Antoinette Olivier het al vir bykans 30 jaar 'n huis op Stilbaai. Sy is ongeveer ses jaar gelede met Fanie Olivier getroud en hulle het vir drie jaar in Poznan, Pole gewoon en gereis voordat hulle weer finaal na Suid-Afrika teruggekeer het en soos die rich en stinking rich tussen Stilbaai en Pennington (waar Fanie 'n huis het) al om die ses maande begin pendel het.
Sy skryf al vir so lank as wat sy kan onthou stories vir haar kleinkinders wat sy sommer self uitgegee het. Gedigte vir die lekker en vir die laaie. Vandat sy met 'n taal- en letterkundige getroud is, wat geen respek vir 'n rooipen het nie, het haar skryfwerk taamlik verskraal. Sy spits haar nou toe op haar ander jare lange liefde, naamlik kwiltwerk vir haar kinders en kleinkinders en sommer vir haarself omdat dit vir haar terapeuties en ontspannend is. Verder hou sy van kosmaak en geniet sy haar Stilbaai-tuin geweldig. Om nie te praat van reis as sy dit kan bekostig nie!
Sy skryf graag gedigte en kort humoristiese stories. Sy het 'n bundel haikoes, optelklippies, in 2017 gepubliseer. Sy het in dieselfde jaar 'n praatjie oor die haikoe by Boekbedonnerd gelewer.
Haar werk is in die volgende bundels en versamelde werke gepubliseer:
- Gedig opgeneem in as die son kom oogknip (2002), saamgestel deur Fanie Olivier 2002.
- ’n Kortverhaal, in Die melkweg het 'n ster laat val (2006 ), saamgestel deur Riana Scheepers
- ’n Paar verse vir kleuters in Riana Scheepers se Nuwe kleuterverseboek (2009)
- Verhale en gedigte opgeneem in die volgende saamgestelde publikasies van Stilbaai Skryfkring: Onder een hoed, Skulp teen die oor en Rondomtalie.
- Gedig aanvaar vir die Avbob-projek "Ek wou nog sê" in 2018.
- Iewers, êrens in Sarie ’n stukkie vonkfiksie getitled "Slingerpad"
- 'n Bundel haikoes, Optelklippies (2017)