Grootword op Saldanhabaai aan die Weskus was verantwoordelik vir Johan Bakkes se liefde vir avontuur, reis en die natuur. Saam met Militêre Akademie-studente het ’n agtjarige tjokkertjie gaan “vasbyt” in die Sederberge.
Na sy skooldae by Afrikaans Hoër Seunskool het RGN-opnames van die hoogsbetaalde professies ’n buitemuurse student aan Tukkies ’n geoktroieerde rekenmeester en ouditeur laat loop staan en word.
Twee botsende beginsels, synde lewenstandaard en lewenskwaliteit, het egter ’n agtienuur-werksdag bevraagteken en vroeg-vroeg, na militêre opleiding, is aftrede sonder finansiële rugsteun oorweeg. Die groot droom was om as professioneel gekwalifiseerde boemelaar diens te doen. Twee kindertjies en ’n oordrewe sin vir verantwoordelikheid het sommerso wegloop in die wiele gery. Daar is besluit om ’n “hoogleraar” te word en as professor aan Unisa is studente in die rekenmeesterprofessie opgelei.
Daar was nou ’n bietjie tyd – en met rugsak en 4x4 het ’n safaribesigheidjie, Induku, Afrika ingevaar. So ook, as logistieke organiseerder en deelnemer aan verskeie ekspedisies, is die dood vir mediadoeleindes in die gesig gestaar. Alles net om te reis en te beleef.
En nou? Tans is hy verbonde aan die Universiteit van die Wes-Kaap en iewers in die Paarl woonagtig.
Hy het reeds twee kortverhaalbundels gepubliseer:
Moer toe die vreemde in en
Nou's ons in ons donner in
Opgedateer/Updated: 2007-01-29
Bio-inligting verouderd? Stuur 'n e-pos aan bio@litnet.co.za
Bio-info dated? Send an e-mail to bio@litnet.co.za