Judy van Heerden

Judy van Heerden is verbonde aan die Departement Vroeë Kinderonderwys in die Fakulteit Opvoedkunde aan die Universiteit van Pretoria. Sy doseer vroeë kinderontwikkelingstudies, asook natuurwetenskap en tegnologie in die grondslagfase. Sy is ook ’n pakketkoördineerder van die voorgraadse BEd-program en gemoeid met praktiese onderwys by kleuterskole. Verskeie honneurs-, magister- en doktorale studente het al hulle nagraadse kwalifikasies suksesvol onder haar leiding voltooi.

In haar doktorale tesis het Judy navorsing gedoen oor gehalte in Suid-Afrikaanse kleuterskole en hoe begunstigdes soos ouers en onderwysers gehalte verstaan. Ander navorsingsbelangstellings sluit in: spelgebaseerde leer en kreatiwiteit; buitespel en leer in en deur die natuur; en kuns, wetenskap en tegnologie in die grondslagfase. Gespesialiseerde leer- en onderrigbenaderings op die gebied van vroeë kinderonderwys, soos die Reggio Emilia-benadering, lê haar ook na aan die hart.

Judy is die skrywer van akademiese artikels en ’n medeskrywer van hoofstukke in vakkundige navorsingsboeke. Drie handboeke vir onderwysstudente oor wetenskap en tegnologie het ook uit haar pen verskyn. Sy het al vele voordragte by konferensies plaaslik en internasionaal gelewer en bied as vakspesialisadviseur ook gereeld werkswinkels vir onderwysers aan.

Judy is ’n laureaatwenner vir vernuwende onderwys by die Universiteit van Pretoria vir die ontwikkeling van kurrikulum- en leermateriaal. Sy is van mening dat eerstehandse ervarings en aktiewe deelname noodsaaklik is om nuwe kennis en vaardighede te bemeester. Sy poog om teoretiese onderbou en praktiese implementering te integreer in leer en onderrig, sowel as in navorsing, en strewe daarna om sodoende toekomstige en huidige onderwysers te inspireer en hulle bewus te maak van interessante, nuwe ontwikkelings op die gebied van vroeë kinderonderwys.

Support strategies for behavioural competency of foundation phase learners with attention deficit/hyperactivity disorder

Ronel Wiese, Linda Bosman, Judy van Heerden, Ina Joubert Academic research 2018-03-27

"Teachers can implement suitable support strategies identified in this study in their teaching methods and initiate programmes at their schools to support competent behaviour of learners with ADHD."

Ondersteuningstrategieë vir gedragsbevoegdheid by grondslagfaseleerders met aandagtekort-/hiperaktiwiteitsversteuring

Ronel Wiese, Linda Bosman, Judy van Heerden, Ina Joubert LitNet Akademies (Opvoedkunde) 2018-03-27

"Onoplettendheid, impulsiwiteit en hiperaktiwiteit het tot gevolg dat leerders nie presteer volgens hulle volle potensiaal nie, nie ontwikkel soos hulle moet nie en nie die mylpale bereik wat deur die jaar aan hulle gestel word nie."

Top