Natalie Smith het haar loopbaan as onderwyser begin en ’n groot liefde vir assesseringspraktyke ontwikkel. Deur met verskeie assesseringsmetodes te eksperimenteer, kon sy leerders aanmoedig om hul akademiese uitdagings in positiewe leergeleenthede te omskep. Sy het later ’n pos by die Noord-Kaapse Departement van Onderwys se eksamen- en assesseringsdirektoraat aanvaar en dis hier waar sy meer betrokke geraak het by aangeleenthede betreffende assessering. Tydens haar dienstydperk het sy assesseringspraktyke onder die loep geneem en leiding aan onderwysers gebied rakende assesseringspraktyke. In 2016 word sy aangestel as administrateur vir Praktiese Onderwys by Sol Plaatje-universiteit (SPU) in Kimberley (Suid-Afrika). Hier was sy verantwoordelik daarvoor om ondersteuning aan studente te bied rakende lesvoorbereiding, die gebruik van onderwyshulpmiddels, asook lesaanbieding. Dit is ook hier waar sy ontdek het dat die rol van assessering nie voldoende tydens lesaanbieding aangespreek word nie. Dit het haar aangespoor om die rol van assessering in die klaskamer met haar MEd-verhandeling onder die vergrootglas te plaas en spesifiek te verwys na hoe formatiewe assessering aangewend kan word vir algehele taalontwikkeling. Natalie is voorts aangestel as junior lektor (Afrikaans-onderrig) in die Skool vir Opvoedkunde aan SPU, waar sy die geleentheid gebruik om alternatiewe metodes van assessering onder die loep te neem. Haar navorsing handel oor leierskapontwikkeling in die onderwys, taalonderrig, transformatiewe assesseringsmetodologieë, asook transformatiewe sosiale geregtigheid. Sy is tans besig met haar PhD met die fokus op transformatiewe assesseringspedagogiek.