Febe de Wet het in 1993 ’n BIng (Universiteit Stellenbosch) en in 1998 ’n MIng (Universiteit van Pretoria) in Elektroniese Ingenieurswese behaal. In 2003 het sy ’n PhD van die Radboud Universiteit in Nijmegen, Nederland verwerf vir navorsing op die gebied van robuuste outomatiese spraakherkenning. Sy is tans ’n lid van die Syferseinverwerkingsgroep aan die Universiteit Stellenbosch se Departement Elektriese en Elektroniese Ingenieurswese. Haar navorsingsbelangstellings sluit statistiese patroonherkenning, ontwikkeling van spraakhulpbronne en outomatiese spraakherkenning in. Sy is veral geïnteresseerd in die ontwikkeling van taaltegnologie vir die inheemse tale van Suid-Afrika en in opvoedkundige toepassings van spraaktegnologie.