Ian matrikuleer in 1979 aan die Hoër Volkskool Potchefstroom. Hy studeer daarna aan Noordwes-Universiteit en behaal die grade BA en BA Hons (Grieks). Hy studeer verder aan die Universiteit van die Vrystaat en behaal die grade MA (Grieks), BTh en MTh (Nuwe Testament). Hy voltooi in 1996 sy doktorale studie aan die Universiteit van Pretoria en doen werk oor vormgewing in die prediking onder leiding van Cas Vos. Na sy studies doen hy diensplig as lugmagkapelaan te Bloemspruit Lugmagbasis. In 1990 word hy na die Suidkus-gemeente in Amanzimtoti beroep en in 1997 na die Sonstraal-gemeente in Durbanville.
Hy begin op 1 Julie 2007 in die Fakulteit Teologie aan die Universiteit Stellenbosch as senior lektor in praktiese teologie en missiologie binne die vakgebied bedieningspraktyk en leierskap doseer. Op 1 Julie 2012 word hy tot medeprofessor bevorder en op 1 Julie 2016 tot vol professor. Hy is onder andere die programkoördineerder van die professionele MDiv-graad en die Nagraadse Diploma in Kerklike Bediening. Hy is ook die akademiese koördineerder van ’n meestersgraad in missionale leierskap. Sy navorsingsbelangstelling is gerig op leierskapvorming en -onderrig by jongmense en volwassenes, die bedieningspraktyke van geloofsgemeenskappe (gemeentes) en die openbare rol van die kerk in die samelewing.