TT Cloete

Theunis Theodorus Cloete is op 31 Mei 1924 op Vredefort in die Vrystaat gebore. Hy matrikuleer in 1941 aan die Monument Hoërskool, Krugersdorp, en gaan daarna na die Universiteit van Pretoria. Sy studie word na die eerste studiejaar onderbreek deur ’n lang siekbed.

Hy hervat sy studies in 1945 aan die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys en behaal sy BA (1946) en MA (1947) in Afrikaans-Nederlands, en daarna die Universiteitsonderwysdiploma (1948), almal met onderskeiding. In 1949 is hy tydelik dosent aan die PU vir CHO en onderwyser aan die Hoërskool Gimnasium.

Einde 1949 vertrek hy na Nederland vir verdere studie en behaal Januarie 1953 die graad D Litt et Phil. aan die Gemeentelike Universiteit, Amsterdam.

Februarie 1953 aanvaar hy ’n lektoraat in Afrikaans-Nederlands aan die PU vir CHO, word later daar senior lektor, en word in 1962 bevorder tot professor.

Met die stigting van die Universiteit van Port Elizabeth aanvaar hy in 1965 ’n professoraat in Afrikaans & Nederlands en Algemene Taal- en Literatuurwetenskap aan dié universiteit, waar hy ook soms waarneem as rektor. Hy word die eerste dekaan van die Fakulteit Lettere daar en dien as lid van die Senaat in die Universiteit.

In 1976 word die SA Akademie se Gustav Preller-prys vir Literatuurwetenskaplike navorsing aan hom toegeken asook die ASB se oorkonde vir die uitbouing van Afrikaanse vakliteratuur vir gebruik aan hoër opvoedkundige inrigtings.

Hy is die skrywer van meer as ’n honderd-en-vyftig wetenskaplike artikels oor sy vakgebied en meer as ’n twintigtal boeke en monografieë. Hy lewer bydraes tot ’n twintigtal versamelstudies.

Hy het verskillende vertalings uit die Franse letterkunde gedoen.

In 1980 maak hy op 56 sy digterlike debuut met Angelliera, wat deur D.J. Opperman as “koningskos” verwelkom word. Hierna verskyn Jukstaposisie (1982), Allotroop (1985), Idiolek (1986), Driepas (1989), Met die aarde praat (1992) en Uit die hoek van my oog (1998). Hy ontvang verskeie literêre toekennings vir sy poësie, onder meer die Ingrid Jonker-debuutprys, die Hofmeyr-prys (in 1981, 1986 en 1990), die Louis Luyt-toekenning, die CNA-prys, die Rapport-prys, en die Hertzogprys (in 1987 en 1993). Hy het ook twee kortprosabundels gepubliseer, Die waarheid gelieg (1984) en Identikit (1997), en ’n drama, Onderhoud met ’n bobbejaan (1986).

Sy nuutste bundel Heilige nuuskierigheid, het in 2007 by Tafelberg-Uitgewers verskyn.




Opgedateer/Updated: 2007-05-23
Bio-inligting verouderd? Stuur 'n e-pos aan bio@litnet.co.za 
Bio-info dated? Send an e-mail to bio@litnet.co.za

Joan Hambidge in gesprek met TT Cloete oor sy jongste bundel Heilige Nuuskierigheid

Joan Hambidge, TT Cloete Skrywersonderhoude 2008-05-06

"Ek haal gedigte uit alles vandaan, uit die musiek, die skilderkuns, die beeldhoukuns."

TT Cloete se ''rykdom van die onvoltooide'': Andries Visagie voer 'n onderhoud met TT Cloete
2007

Andries Visagie, TT Cloete 2007-06-29 U het reeds ’n negetal digbundels gepubliseer sedert u debuut in 1980 met Angelliera. Is dit vir u belangrik om elke dag met die poësie besig te wees of kry u eerder sporadies die inspirasie om die pen op te neem? Kortom, hoe gaan u te ...
Top