Ballade vir Oktober
Ek wil bietjie weg, my skat,
wil die grootpad vat
na Namakwaland.
Jy kan jou nukke hou
ek soek die blou –
jy kan my nie keer
of smeek om hier te bly ...
ek is in ’n wegloopbui.
Ek't reeds my tas gepak, ja,
en ek is op pad na
weg van hier en jou.
Ek's moeg van jou huis, kombuis,
soek die paradys –
jy kan my nie volg
of probeer om my te kry ...
ek's in ’n wegloopbui.
O ja, en voor ek weer vergeet,
sal jy darem weet
hoe skink mens self ’n bier?
Miskien sal jy gou-gou sien
jy moet jouself bedien –
want ek is nie hier,
dis net jy wat bly ...
onthou, ek's in ’n wegloopbui.
Ek wonder, sal ek dalk moet hike
of is ’n bus orraait
om tot daar te kom?
Namakwaland is ver van hier,
dit kan ’n tydjie duur –
maar dit skeel my nie veel,
al moet ek op ’n donkie ry ...
ek's nog steeds in ’n wegloopbui.
Maar moenie worry, my ding,
ek sal jou blomme bring
al is hul als verlep.
Ek móét net ’n draai gaan maak
waar dit so stil kan raak –
vir ’n oomblik
wil ek vat aan die lug se blou ...
dan sal ek wéér wegloop
terug na jou!
![]() |



