Akademies:
Flip Buys het in 1988 ’n graad in Kommunikasiekunde met Politieke Wetenskap aan die Potchefstroomse Universiteit (PUK) verwerf. Hy het in 1992 ’n honneursgraad in Arbeidsverhoudinge aan die destydse RAU behaal. Hy was lid van PUK se studenteraad, voorsitter van die skaakklub, ondervoorsitter van die sendingdiensorganisasie, Hulpprojek, en redakteur van die meningstydskrif Perspektief. Hy het ook later kursusse in Politieke Ekonomie aan die Universiteit van die Witwatersrand (Wits) en in Projekbestuur aan die Noordwes-Universiteit (NWU) gevolg. Hy het op skool provinsiale klere in skaak verwerf.
Loopbaan:
Flip het sy loopbaan as ’n arbeidsverhoudinge-beampte by Eskom begin. In 1990 het hy na aanleiding van die veranderings in die land besluit om by die Mynwerkersunie (MWU) aan te sluit om te help om ’n sterk Afrikanerbeweging te bou. Tydens sy honneursstudie in Arbeidsverhoudinge het Flip ’n studie van internasionale vakbonde begin maak. Hy het gekyk na die rol wat Christelike vakbonde in Europa gespeel het om hul lande ná die Tweede Wêreldoorlog weer op te bou. Hy het ook die rol wat die Poolse antikommunistiese vakbond Solidariteit in die val van die kommunisme gespeel het, ondersoek. Hy het veral belanggestel in die Israelse vakbondbeweging, die Histadrut. Hierdie beweging het onder leiding van David Ben-Gurion en Golda Meir gehelp om Israel op te bou deur kibboetse, skole, fabrieke, banke en hospitale te vestig en uiteindelik ’n hele ekonomie te ontwikkel. Ná ’n besoek aan Israel en ontmoetings met die Christelike vakbondbewegings in Nederland en Vlaandere, was hy daarvan oortuig dat die MWU tot ’n familie van organisasies uitgebou kon word om Afrikaners en Afrikaans in ’n nuwe, ANC-oorheersde bedeling te beskerm.
Ná sy verkiesing as hoof van die MWU het hy begin om ’n sterk span leiers byeen te bring om hierdie strategie stelselmatig in praktyk te omskep. Sy resep was “skeppende vernuwing gegrond op beproefde waardes”. Die eerste stap het behels om die MWU tot Solidariteit uit te bou deur die organisasie te herskep, te moderniseer en na die hele werksmag uit te brei.
Daarna is Solidariteit tot die Solidariteit Beweging uitgebou deur die stigting van die volgende organisasies op werks-, burgerregte-, Afrikaanse taal en kultuur-, maatskaplike, finansiële, opleidings- en mediagebied:
- die Solidariteit Boufonds;
- die Solidariteit Beleggingsmaatskappy wat uit verskeie ondernemings bestaan;
- Solidariteit Helpende Hand;
- AfriForum;
- Sol-Tech;
- Maroela Media;
- Akademia;
- Kanton Eiendomme; en
- verskeie ander instellings
Die Solidariteit Beweging is verder uitgebrei deur die insluiting van selfstandige organisasies soos onder meer die FAK, wat tot ’n nasionale rolspeler uitgebou is. Die Beweging bestaan tans uit ’n “familie” van meer as 20 organisasies en verteenwoordig meer as 600 000 gesinne.
Die Solidariteit Beweging het ook vennootskappe met ander Afrikaanse organisasies gesluit en daardeur gehelp om historiese monumente soos die Voortrekkermonument te bewaar. Talle projekte om Afrikaans te bevorder word onderneem soos bystand aan onafhanklike gemeenskapsradiostasies.
Flip is die voorsitter van die Solidariteit Beweging.
Ander posisies:
Flip is die voorsitter van AfriForum en die Solidariteit Helpende Hand en is ondervoorsitter van Pretoria FM. Hy is ’n trustee van die Dagbreek Trust en die Trust vir Afrikaanse Onderwys en is ’n direkteur van Akademia, die Solidariteit Beleggingsmaatskappy (SBM), Kanton Eiendomme en die FAK. Hy is ook betrokke by verskeie ander instellings, trusts en gemeenskapsorganisasies. Hy is ’n lid van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns en was vir drie termyne ’n raadslid van die Noordwes-Universiteit.
Algemeen:
Flip is getroud met Melanie, ’n onderwysspesialis.