Janus van As is tans ’n akademiese koördineerder in die Departement Huisartskunde en Primêre Sorg aan die Universiteit van die Witwatersrand. Sy rol is om ’n gemengdeleerstrategie te ontwikkel en te implementeer. Janus het sy beroep in die akademie begin as administrateur van die Nagraadse Onderwyssertifikaat in 2010. Daarna het hy begin werk aan die ontwikkeling van gemengdeleer-akademiesegeletterdheidsprogramme vir die Universiteit van Pretoria. Aan die einde van 2015 het Janus by die Universiteit Stellenbosch aangesluit en die Eenheid vir Leertegnologie by die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe gestig. Sy rol hier was om leierskap met betrekking tot gemengde leer in die Fakulteit te bied en om leertegnologieprojekte te bestuur. Janus het in 2018 na Engeland verhuis om te begin met ’n doktorsgraad en terselfdertyd die leertegnologie-portefeulje by die besigheidskool aan Glasgow Caledonian Universiteit op die been te bring. Hier was hy aktief betrokke by die ontwikkeling van nuwe MSc-programme en gehaltebestuur van programme. Hy beskik onder andere oor ’n BEd VOO van Natuurwetenskap (2011) aan die Universiteit van Pretoria, ’n BSc Honneurs in Plantwetenskap (2014) aan die Universiteit van Pretoria, en ’n MBA in Finansies en Beleggingsbestuur (2013) aan die Universiteit van Gloucestershire. Janus is tans besig met ’n doktorsgraad wat handel oor die bestuur van leeruitnemendheid in voorgraadse programme. Sy navorsingsbelangstellings sluit in die bestuur van leeruitnemendheid in voorgraadse programme, die strukturering van diep en betekenisvolle leer in gemengde en aanlyn leer, leertegnologie-innovasies en vaardigheidsgebaseerde onderwys.