Ballade van Bertus
Bertus woon by die see op ’n ou, ou berg
sy kolestoof het ’n stem soos ’n diva
wat bly sing deur die nag, deur sy been en sy merg
tot die skrynende noot begin pla.
Dan loop Bertus deur die huis, maak tee in die kombuis
sy koppie se piering lankal uitgebreek
en met die stoom in sy hand, agter die nag se sluis
hoor hy Diva sug en smorend smeek:
Refrein:
Jy, ja, jy met jou donker jas
jy dra dit wat in ’n boks moet pas.
Jy, ja, jy met jou donker jas
jy dra dit wat in ’n boks moet pas.
Bertus dra graag sy jas van gitswart leer
die punte waai soos hy draai op die podium
want hy is ook akteur, hy’s James Bond met geweer
tot die gordyne sak en vervreem.
Dan jaag Bertus na die huis, maak tee in die kombuis
’n nonnetjiesuiltjie buite op ’n geut
en met die stoom in sy hand, met ’n gebalde vuis
hoor hy Diva sug soos een wat weet:
Refrein:
Jy, ja, jy met jou donker jas
jy dra dit wat in ’n boks moet pas.
Jy, ja, jy met jou donker jas
jy dra dit wat in ’n boks moet pas.
Bertus droom van die see op ’n rooi, rooi uur
’n skaduwee by die deur langs die varkoor
en drie vreemdes die streel oor sy jas en klavier
dis die treurigste noot wat hy hoor.
Dan loop hulle deur sy huis, maak tee in die kombuis
sy goedjies en drome sommerso verniel
en by die stoof op die vloer met sy arms gekruis
hoor hy Diva sug, so uit haar siel:
Refrein:
Jy, ja, jy met jou donker jas
jy dra dit wat in ’n boks moet pas.
Jy, ja, jy met jou donker jas
jy dra dit wat in ’n boks moet pas.
Jy, ja, jy, Bertus jy.
![]() |



