François is gebore op die plaas Vreugde in Noordwes, waar hy nog ’n skaap- en beesboer is. Andersins is hy ’n opkomende kunstenaar wat vele hoede probeer dra, onder meer as akteur, skrywer, regisseur en vervaardiger, in beide film en teater. Hy het sy honneursgraad in drama en teaterstudie: toneelspel in 2015 by die Universiteit Stellenbosch olv die meesterlike Marthinus Basson gekry, en het daarna ’n paar projekte aangepak, wat die bekwame hibriede film (deels rolprent en deels dokumentêr) Alison insluit. Hy het die rol van Tiaan Eilerd vertolk.
François het sy eie werk begin skep toe hy die benoude landskap van die Suid-Afrikaanse vermaaklikheidsbedryf gewaar het, en het saam met die talentvolle musikant, ontwerper en regisseur Peter Crafford ’n produksiemaatskappy, THOC (The House of Creatives) in 2016 gestig. Hulle het Bacchus in Hillbrow onder hierdie maatskappy geskep, waar hy die teks geskryf het en ook in die stuk speel. Peter behartig die regie. Hy doen ook die regie vir sy volgende selfgeskrewe teaterstuk, Wanneer wolke sing, met Elzabé Zietsman in die hoofrol, wat op die Vrystaat Kunstefees 2017 gaan debuteer. Verder gaan Bacchus ook na ander feeste en stede toer.
Tussendeur teater werk hy ook aan die teks van ’n nuwe film wat in die 1980’s afspeel met die titel Johannes. Hy probeer soveel as moontlik self te skep en nie te wag vir werk nie. Sy groot droom is om oorspronklike stories met interessante karakters met gehore regoor die hele wêreld te deel.