
Nooit is ’n lang, lang tyd
deur Anchien Troskie
Uitgewer: Kwela Books
ISBN: 9780795702778
Klik hier en koop Nooit is ’n lang, lang tyd nou by kalahari.net!
Van die onthutsende donker dieptes van haar outobiografiese debuut, Dis ek, Anna tot ’n veerligte wals getitel Nooit is ’n lang, lang tyd het Anchien Troskie slegs vier jaar benodig om die suksesvolste Afrikaanse skrywer in baie jare te word. Die sukses – gemeet in harde verkoopsyfers in stede van postmodernistiese ontledings en leunstoel-filosowe se kreun-geskrifte in koerantbylaes – het ook weer eens bewys dat skrywersreputasie hier meer bepalend as die invloed van die resensie is. Vir die reputasie, sien die reaksie op, en 50 000-plus verkope van, Troskie se Dis ek, Anna. Dié boek, wat weens die diepe persoonlike aard daarvan en die tema van kindermishandeling onder die skuilnaam Elbie Lötter gepubliseer is, was soos ’n emmer koue water oor die kop. Dis ’n tydlose dokument, oorspronklik in sy brutale eerlikheid, wat die naam Troskie in die Suid-Afrikaanse lektuur gaan verewig.
Nooit is ’n lang, lang tyd sal waarskynlik nie vir só lank onthou word nie. Trouens, in die stywe wandelgange waar die serieuse Afrikaanse kritici uithang, sal dié boek seker nie eers gebruik word om die debatkamer se deur oop te hou nie. Maar betreffende leesplesier en onopgesmukte pret kan ek aan veel erger dinge dink om te doen as om ’n paar ure te kuier saam met die susters van Sandfontein.
Sandfontein is die fiktiewe plattelandse dorp wat as agtergrond dien vir die wel en wee van drie lewenslange vriendinne in die 40's. Twee – Karien en Amelia - is getroud en gekind. En aangesien hierdie ’n Afrikaanse boek is, geskryf deur ’n Afrikaanse vrou, is nie een van die twee vrouens gelukkig getroud nie. Maar manslesers kan begin ontspan: anders as feministiese kruistogte – soos Marlene van Niekerk se knaterkraker Agaat – hoef jy nie hierdie boek met ’n aluminium-onderbroek aan te lees nie.
Die derde vrou, die sexy, blonde Daleen, is enkellopend maar in ’n hartstogtelike verhouding. Die kompleksiteit van Daleen se smagting na “Jan”, asook die redes vir haar vriendinne se onderskeie ongelukkige huwelike, moet kans kry om te ontrafel.
Sandfondtein mag klein wees, maar daar is net nie genoeg plek om asem te haal en om sin te maak van als wat die vroue in hul middeljare tref nie. Hiervoor word ’n twee week lange vakansie aangepak te Jeffreysbaai. En nie sommer ’n gemaklike heen-en-weer-gevlieg na ’n tyddeelwoonstel nie. (Die huis in Provence was nog nie een van dié Afrikaanse dames beskore nie.) Nee, met Daleen se avontuurlus, Amelia se liefde vir kook en Karien se behoefte aan emosionele ontlading, is die “road-trip” net die ding.
Jy kan sommer die refrein van die poplied “Sisters are doing it for themselves” hoor soos die viertrek wegry, rigting kuslyn.
Dit is egter sommer gou-gou duidelik dat hierdie geen jolliepatrollie gaan wees nie, en die redes word afgewissel deur dialoog tussen die karakters, asook elkeen se verskillende gedagtes.
Daar is Amelia, getroud met die sagmoedige reus van ’n boer genaamd Gert. Materieel het sy als wat haar hart begeer, maar dis nie genoeg nie. Sy wil as huishoudkunde-onderwyseres by die skool werk, maar is bang dat Gert haar professionele ambisies sal teenstaan. Vrou se plek, en al daardie dinge. Daar is ook ’n bietjie sout in hierdie reeds gapende wond: Gert die boer het ’n ietwat onwillige roer, en Amelia smag na vleeslike passie.
Karien was bestem om ’n skrywer te wees voordat die aantreklike tandarts genaamd Dawid haar voete onder haar uitgeslaan het. Verder het kinders en huishou nie daardie onderdrukte muse veel speelkans gegee nie. Voeg hierby ’n ontevredenheid oor haar ouvrou-lyf en die feit dat Dawid homself Don Juan hou deur die dorp se vrouens een na die ander te diens, en Karien is verstaanbaar depressief én roekeloos. (Sien die hoofstuk waar sy tydens die vakansie die blonde surfer se “jong, groot voël” (bl 143) wraggies op ’n strand betas.) Trouens, wat betref probleme – geestelik en lyflik – is Karien die hoofkarakter.
Karien en Amelia beny natuurlik vir Daleen. Sy het ’n loopbaan – dokter. En sy bly ondanks ’n enorme eetlus skraal en mooi deur daagliks te draf dat die sweet spat. Dan het Daleen ook nie die bagasie van ’n huwelik om aan te swoeg nie.
Maar is haar situasie besig om te verander?
Die drie kom sonder veel moeite op Jeffreysbaai aan en bevind hulle in ’n vakansiewoonstel. Bestanddele soos om deurgaans in mekaar se geselskap te wees, hulle onderskeie probleme en ’n gedurige gedrink, en die resep vir drama is vervolmaak.
Die ontknoping hou ’n kinkel of twee in, en ek gaan dit maar vir die leser hou om self uit te vind, met rede: die ontknopings geskied in ’n gedeelte van die boek wat minder vlot en onderhoudend geskryf is as die res daarvan, en die verrassingselement sorg darem dat die stuk dooie bladsye – so net ná die middel van die boek – opgekikker word.
Hierdie stuk teks is te dik van die strompelende dialoog, baie daarvan geforseerd: “Ek weet dat ek julle geskok het met my onthulling. Ek het verwag dit sal ’n skok wees, maar het tog gehoop dat een van julle gaan sê dat julle dit lankal weet, of ten minste vermoed. Jy weet, soos in die movies” (bl 215).
Die gepratery en bieg en verwyt raak nie net te veel vir die leser nie – Karien vlieg op en skoert terug na Sandfontein om haar probleme tromp-op te loop. En haar vertrek dien as daardie moment van verandering waarom storielyne lief is om te draai.
Die drie bevind hulle dus terug op die dorp, maar in veranderende omstandighede. Amelia werk aan haar onvervulde huwelik, en sit terselfdertyd haar voet neer oor haar professionele ambisies. Karien wys vir Dawid wat hy met sy tandarts- en ander boor kan maak. Maar Daleen, die sorgvrye en lewenslustige een wat die moedigste ontboeseming maak, val die hardste grond toe.
Die storie is ’n onweerstaanbaar genotvolle uitbeelding van karakters wat vir baie lesers bekend en alledaags sal wees. Troskie se karakterisering is raakvas, en hulle behou karakter en geloofwaardigheid namate hulle ontwikkel of agteruitgaan. Die skrywer ry treffend wipplank met haar karakters se emosies, en sorg soms dat die leser saam op daardie rit geneem word.
Hierdie is natuurlike, vlot storievertel in die hande van ’n behendige skrywer. Die behendigheid en selfversekerdheid wil mens egter laat hoop dat Troskie in die toekoms bietjie meer sal waag. Gesien in die lig van Dis ek, Anna mag hierdie stelling sinneloos klink, wat dit uiteraard wel mag wees, aangesien opinies persoonlik van aard is. Met waag word egter nie skok of die wegdoen van preutsheid bedoel nie. Die handeling kon gebaat het by bietjie meer aan die kant van gebeure en aksies. En van die humor waaroor die bemarkingstof praat, is daar min te bespeur.
Maar dit is net die tipe versoeke wat jy maak as daar op nóg aangedring word.

