E.C. Schlemmer is sedert 1991 ’n toegelate advokaat van die hooggeregshof van Suid-Afrika. Sy is sedert 2021 die dekaan/hoof van die Skool vir Regsgeleerdheid aan die Universiteit van die Witwatersrand en ook ’n professor in regsgeleerdheid aan dié instelling sedert 2011. Sy het haar regstudies aan die Randse Afrikaanse Universiteit voltooi met die grade BA (Regte) LLB en LLM, waarna sy ’n verdere LLM-graad aan die Westfälische Wilhelms-Universität Münster in Duitsland voltooi. Haar doktorsgraad verwerf sy aan die Randse Afrikaanse Universiteit en sy begin haar voltydse akademiese loopbaan by die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa) in 1993. Vir ’n kort tydjie keer sy terug na haar alma mater, maar spandeer ’n verdere tien jaar by Unisa voordat sy in 2011 by Wits se Skool vir Regsgeleerdheid aansluit.
Haar navorsingsfokus strek oor die breë velde van die internasionale ekonomiese reg, internasionale beleggingsreg, internasionale handels-/sakereg, en saaklike en persoonlike sekerheidsregte. Die raakpunte tussen hierdie regsgebiede bied ’n unieke ruimte waar privaatregtelike leerstellings ’n belangrike rol speel, veral met betrekking tot kredietsekerheid en saaklike sekerheidsregte. Sy is die outeur van verskeie publikasies in nasionale en internasionale tydskrifte en boeke, en is die ontvanger van die Tijdschrift voor Privaatrecht se Wisselleerstoel: Zuid-Afrika in 2014-2015. Sy is verbonde aan die redaksionele adviesraad van die Tydskrif vir Hedendaagse Romeins-Hollandse Reg (THRHR) en die Asian Yearbook of International Economic Law.