Hennie Barnard is in 1962 gebore op Rustenburg waar hy sy matriek in 1980 by Hoërskool Rustenburg voltooi het. Hy is direk na skool weermag toe en sluit by 32 Bn aan nadat hy op Infanterieskool, Oudtshoorn, die juniorleierskursus voltooi het. Hy begin sy ingenieurstudie by the gewese Pretoria Technikon en werk uiteindelik twee jaar vir Siemens en 11 jaar vir Eskom voordat hy vir homself begin werk. Hennie is sedertdien die eienaar van EEU Personeel, ’n tegniesepersoneelagentskap, en ook die besturende direkteur van EEU Taltronics (Edms) Bpk, ’n maatskappy wat 24/7-beheerkamers ontwerp en met grootskaalse videomure toerus. Hy het na 10 jaar se gekombineerde voltydse en deeltydse studie in 1999 ’n doktorsgraad in tegnologie in elektriese ingenieurswese behaal. Hy is getroud met Trix, ’n verpleegkundige werksaam in haar eie gevestigde privaat praktyk. Hulle het ’n dogter Ryna, wat so pas by US afgestudeer het as bedryfsingenieur, en woon in Edleen, Kempton Park. Hy hou daarvan om (veral) oorsee te reis en speel graag muurbal. Hy het heelwat vakkundige publikasies agter sy naam en geniet dit om aktief deel te wees van briefwisseling en die lug van opinies in koerante.