Krystle Ontong is ’n dosent in die Departement Kurrikulumstudie, Fakulteit Opvoedkunde, aan die Universiteit Stellenbosch. Sy doen navorsing en gee onderrig in die vakgebied Geografie-onderwys met spesifieke verwysing na plek- en grondbewustheid. Krystle het al haar kwalifikasies aan die Universiteit Stellenbosch verwerf, waarvan die eerste drie cum laude toegeken is. Sedert 2016 beklee sy die pos as dosent in die Departement Kurrikulumstudie, waar sy steeds geografie aan voor- en nagraadse studente onderrig. Haar navorsing fokus veral op vernuwende pedagogieë om geografie-onderrig meer interessant en relevant te maak. Tot dusver het sy hoofsaaklik die teoretiese en empiriese skakels tussen die konsepte plek, ruimte, grond, omgewing en volhoubaarheid binne die konteks van geografie- en omgewingsonderwys verken. Sy bestuur ook verskeie projekte om geografie-ongeletterdheid in minderbevoorregte skole aan te spreek. Haar nuutste projek wat deur die NNF befonds is, behels die verkenning van Grondgebaseerde onderwys (binne kritiese menslike geografie) as ’n potensiële pedagogiek om vroeë skoolverlaters in informele nedersettings in hoofstroomonderwys te (her)integreer. Krystle het al in verskeie geakkrediteerde plaaslike en internasionale vaktydskrifte gepubliseer en is ook ’n lid van die Southern African Geography Teachers’ Association (SAGTA). Sy dien ook in die redaksieraad van ’n ewekniegeëvalueerde internasionale vaktydskrif vir geografie-onderrig en -navorsing. Krystle het reeds by meer as tien internasionale en plaaslike kongresse seminare aangebied en onder andere ook verskeie artikels en proefskrifte beoordeel.