Christa Rautenbach is in 1962 in Potchefstroom gebore. Sy het op ’n plaas in die voormalige Wes-Transvaal grootgeword en in 1980 aan die Hoërskool Carletonville gematrikuleer. Sy begin haar loopbaan by Departement Justisie in 1981 en studeer terselfdertyd aan die voormalige Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys (nou die Noordwes-Universiteit (Potchefstroomkampus)) waar sy die grade B Iuris (cum laude), LLB (cum laude), LLM en LLD verwerf. Vanaf 1 Mei 1994 is sy verbonde aan die Noordwes-Universiteit, aanvanklik as lektor en sedert 2000 as professor in die regsgeleerdheid. Christa is die skrywer, redakteur of medeskrywer van ’n aantal regsboeke, waarvan die meeste in sowel Engels as Afrikaans verskyn het en waarvan verskeie meerdere uitgawes beleef het. Voorts het sy meer as 60 internasionale en nasionale artikels, aantekeninge, resensies, rubrieke en vonnisbesprekings in regstydskrifte die lig laat sien.Sy is tesourier van die Genootskap van Regsdosente van Suidelike Afrika sedert 2003, alumnus van die Alexander von Humboldt Stiftung sedert 2006 en toegelate advokaat van die Hoë Hof van Suid-Afrika sedert 1987. Sy is ook Kommissaris van die Hof van Klein Eise van Potchefstroom sedert 1995. Sy is die trotse moeder van twee dogters en ouma van twee kleindogters.