Dikwels bevark iemand 'n vriend, familielid of selfs gesinslid en die verskoning is altyd 'besigheid'. "Jammer ou vriend, niks persoonliks nie, dis besigheid."
'n Jarelange vriendskap word vernietig, of onmin word in die familie geskep omdat dit onvermydelik was in die proses van welvaartskepping. Dit is egter die kar voor die perde span. Jy skep persoonlike welvaart vir die koop en handhaaf van lewensgehalte en as vrede en vriendskap ondergeskik is aan dertig sikkels silwer dan is daar fout (dit is natuurlik 'n ander saak as jy finansieel gaan sink omdat jy nie 'n vriend of familielid in ag moet neem).
So is dit dan ook met Afrikaans. Dit is NIE reg om jou kind Engels te maak omdat jý voel jou kind is dan besigheidsgewys bevoordeel nie; dit is 'n manifestasie van jóú minderwaardigheidsgevoel. Daar is niks wat sê jou kind is van die soort wat moet transformeer om 'n sukses van sy lewe te maak nie.
Dit behoort teen die grondwet te wees dat ouers besluit om hulle kinders Engels, of Katoliek, of Protestants, of ateïsties of volksvreemd of wat ookal te maak (is kindermishandeling nie in elk geval teen die grondwet nie?). Dit geld natuurlik vir almal, ook die groepie van twaalf of vyftien Zoeloekindertjies wat by 'n skool opdaag en eis om in Engels onderrig te word. As jy nou mooi daaraan dink; dit is nie die kindertjies nie, waar sal sesjariges nou met openbare vervoer na 'n skool toe ry; dis die ouers. Wat van die onderwysers se regte? Maar ek dwaal af, dis seker 'n ander debat.
Jan Rap

