Thijs Nel

Thijs Nel is in 1943 in die distrik Waterberg in die ou Noordwes-Transvaal gebore. Hy matrikuleer aan die Hoër Landbouskool Merensky by Tzaneen en na sy studie in die Skone Kunste aan die Universiteit van die Witwatersrand word hy in 1955 as kunsredakteur van Die Vaderland aangestel. Tussen 1970 en 1975 woon, studeer en werk hy in Parys, waar hy hom veral op litografie toespits. Dié periode sou later ’n belangrike invloed op hom as kunstenaar hê. Sedert die vroeë 1990’s werk hy ook met klei. ’n Hele aantal van sy keramiekstukke bevat Oudtshoorn-“goud”, Nel se benaming vir die klei van Oudtshoorn. Sedert 1997 woon hy permanent in Oudtshoorn.

 

Thijs het al meer as 40 uitstallings wêreldwyd gehou, en van sy kunswerke is in talle museums en private versamelings opgeneem.

In 2003 ontvang hy die Universiteit van Pretoria se Erepenning vir sy bydrae tot kuns in Suid-Afrika en die KKNK se Kanna-toekenning vir die beste visuele-kunste-bydrae. In 2005 ontwerp Thijs die Kanna-trofee. (Die Kanna-toekennings vereer nie net die gewildste en beste opvoerings nie, maar erken ook prestasie deur kunstenaars, regisseurs en tegnici in ’n verskeidenheid kunssoorte.) Ook is hy in 2005 benoem as internasionale visuele kunstenaar van die jaar deur die International Biographical Centre in Cambridge.

Onder opdragwerk tel die 1971-muurskilderye in die eetkamer van die Amadeus Mozart-skool in Bois d’Arcy, Frankryk, die dekor vir Pacofs se produksie van Don Pasquale, en etlike fonteine vir bekende tuine, onder andere die Vrede vir Afrika-fontein op die kampus van die Universiteit van Pretoria. Thijs skryf enkele dramas wat deur Potchefstroom Universiteit se Drama-department opgevoer word: Fleur de lys (1985), Fluit vir die vlieë (1987, met Sandra Prinsloo en Ben Kruger, regie Ilse van Hemert. Prinsloo is bekroon met die Vita en Dalro vir beste aktrise), In memoriam patris (1988) en Brief vir die Harlekyn (2007, met Paul Eilers en vir die KKNK).

’n Anderster soort word in 1997 deur Human & Rousseau gepubliseer. Volgens Thijs is “mooiheid die enigste ding wat vergestalt of vasgevang kan word op só ’n manier dat dit die mens geheel en al kan bevredig: intellektueel, fisiek en geestelik”.

CJ Langenhoven as kunstenaar
2005

Thijs Nel 2007-06-13 Langenhoven het gesê: Onsterflikheid kan maar na die dood kom. Onthou dit, o kunstenaar, en wees getroos. [1] In sy volgende spreuk volg hy dit op met: Daar is geen kuns by sukkel nie en geen sukkel by kuns nie. [2] Elders het hy ...
Top