Matthias Pauwels (Brugge, België, 1975) is ’n kulturele en politieke filosoof verbonde aan die Noordwes-Universiteit. Na sy BA- en MA-studies in filosofie aan die Erasmus Universiteit Rotterdam (Nederland) het hy in 2015 die DPhil-graad in filosofie aan die Universiteit van Pretoria behaal met ’n proefskrif oor die verhouding tussen estetiek en politiek in die werk van die hedendaagse Franse filosoof Jacques Rancière. Hy het ook ’n MSc-graad in argitektuur (Katolieke Universiteit Leuven, België, 1999).
Pauwels se navorsing is interdissiplinêr en benewens estetiese, kulturele en politieke filosofie sluit dit velde soos die teorie van sosiale en politieke kuns, stedelike studies, argitektuurkritiek en Lacaniaanse psigoanalise in. In sy huidige postdoktorale navorsingsprojek ondersoek hy die talryke maniere waarop estetiek en politiek met mekaar verweef is in die hedendaagse, post-/neokoloniale Suid-Afrika, met name binne die sfere van politieke kuns, populêre kultuur en radikale dekoloniseringspolitiek. Gevallestudies sluit kunswerke in van Brett Murray, Sethembile Msezane en Dean Hutton, die kulturele aktivisme van die Tokolos Stencil Kollektief en die #RhodesMustFall-studentebeweging, asook die party-estetiek van die Economic Freedom Fighters. Die voorgaande word krities ondersoek aan die hand van tersaaklike konseptuele raamwerke soos kulturele dekolonisering, filistinisme, estetiese politiek, somaestetiek en die politiek van marginalisering. Sy navorsing is in onder andere vaktydskrifte soos Cultural Politics, Psychoanalysis, Culture & Society, Journal of the British Society for Phenomenology, South African Journal of Philosophy, Theoria, De Arte, Acta Academica, Tydskrif vir Geesteswetenskappe en Journal of Literary Studies gepubliseer.
Hy het ook tien jaar lank die onafhanklike navorsingspraktyk Bavo saam met die argitek-filosoof Gideon Boie in Rotterdam, Nederland gelei. Hulle het verskeie werke oor kulturele vorme van aktivisme gepubliseer, soos die geredigeerde volume Cultural activism today: The art of over-identification (Episode, 2007) en die monografie Too active to act: Cultureel activisme na het einde van de geschiedenis (Valiz, 2010). ’n Ander invloedryke publikasie van Bavo is die geredigeerde volume Urban politics now: Re-imagining democracy in the neoliberal city (NAi, 2007).