Ek hoor haar nog lank voor ek sien wie dit is. Skel-skel kom sy in en raas met iemand wat nie hier is nie. Maar sy raas solat ek moet hoor. Eks net rustig aan't sit en het net my sigaretkaarte begin regkry vir die "callcentres" wat my mal gaan bel Maandag toe die pleit al rasende ingestrompel kom. Klong oppie heup. Slonserige denimbroek en hemp wat skeefgetrek is oor die kwyldeurdrenkte ou baadjie deur die kind wat my met groot oë en snotneus aanstaar.
"Meneer, Meneer moet die Boere bel. Die moer het my al weer geslaan. Die kind moes gesig innie gras lê en hy wou my trap, meneer"
"Eks nie 'n meneer nie," sug ek uit my stoel uit. "Wat gaan nou weer aan?"
Sy kyk my ongelowig aan asof ek doof was met die eerste uitbarsting en las sommer by: "Meneer, hy is dronk. Meneer moet die Boere bel want hy het my gedonner meneer en gesê hy gaan my nog goed donner. Dis die kind meneer, dink aan die kind."
En daar het sy my. Lyn en sinker de lot. Want mens moenie met klogoete mors nie. Ek gee vir die laggende hanne 'n Chomp en hy suig aan die plestiek. Heeltemal te jonk om hom met sulke twak opgeskeep te hou. Tog die onwillige slagoffer van die bottel.
"Beduie vir my wat gaan aan, want ek gaan nie die Boere se tyd mors nie."
"Hy het my geslaan meneer, my in die gras ingestoot en gesê hy gaan my … meneer, die kind het hard geval, meneer ..." en ek luister nie veel verder nie en kyk maar of ek bloed sien aan die in vele opsigte klassieke gelaat. Ek sien nie knoppe of skrape of bloed nie en ek dank die gode want ek is oor die algemeen redelik keelvol vir bloed en bloederigheid. Die kind lag in my rigting en ek beduie vir haar dat sy die chomp moet oopmaak voor die klong die ding plestiek en al verorber. "Sal meneer my help?"
"Ja, ek bel gou. Maar maak net vir die kind die lekker oop voor hy die hele plek vol kwyl. Het hy al kos gehad vandag?"
"Ja, meneer, hy het vanoggend geëet."
"Wat?"
"'n Yoghurt, meneer."
"Fokverdomp! Ek donner jou sommer self in die van in as ek my sin kry!"
Ek bel maar die nood se nommer en genadiglik is die diens so kak soos wat die koerante en gerugte gedurig beduie. Want so met die pogings deur strompel 'Ta in en hy vlieg sommer weg met: “Meneer, sy lieg vir meneer! Sy wil hier onner by die kantien bly en ek het gesê dit word laat en dit reën en ons moet huis toe," beduie hy vir my met die pocket artappels goed gebalanseer op die een skouer, groen Pick 'n Pay-sak vol ek vermoed ek weet wat in innie ander hand. "Ek wil huistoe, meneer, maar sy willie. Jy weet mos wie ekke is," en ek sit die foon neer want ek sien hiers nou 'n "domestic" soos lanklaas beleef. Ek hoop om die "staat" darem 'n rand of sestig te spaar in die proses.
"Ek sê julle wat: Sit bietjie rustig en maak net die donnerse Chomp vir die klong oop en dan raak julle eers rustig." Herhaal ek myself onbewus. Klein gesin sit en die klong sit en suig rustig aan sy Chomp wat ek maar self moes oopspook so tussen die spoeg deur en ek sien dat dinge rustig raak want Wille man praat nie meer van haar as "daai bliksemse vrou wat ek in Oudtshoorn moes gelos het" nie. Sy is nou "Bokkie" en "Liefie" en ek het maar ingestap want eks nie lus laatmiddag vir 'n spoeguitruil-sessie nie.
Dit was nie 10 minute nie toe die chaos losbars. Mammie histeries aan’t beduie dat die Boere moet kom want hulle het haar man gedonner. "Ag, herre tog, wat nou weer?"
"Meneer, ons het net hier gesit en toe kom hierdie man (ek sien hom al doer padop loop) kom en my man sommer neer slaan teen die grond. Bel die Boere, meneer, want wie is hy om sommer aan my man te kom slaan? Bel die Boere!"
Snotneus-klong sukkel tussen die gedoente deur en ek sien hy loop met 'n Lunch Bar en ek dink aan wat my ouditeur gaan roggel as ek die verliese probeer regverdig en ek beduie vir J om net die klong onner beheer te kry en te kom beduie wat gebeur het. Deon sê nee, hy het die hele besigheid gesien: Wille Wragtag het kans gesien om te spook met die man en die man het hom toe maar net so met die oopvuis weggekeer. En toe val Willewragtig lat hy nou nog lê. Ek ondersoek en sien weereens nie bloed en gekoekte hare nie en ek hoor Wille Wragtag snork vreedsaam onbewus van die hele doenigheid.
"Gaan julle nie die Boere bel nie?" beduie mammie. Ek beduie dat ek nie die polieste se tyd gaan mors nie en dat sy na haar kind moet omsien want hy is besig om al my tjoklits nat te suig en as hy eers gesuig het is dit mos syne. Ek kan mos nie die goed vir iemand anders gee nie? Sy vloek sewe vloeke en sukkel pad op om te loop hulp soek. Wille Wragtag het 'n uur of wat rustig gelê en Jannie het maar die klong geselskap gehou terwyl die ma wie weet waar is. Ek het my vermoedens.
Ek sien hulle hier kort voor die son ondergaan en die drie loop druk en praat. Sy lag en hy is haastig want hy beduie dat die klong moet kooi toe gaan want hy het anner planne. Ek het nie die woorde gehoor nie maar my oog het sy hand gevang soos hy hier na die agterstewe beweeg het. Ek is bly die boere het nooit opgedaag nie, want dan het sy heel waarskynlik alleen geslaap vanaand.
oester

