Herman du Toit is in 1948 op Parys in die destydse Oranje-Vrystaat gebore en matrikuleer in 1965 aan die Hoërskool Sasolburg. Hy studeer aan die Universiteit van Pretoria, waar hy die grade BA (1969), BA Hons (1970), MA (1973) en DLitt (1984) behaal. Hy word in 1972 as lektor aangestel in die Departement Grieks aan die Universiteit van Pretoria en in 1980 tot senior lektor bevorder. Van 1975 tot 1977 doen hy navorsing vir sy proefskrif aan die Universiteit van Keulen (Duitsland) en die Universiteit van Indiana (VSA). Van 1985 tot 1990 is hy professor en hoof van die Departement Klassieke aan die Universiteit van Zoeloeland, waar hy ook van 1986 tot 1990 as visedekaan van die Fakulteit Lettere dien.
Hy word in 1990 aangestel as direkteur: Universiteits- en Onderwysersopleiding-programme in die Departement Nasionale Opvoeding, en in 1994 oorgeplaas na die nasionale Departement van Onderwys, waar hy onder meer lid is van die skryfspan van die Groenskrif vir Hoër Onderwys. Van 2001 tot 2004 werk hy as konsultant by die Hoër Onderwys-kwaliteitskomitee van die Raad vir Hoër Onderwys, waar hy betrokke is in die ontwikkeling en implementering van ’n gehalteversekeringstelsel vir hoër onderwys in Suid-Afrika. Hy bestuur van 2005 tot 2008 die Finland-Suid-Afrika-projek vir gehaltebevordering in saamgesmelte en voorheen benadeelde inrigtings.
Hy dien van 2006 tot 2014 as 'n brontaalkenner vir Die Bybel: ’n Direkte Vertaling en is mederedakteur van die Interliniêre Bybel: Nuwe Testament (Grieks-Afrikaans) (2012).
Hy is navorsingsgenoot in die Departement Nuwe Testament van die Universiteit van die Vrystaat en sy belangstellingsveld is Grieks (veral die Nuwe Testament) en algemene taalwetenskap.