Lonkie Mackenzie matrikuleer in 1961 aan Vryheid Hoërskool in KwaZulu-Natal. Daarna bekwaam sy haarself in Pretoria as algemene verpleegster en vroedvrou. Sy trou in 1967 met Basil en hulle reis die wêreld plat. Na die geboorte van haar vier kinders – kort na mekaar – skryf Lonkie op 38, so tussen borsvoeding-sessies deur, in as eerstejaar by Rhodes-universiteit. Kort daarna behaal sy 'n BA-graad met Afrikaans-Nederlands as een van haar hoofvakke. In 1990 behaal sy Honneurs, en in 1990 voltooi sy 'n MA-verhandeling onder leiding van André P Brink met 'n ondersoek na feministiese vertelstrategieë in Ons is nie almal so nie van Jeanne Goosen.
Vir enkele jare daarna is Lonkie assistentdosent in Rhodes se Departement Afrikaans en Nederlands. Terselfdertyd los sy af as skoolverpleegster by St Andrew’s College en DSG op Grahamstad. In 1997 word sy gevra om Afrikaans Eerste Taal by dié skole op die been te bring. Na tien besonder gelukkige jare in die onderwys lê aftrede nou net om die draai. Lonkie sê sy kan nie wag vir haar aftrede nie, want “mog ek dan nooit weer iemand hoef te assesseer nie!”