Ek is ʼn gekwalifiseerde bedryfsielkundige en tans ʼn voltydse doktorsgraadstudent in bedryfsielkunde aan die Universiteit Stellenbosch. My doktorale studie handel oor die voortslepende krisis waarin basiese onderwys in Suid-Afrika verkeer.
Ek erken dat daar nie ’n eenvoudige oplossing vir hierdie krisis is nie. Nogtans glo ek dat dit belangrik is om navorsing te doen oor die wyse waarop onderwysers probleme en uitdagings wat die gehalte van onderrig in menige publieke skool kniehalter, hanteer.
Empiriese bevindinge behoort waardevolle insig te verskaf oor die funksionering van onderwysers ten einde weldeurdagte praktiese stappe te doen om alle onderwysers toe te rus met doeltreffende hanteringstrategieë. Sodoende kan my studie help om werkbare oplossings te identifiseer wat uitnemende onderrig kan verseker.