteorie verskaf hierdie antwoorde. Slegs die evolusieteorie gee sin aan Biologie” waarmee  jy jouself in die voet skiet. Jy sien, net so eenklaps probeer jy jou skrywes regverdig en “waar” laat klink deur die evolusieteorie as die “antwoord” op alle onbewydse toerie en hipotese te gee – so asof alle wetenskaplikes en bioloë se navorsing en uitvindings “wentel” om die illusie van die evolusieleer! Ek is seker Newton, Alexander Bell (en ander), het nie evolusie in gedagte gehad toe Newton sy wet geformuleer het en Alexander die telefoon ontwerp het nie!

    Jou opmerking van “Evolusie kan ook nie weggepraat word deur dit ’n foefie te noem nie, dit bly nog steeds die model waarvolgens die wetenskaplikes werk. Tafelberg sal nie sommer net in die niet verdwyn omdat dit ontken word nie” behoort realisties herskryf te word na: “Evolusie kan ook nie “waar”gepraat word deur dit ’n “bewysde teorie” voor te hou nie, dit word nog steeds slegs sinteties aan die gang gehou deur sommigewetenskaplikeswat nog steeds volgens dié onbewysde model werk. Tafelberg het nie sommer net uit die niet verskyn omdat daar sommige wetenskalikes is wat ’n aanname gemaak het volgens hul eie onbewysde teorie en hipotese, dat dit uit een hengse ontploffing ontstaan het (aka “Big Bang”) nie.” En dít som die evolusieteorie baie mooi op!

    Sterkte

    Dolf

     

  • Dolf

    Jou en Kobus se skrywes staaf my stelling dat sinvolle debat oor ’n gegewe onderwerp ’n sekere minimum kennis van die onderwerp vereis. Julle ooglopende onkunde oor die proses van evolusie en die bewyse vir evolusie is van so ’n aard dat sinvolle debat onmoontlik is. Julle ontkenning van evolusie is werklik soos Angus sê soos om die bestaan van Tafelberg te ontken – dis daar tensy julle kan bewys dit bestaan nie. Deur bloot te beweer dat iets bestaan of nie bestaan nie op grond van bybelinterpretasies is ongelukkig nie goed genoeg nie.

    Kon jy al die naam kry van die erkende universiteit wat hulle biologiese wetenskappe aan die hand van kreasionisme aanbied?

    Thomas

  • Dolf,

    Toe Newton geleef het, het almal nog geglo dat God alles geskape het. Hierdie model vir die wetenskap het uitgedien geraak, veral agv Darwin se evolusieteorie. Bell is ek amper seker van het gedink aan die evolusie van kommunikasie.

    Evolusieteorie het eintlik te make met lewe op aarde. Dit is die geskiedenis van lewe op aarde soos nagevors deur wetenskaplikes. Met wetenskap bedoel ek eintlik vakdissiplines soos Plantkunde, Dierkunde, Medisyne, Paleontologie, ens. 

    Dat evolusie plaasgevind het en nog plaasvind is bewys deur die fossielrekord, die genetika, deur die immunisasie van jou kinders, deur die goggas wat nie vir Doom wil vrek nie, deur die boere op plase se stoetbeeste, ens. Wat wil jy nog meer?

    Jy verwag van my om evolusieteorie hier op Sê ten volle te verduidelik. Dis onmoontlik. Darwin se Origin of Species is byna 600 bladsye lank, en dis maar die skilletjie van die vrug. Daar is biblioteke vol geskryf, verslae van navorsing die wêreld oor in wetenskaplike tydskrifte, en daagliks verskyn daar so baie dat geen enkele persoon kan byhou nie. 

    Waarom spring jy nie uit en begin studeer nie?

    Dis nie ek wat sê dat Biologie alleenlik sin maak in die lig van evolusieteorie nie. Dis die meerderheid van Biologie-onderwysers wat so sê. Selfs die Kreasionis, Christian Theodosius  Dobzhansky, sê so.

    Moenie jou dominee glo nie. Die evolusieteorie is bewys, word elke dag bewys. 

    Sê my nou eerlik, Dolf. Sê nou jy is biologie-onderwyser. Sal jy dit as ’n feit verkondig aan die kinders dat God vir Adam van ’n hopie grond gemaak het en vir Eva uit  sy ribbebeen? Dink jy nie die kinders sal vir jou lag nie? 

    Groete

    Angus 

  • Kobus,

    Ek stem met jou saam dat die feite in die Bybel nie verwerp kan word nie, want dit bestaan binne ’n ander werklikheid as die werklikheid waarin ons bestaan. Die Bybel moet simbolies/metafories verstaan word, en het dus daardie mitologiese beskerming wat dit vir die wetenskaplike in ons werklikheid sinloos maak om dit aan wetenskaplike norme te toets.

    Daarteenoor maak die gelowige Christen eweneens die fout om norme en wette binne hierdie mitologiese wêreld te  wil gebruik om voorskriftelik te wees vir wat die wetenskaplike besig is om te doen. Hierdie debat sal egter vir ewig onopgelos aanhou weens die mens se ingebore natuur om sy standpunt te laat geld. Die gelowige sal nie toegee dat die Bybel simbolies gelees en verstaan moet word nie, en as hy wel toegee, dan sal dit so wees dat die Bybel ten spyte van die simboliek, tog nog letterlik verstaan moet word. Neem nou maar ons gesprek oor Bybelse simboliek as voorbeeld. Jy erken dat die Bybel metafories gelees moet word. Die slang is ’n metafoor vir Satan. Eva, met wie hy gesels, is metafoor vir die mens, die vrou. Die vrug van die boom is selfverklarend binne ’n vergelyking, nl. kennis van goed en kwaad. Hierdie hele allegorie beeld die listigheid van die Satan uit en die sondeval van die mens. Dit het ten doel om vir die mens op aanskoulike wyse ’n dieper waarheid uit te beeld. Dit beteken dat daar nie werklik ’n slang en Eva en Adam en ’n paradys was nie, en ook nie ’n boom met ’n vrug nie, maar hier steek die gelowige vas. Nee, sê hy, Adam en Eva en die paradys en die slang en die boom van kennis het werklik bestaan. Dit kan onmoontlik albei wees: die Bybel kan nie letterlik EN  figuurlik verstaan word nie. Nêrens het die metafoor nog ooit so gewerk nie.

    Dit is dus te verstane dat die Christen gelowige die letterlikheid van die Bybel moet verdedig, en dit is wat die sogenaamde Kreasionis doen. Dit wat in die Bybel staan, moet “waar” bewys word en dit moet wetenskaplik waar bewys word. Veral twee mites, die sondvloed, en die maagdelike geboorte van Christus, word dikwels “wetenskaplik waar” bewys. Terselfdertyd moet die evolusieleer afgekraak word, want dit weerspreek dit wat in die Bybel staan, en dit mag nie wees nie. God is mos almagtig en alwetend en daarom is die Bybel die primêre bron en korrek. Die mitologie van die Bybel word egter vir die kreasionis ’n verleentheid, daarom vermy hy dit, en ook die woord “God”, en praat hy maar liewer van ’n Intelligente ontwerper. Baie van hulle is ook knap wetenskaplikes, baie aanvaar die evolusiemodel, want hulle weet daarsonder is die wetenskap onverstaanbaar. Baie beveg die evolusieteorie ter wille van hulle geloof.

    Die posisie van die wetenskaplike in hierdie debat is moeiliker om te bepaal. Baie, ek sou sê, die meeste weet nie eens daarvan nie, of as hulle daarvan bewus is, steur hulle hulle nie daaraan nie. Hulle bestaan uit ateïste, Christene, Boeddhiste, Islam, haas elke geloof waaraan ’n mens kan dink. Uiteindelik is dit die ateïs en die evolusieteorie wat die aanslag van die Kreasionis moet verduur. Die ateïs word uitgekryt as immoreel, word uitgesluit van sekere beroepe, en selfs ’n Amerikaanse presidente verklaar dat ateïste nie burgerskap van sy land behoort te verkry nie. Darwin moet persoonlike aanvalle van Christene verduur en sy werk waaraan hy baie jare bestee het en baie navorsing gedoen het, word as apeteorie bestempel.

     Moet dus nie Richard Dawkins et al dit kwalik neem as hulle die mat onder die Christendom se voete uitruk nie. 

     Groete,  Angus

  • Kobus de Klerk

    Nee Angus, die Woord handel nie met en oor ’n ‘ander’ werklikheid as die een waarin ons leef, nie – die Woord handel met ook met dáárdie deel van die werklikheid waarvoor julle as ateïstiese agnostici geen persepsie (wil?) het, nie.

    Die spirituele werklikheid is net so werklik soos die fisiese werklikheid en as dit nie vir die spirituele werklikheid was nie, sou die fisiese werklikheid nie bestaan het, nie. Alles wat fisies plaasvind, het ’n spirituele oorsaak – daardie oorsaak en gevolg werklikheid.

    Bykans 98% van die mensdom erken en herken en beleef dié spirituele werklikheid. Julle kan ook, maar wil net eenvoudig, nie. Jou aandrang om die Bybel as geheel en al simbolies af te maak, is gewoon maar ’n verskoning vir jouself as ateïs, in die eerste plek, om nie die werklikheid wat daarin behandel word, te hoef aanvaar nie en daarom maak dit nie vir jou saak dat jy eintlik onderlangs van beter weet, maar eerder daardie wete sal opoffer ter wille van die ateïstiese fasade, nie.

    Géén helderdenkende, eerlike mens sal werklik die inhoud van die Bybel só sien, nie. Die hele relaas wat jy gee, oor die simboliek van die Bybel, is opsetlik oordrewe – nêrens sal jy ’n enkele brief of mededeling van my kan opper waar ek sê dat die Bybel as geheel simbolies gelees moet word, nie – maar jy sal wel heelwat kry waar ek verduidelik dat sommige van die verduidelikings in die Bybel simbolies aangebied word om die werklikhede, die feite, wat die simboliek onderlê, mee te verduidelik.

    Dít is wat ek telkens sê en jy weet dit want jy lees dit, net soos enigeen anders. Om dus my woorde so te verdraai, flous niemand, omdat algar kan lees wat ek skrywe en is dit nie net ’n poging om oneerlik met jouself te wees nie, maar dui ook op die uiterstes waartoe jy sal gaan om eenvoudig net nie die alledaagse werklikheid van die Woord in die Bybel opgeteken, te aanvaar, nie. Die Woord in die Bybel is alles behalwe mitologie – dit is geskiedkundige en huidige werklikheid. Maar, jou selfdesepsie daaromtrent is al só diep gewortel, dat jy nie meer kan onderskei tussen die fabels van ouds (1 Timoteus 4:7) wat verval en verdwyn het, nie en die werklikheid van die Woord wat vandag nog sou sterk geld as duisende jare gelede.

    Trouens, die einste Woord wat jy in jou agnostisiteit as mite probeer afmaak, waarsku in werklikheid al vir meer as die afgelope tweeduisend jaar al, dat julle as agnostici juis nie in staat sal wees om meer onderskeid tussen werklikheid en mitologiese fabel te tref, nie – sien gerus weer 2 Timoteus 4:3-4. Hoe ironies - só bevestig en bewaarheid julle die Woord keer op keer onwetend, terwyl julle dit as fabels en mites wil probeer afmaak – en blyk dit self nie eens te besef, nie.

    Ten slotte kan jy blykbaar ook nie begryp wat ek sê, nie.

    Geen ware gelowiges probeer die Woord bewys of verdedig, nie – dit is julle stuitige bewering. Jy is ook baie inkonsekwent – lees maar jou kommentare in die afgelope tyd, hoe jy my juis verwyt dat ek sê die Woord behoef geen bewyse, nie. Maar nou pas dit jou om te beweer dat ons dit probeer ‘verdedig’. Dit wat in die Woord vir jou na mites lyk en dit is blykbaar alles, is maar net dinge wat jou begripsvermoë daaromtrent te bowe, gaan. Dit beteken egter nie ek moet dit aan jou sal of moet bewys nie – dit beteken jy moet jou regruk en ook op hoogte kom soos miljoene ander gelowige mense.

    Omdat daar eersteklas ooggetuie getuienis is oor die maagdelike geboorte van die HERE Jesus Christus en die ooggetuie getuienis deur oorlewering van die sondvloed, en dit ook vir jou gerief opgeteken, is, is dit vir jou om so te aanvaar omdat jy geeneen van die twee, kan weerlê, nie. Al wat jy kan sê, is dat die vlak van kennis waaroor julle op hierdie stadium beskik, julle nie toelaat om dit te verstaan, nie. Dan sal jy mos eerlik wees. Daar is absoluut geen mites aan die Woord weergawe daarvan, verbonde, nie. As jy dit beweer, sal jý dit moet bewys.

    En daar is nog ’n baie belangrike maar eenvoudige punt wat julle mis – anders as wat jy te kenne gee, is daar géén rede waarom die gelowige die Woord aan enigeen van julle sal wil probeer bewys, nie – omdat júlle siening daaromtrent absoluut géén effek hoegenaamd, het op die saligheid van enige gelowige, nie. Dus, of jy glo of nie, of jý bewys verg al dan nie, het geen invloed op my, as gelowige, se verhouding met God en my toekoms met Hom, nie. Ek het ook nie nodig om enigiets te bewys om ’n verhouding met God te hê, nie. Die beweerde kwessie van die bewys en ‘verdedig’ van die Woord, asof dít is wat die gelowige wil of moet doen, asof die gelowige nodig het om enigiets daarvan te doen vir sy saligheid, is dus ’n versinsel van julle – dit is júlle wat behep en obsessief is oor en met, die Woord en die God van die Woord.

    Ten beste verduidelik ons vir julle – bloot om die sinneloosheid en oningeligtheid en wanbegrippe wat julle so vertroetel, uit te wys en aan die lig te laat kom – vir julle eie beswil. Ons stel nie in die minste belang om die Woord te verdedig óf te bewys, nie. Teen wat? Wie? Julle sinnelose bewerings daaromtrent? Nee, wat. Ons weet wat ons aan die Woord het en beskou julle uitlatings daaroor, as jammerlik insigloos en onkundig. Dalk moet jy hierdie eenvoudige kwessie onder die knie, kry.

    Die Bybel is dus ’n versameling van Godgeïnspireerde Woord van ooggetuies en betrokkenes wie soms gebruik maak van alledaagse metafoor en simboliek om die betrokke werklike geskiedkundige gebeure, insigte, wedervaringe en gewaarwordinge, in die Spirituele konteks en verband daarvan,  mee te beskrywe.

    Die Woord is in die essensie daarvan eersteklas betroubare inligting oor alles waarmee die Woord  handel.

    Wat Dawkins aanbetref wanneer dit by sake Gods, kom, gedra hy hom onvolwasse en kinderagtig en emosioneel onbeheersd. Hy is dan vir ons ’n karikatuur. Dit is nie in sy vermoë of enige kombinasie van sy soort, om die ‘mat onder die Christendom se voete’ uit te ruk, nie. Jy weet, met dié kinderagtige, oningeligte ‘aanspraak’ laat jy my dink aan die satanistiese heavy metal knaap Marilyn Manson, ’n gruwelike karikatuur van ’n mens met wie dinge ook maar bitter skeef geloop het iewers, wat ook sulke belaglike aansprake maak … insiggewend waar jy onwetend jóú inspirasie vandaan kry … en dit is beslis nie ’n veertjie in jou hoed, nie … hy toon dieselfde obsessies as julle.

    Kobus de Klerk

  • Chris Dippenaar

    Na amper 500 woorde sê onse Kosie: "Ten slotte ...", en gaan dan aan met nog 650 woorde. Hy kan homself eenvoudig nie help nie.

  • Kobus de Klerk

    Is nodig, Chris. Met julle, ten minste waar dit met sake Gods te make het, is daar mos nie die goeie begrip wat met die halwe woord kan regkom, nie. Vir julle klompie agnostici moet mens dit in die fynste besonderhede uitspel – en dan verstaan jul dit meestal steeds nie. Ten minste is dit dan nie te wyte aan gebrek aan verduideliking, nie – maar gebrek aan begrip.

    Kyk byvoorbeeld na jou eie opmerkings ...

    Kobus de Klerk

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top