Ek is 'n meestersstudent in ekotoksologie (die studie van die interaksies tussen gifstowwe en die natuurlike omgewing) by die Potchefstroomkampus van die Noordwes-Universiteit (NWU). Ek is passievol oor die natuur, en spesifiek die see, vandat ek kan onthou.
Natuurlik het die NWU nie seebiologie nie, maar prof Henk Bouwman het op mariene ekotoksologie begin fokus. Ek was deel van 'n navorsingspan na die klein eiland Rodrigues, en twee amper verlate eilandsisteme – Agalega en St Brandons – in die Indiese Oseaan. Daar het ek korale versamel. Ek gaan vir die volgende paar jaar probeer bepaal hoeveel van watter tipes gifstowwe in hierdie korale is, en hoe op aarde hulle in 'n sisteem met minimale menslike invloed gekom het.