Mark Ingle is in Oos-Londen gebore, maar het aan die Oos-Rand grootgeword. Hy het 18 jaar lank by IBM in Johannesburg gewerk, waartydens hy ’n BA aan die Universiteit van die Witwatersrand verwerf het, met Klassieke Studies en Filosofie as hoofvakke. In 1994, nadat hy onverwags die huis bekom het waarin Sir Laurens van der Post gebore is, het hy na Philippolis, in die Vrystaat, getrek. As die eienaar van die Van der Post Gastehuis het hy geleer broodbak en kosmaak, en hy het die kuns om skerpioene en slange stilletjies uit gaste se slaapkamers te verwyder, vervolmaak.
In 2005 het hy ’n meestersgraad in ontwikkelingstudies aan die Universiteit van die Vrystaat (UV) verwerf en in 2012 is ’n doktorsgraad by hierdie universiteit aan hom toegeken vir ’n tesis getiteld “Human and social capital formation in South Africa’s arid areas”. Hy het ongeveer 30 artikels in vakjoernale in die algemene veld van ontwikkelingstudies gepubliseer. Hy is ’n navorsingsvennoot by die Sentrum vir Ontwikkelingsondersteuning by die UV en is ook saam met sy vrou, Doreen Atkinson, mededirekteur van die Heartland Karoo Institute in Philippolis.
Ten spyte daarvan dat hulle twee tienerdogters het, is Mark nog nie op Facebook nie en het hy nie ’n BlackBerry nie.