In die Suid-Afrikaanse vermaaklikheidsindustrie is Pedro Kruger uniek in wat hy doen: ’n TV-aanbieder en -akteur wat ewe goed kan sing, komponeer, klavier speel en stories vertel. Op TV het ons hom ontmoet in Liriekeraai. Sy verhoogproduksies Blougat, Lyf, Dinsdae by Morrie en Op die vrou af was almal wegholtreffers. Van sy verhoogproduksies was ook in Edinburgh, Londen, Nederland en New York te sien.
Pedro se warm, innemende persoonlikheid maak sy eie televisiereeks, Klavierkuiers met Pedro, een van Afrikaanse TV se grootste suksesverhale. Die reeks is reeds vir ’n ATKV Mediaveertjie en ’n SAFTA vir beste musiekvermaaklikheidsprogram benoem. Pedro is ook benoem vir ’n ATKV Mediaveertjie vir beste TV-aanbieder.
Hy en Hennie van Greunen besit saam Wordsmith’s Theatre Factory, ’n teatermaatskappy wat TV- en korporatiewe teater vervaardig en vanjaar 20 jaar oud is. Wordsmith’s Theatre Factory het ook hande gevat met die Curro Groep en saam bestuur hulle Curro Create.
As Pedro nie self op die teaterverhoog staan nie, doen hy regie, musikale regie en baie werk as MC by funksies en groot korporatiewe geleenthede.