Leendert Dekker

Sewentig jaar gelede het ek op Potchefstroom gematrikuleer, is daar en elders opgelei in die letterkunde, was agtereenvolgens Latyn-onderwyser, universiteitsdosent in Afrikaans en Nederlands, toe subredakteur van die WAT op Stellenbosch. Ek het grootgeword in ‘n tyd van norme en waardes, neem nou waar dat die postmodernisme dit na “korrektheid en waardes” verander het, en soek nog ‘n bietjie na balans. In my tyd moes ek twee maal die ideologiese proses van allesomvattende mitologisering met gepaardgaande sanktifisering, demonisering en heksifisering meemaak. Nie een van die twee kante se sinte lyk vir my in die minste heilig nie, hoewel ek groot respek en dank teenoor ‘n paar koester, en ek kyk met deernis en ‘n mate van wanhoop na die ontelbare korrektes.

 Ek het my naastes graag met limeriekies oor gebeurtenissies vermaak. Ek het my al hoe meer verbaas oor die perfektheid vir sy doel van dié reëlgebonde digvormpie met sy dertien anapestiese versvoete, vyf versreëls en vaste rymskema. Dit het ‘n dinkmedium geword waarmee ek verskynsels wou orden. Mettertyd het dinge vanself in ‘n anapestiese waas aan my begin verskyn. Partykeer kon ek ‘n gediggie daaruit laat kristalliseer. Toe ontdek ek dat hierdie digvorm, die kroegvliegie van die letterkunde, ook diepsinniger dinge kan dra. Die mistiek van die stiergeveg en ‘n kwarteeu se worsteling met Picasso se Guernica kon byvoorbeeld in limeriekvorm tot rus kom. Ook het ek soms die uiterlike struktuur behou, maar dit gewoon as stramien vir totaal ontipiese materiaal gebruik.

Picasso skilder

Leendert Dekker 2013-10-01 Die limeriek is 'n kort, humoristiese, dikwels nonsens-gedig met 'n spesifieke vorm. Lees wat maak Leendert Dekker daarmee (en met vyf van Picasso se skilderye).
Top