
Foto: Canva
Ballingskap
in ballingskap resoneer rymlose segmente
met dae soos korrels in ’n woordelys
te min vir die ink in sy pen
te veel vir die letters op ’n bladsy
dae gaan lê in stukkende paragrawe
in halfgeskrewe reëls
en die sluier word slu gelig
om die buitelyne van ’n blik
te vergelyk met die stilte in oë
en hy wat veroordeling ken
staan beskut binne ’n tydkapsule
is ligsensitief vir sy inkvloeisels
vir sy verdoemende gedagtes
agter ’n sesvoetmuur
maar soms word ’n flikkering
tog waargeneem duskant kontoere
wat soos die oë van ’n ou man lyk
maar niks kon hom voorberei
teen die dekor van ’n skaduwêreld
en dit wat hom gevonnis het
om te skryf totdat die horison val
totdat hy ontneem word van sy bewussyn
en die ryp dik lê in elke liggaamsdeel.


Kommentaar
Goed beskryf en verwoord, Marius. Daar is soveel waarde in jou as digter - welgedaan.
Baie baie mooi Marius, amper in die mistigheid van netnou sien, as die son die mis wegdryf met sy hitte.