Ek is ’n meestersstudent in die Departement Plantpatologie aan die Universiteit Stellenbosch, onder leiding van L Mostert. Ek het ’n passie vir natuurlewe en biologie en het daarom besluit om my graad in molekulêre biologie en biotegnologie te doen. My belangstelling in mikrobiologie en die toepassing daarvan het vinnig verdiep en sodoende aanleiding gegee tot die keuse om my nagraadse studies in plantpatologie voort te sit. Die doel van navorsing in plantpatologie is om die impak van patogene op oeste te verminder en op daardie manier momentum aan voedselproduksie te verleen. My missie is om my studies te voltooi en aan te hou met navorsing, om moontlik op hierdie manier tot voedselsekerheid in Suid-Afrika by te dra.